Die mond is te geheim
ek eet en ek sluk en ek gorrel en ek droom
met hierdie holte deur twee pienk lippe omsoom
dis die gat in my klipkop wat die woordverkeer
tussen my en die res van die wêreld beheer
my mond is die geweer my asem die buskruit
wat ek gebruik om woorde wyd en syd te skiet
met die sneller van my tong versprei my lied
deur skares heen soos nuus van onverwagte reën
Koor:
my tong is ’n vlam hoor hoe knetter die klank
koeplette uit my keel wat ’n toekoms help verbeel
waar ons die lig op mekaar se lippe kan lees
en almal vlamme van dieselfde vuur kan wees
my voorouers het met honger monde en wonde
uit die noorde ontsnap en sonde hier kom pleeg
met elke stad en steeg is tale gestil
soveel tonge omgebind soveel mense verslind
die sterre het lankal hul Khoi-name vergeet
elke keer as ek praat onthou ek wat ek weet
dis die lont van my taal wat dreig om te ontplof
om te vergeet van gister se bloed en se stof
Koor:
my tong is ’n vlam hoor hoe knetter die klank
koeplette uit my keel wat ’n toekoms help verbeel
waar ons die lig op mekaar se lippe kan lees
en almal vlamme van dieselfde vuur kan wees
my mond kan ook liefhê en soene teen jou slape lê
my mond ken jou elektriese lyf kan duiwels uit jou dryf
hy ken die woestyn van jou vel jou dors enkels
jou palms die walms van jou nek
maar die mond is te geheim om pyn nie te voel nie
as jy nie Breyten lees nie sal jy nie weet wat ek bedoel nie
daarom dat woorde lewens so maklik in die bek ruk
en ons aan ons eie tonge laat verstik
Koor:
my tong is ’n vlam hoor hoe knetter die klank
koeplette uit my keel wat ’n toekoms help verbeel
waar ons die lig op mekaar se lippe kan lees
en almal vlamme van dieselfde vuur kan wees
![]() |