Die mentaliteit van monokultuur

  • 7

Die “trots Afrikaanses” van Stellenbosch, die laaste generasie wat in Afrikaans daar verder kon studeer, voel klaarblyklik nou vere vir die volgende geslagte wat nie hierdie voorreg sal hê nie.

Die mentaliteit van monokultuur, wat ook tot die verarming van die ekologie in die natuur gelei het, en al ʼn aanloop gehad het in die koloniale era, spoel nou oor na die kulturele dimensie van ons bestaan in hierdie land. Die tragiese gevolg van hierdie koloniale mentaliteit, soos Neville Alexander dit genoem het, is ʼn toenemende onverdraagsaamheid teenoor alles wat nie inpas by die groot gelykmaker van kulture nie.

Waarin die koloniseerder grotendeels geslaag het, was om ʼn gees van minderwaardigheid teenoor die inheemse tale en kulture te vestig, veral ook by die inheemse gemeenskappe self.

En nou, ten spyte van navorsingsresultate oor dekades wat die teendeel bewys het, word daar met eentonige reëlmaat ʼn aantal pseudo-argumente deur die “colonised of the mind” (Ngũgĩ wa Thiong'o) aangevoer om die hakke in te skop ten gunste van die monokultuur. Weens die beperkte ruimte, stel ek die opvattings net aan die orde.

Pseudo-argument 1: ʼn Mens leer ʼn taal die beste as jy dit terselfdertyd ook gebruik om ʼn vak te bemeester.

Pseudo-argument 2: Toegang tot kennis word ten beste verkry via ʼn hegemoniese (internasionale) taal.

Pseudo-argument 3: Kognitiewe akademiese taalvaardigheid is nie oordraagbaar van ʼn eerste na ʼn bykomende taal nie.

Die aanvaarding van sulke foutief bewese aannames lei dan ook daartoe dat verdere onwetenskaplike gelofies oor taal by diesulkes kan posvat en as argumente gebruik word om hulle uitsprake te probeer regverdig:

Pseudo-argument 4: ʼn Taal kan “bevry” word as dit nie meer nodig is om dit vir formele en hoër funksies te gebruik nie.

Pseudo-argument 5: Mense word “uitgesluit” van toegang tot kennis by ʼn instelling as ʼn ander inheemse taal ook as medium gebruik word.

Die goedgelowigheid van sulke pasbekeerdes oor taalsake wanneer dit gaan oor taal en die onderwys (en kulturele diversiteit), is byna lagwekkend, as dit nie so naïef en tot nadeel van soveel moedertaalsprekers in ons geknelde land was nie.

• Prof Ernst Kotzé, Port Elizabeth is voormalige Departementshoof: Afrikaans en Nederlands, NMMU

  • 7

Kommentaar

  • Monokultuur is die beste. Mense werk saam makliker en vertrou mekaar makliker en is gelukkiger. Multikultuur word gewoonlik deur linkses soos kommuniste en neo-soviets gepropageer met valse lyne soos ‘diversiteit is ons krag’ wanneer in werklikheid al wat mens by Multikultuur baat is meer soorte kos wat jy kan eet wat jy by jou Pakistan-immigrantewinkel kan koop.
    https://www.youtube.com/watch?v=lmpE2_7v7_M

  • "Soveel tale 'n man kan, soveel male is hy 'n man" (Langenhoven) bly een van my kosbaarste aanhalings. Ek stem heeltemal saam met u. Ek het destyds by UPE studeer toe die instelling regtig 10 jaar oud geword het en alles was dubbelmedium. Ek het Engels (my tweede taal) as hoofvak geneem en my ander vakke in die taal waarin dit aangebied is (my Franse lektore was bv net Engels magtig), of die taal wat ek verkies het. Gewoonlik kon ons ook kies in watter taal ons navorsingstake wou doen. Ons het in die klasse onder mekaar die taal gepraat waarmee ons gemaklik was. Dalk is ek as taalvaardige gelukkig, maar ek is nooit deur die situasie benadeel nie, inteendeel. Ek is tans steeds besig met gevorderde studies dmv my tweede taal. My bekommernis is net dat NMMU self ook, ten spyte van 'n amptelike beleid van meertaligheid, al hoe meer ander tale uitsluit tot voordeel van Engels en dat daar selfs teen Afrikaanse studente diskrimineer word in klasse. Daar word tot aanmerkings uit 'n gehoor geskree as iemand 'n paar sinne in Afrikaans sê van 'n verhoog af. Dit gaan vir my op die ou end nie net oor taal nie, maar oor 'n algemene gees van onverdraagsaamheid wat oral posvat en 'n mens werklik bekommerd maak. En dit geld vir alle rasse- en taalgroepe.

  • 'n Vars briesie; 'n Afrikaanse akademikus sonder oogklappe en wat bereid is om die ding op sy naam te noem.

  • C Olivier, die gesegde 'soveel tale jy kan soveel male is jy man' vermoed ek kom van Nederlands af (nie Langenhoven nie). Hoe dit ook al sy, dis onsin. Hoe meer tale jy in 'n multikulturele opset magtig is, hoe laer af is jy in die, noem dit maar 'voedselketting', in daardie gemeenskap. Die ou bo in die voedselketting hoef net een taal te ken en dis sy eie, die ou wat tweede is ken sy eie taal en nr 1 se taal en so gaan dit aan.
    Daar is natuurlik die uitsonderings, ouens wat 'n belangstelling in tale het en 'n klomp tale gaan staan en aanleer omdat dit sy belangstellingsveld is, maar oor die algemeen maak die gewone man maar seker dat hy die taal van sy 'baas' praat. In die NSA is dit Engels; almal kan Engels praat maar niemand kan byvoorbeeld Venda praat nie (behalwe nou natuurlik die Venda's).
    Die ironie van die saak is, hier in SA, dat dit juis die nie-Engelssprekers is wat Engels die taal van die baas maak. Afrikaners byvoorbeeld val oor hulle voete om Engels te praat, sit selfs hulle kinders in Engelse skole. In die Kaap, lyk dit my, kan niemand meer Afrikaans praat sonder om 'n magdom Engelse woorde in te gooi en selfs kort-kort oor te slaan Engels toe nie (en in die Transvaal gaan dit nie veel beter nie).
    Wat 'n skande, wat 'n verleentheid. Red nou 'n taal met so 'n nasie.
    Wat 'n skande.

  • Nee, my oë kan my mos nie so bedrieg nie. Jan Rap stem uiteindelik saam! (Tensy hy natuurlik nie weet waarmee hy saamstem nie.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top