"Die mond is te geheim" deur Pieter Odendaal

  • 0

Die mond is te geheim

ek eet en ek sluk en ek gorrel en ek droom
met hierdie holte deur twee pienk lippe omsoom
dis die gat in my klipkop wat die woordverkeer
tussen my en die res van die wêreld beheer

my mond is die geweer my asem die buskruit
wat ek gebruik om woorde wyd en syd te skiet
met die sneller van my tong versprei my lied
deur skares heen soos nuus van onverwagte reën

Koor:

my tong is ’n vlam hoor hoe knetter die klank
koeplette uit my keel wat ’n toekoms help verbeel
waar ons die lig op mekaar se lippe kan lees
en almal vlamme van dieselfde vuur kan wees

my voorouers het met honger monde en wonde
uit die noorde ontsnap en sonde hier kom pleeg
met elke stad en steeg is tale gestil
soveel tonge omgebind soveel mense verslind

die sterre het lankal hul Khoi-name vergeet
elke keer as ek praat onthou ek wat ek weet
dis die lont van my taal wat dreig om te ontplof
om te vergeet van gister se bloed en se stof

Koor:

my tong is ’n vlam hoor hoe knetter die klank
koeplette uit my keel wat ’n toekoms help verbeel
waar ons die lig op mekaar se lippe kan lees
en almal vlamme van dieselfde vuur kan wees

my mond kan ook liefhê  en soene teen jou slape lê
my mond ken jou elektriese lyf kan duiwels uit jou dryf
hy ken die woestyn van jou vel jou dors enkels
jou palms die walms van jou nek

maar die mond is te geheim om pyn nie te voel nie
as jy nie Breyten lees nie sal jy nie weet wat ek bedoel nie
daarom dat woorde lewens so maklik in die bek ruk
en ons aan ons eie tonge laat verstik

Koor:

my tong is ’n vlam hoor hoe knetter die klank
koeplette uit my keel wat ’n toekoms help verbeel
waar ons die lig op mekaar se lippe kan lees
en almal vlamme van dieselfde vuur kan wees

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top