Dit is nou al maande wat dieselfde mense by dieselfde padkruising elke dag volgens 'n oënskynlike skofrooster by die motors 'n geldjie vra. Ek noem dit vra, want bedel klink so vernederend.
Aanvanklik het dit my soggens hartsag van jammer gemaak, wanneer ek in my voertuig sit en die vermaerde verwaarloosde man met sy bordjie “ Gesin in nood – Help asb. God seën” daar aan die onderkant van die verkeerstrein langs die verkeerslig sien staan. Hy staan net daar. Doodstil sonder om oogkontak met die motoriste langs hom te maak. Die koerantman en die grys-produkverkopers hop soos sprinkane by hom verby. Dan flits daar gedagtes deur my gemoed wat wonder waar is die man se mense; het hy nie ouers wat kan help nie; is daar nie dalk kinders nie; wat as ek daar moet staan? So met die sit, dink ek aan die ydele sisteem waarvolgens ek op my manier mense soos hy help: ek gee vir een persoon op 'n dag 'n ietsie, synde 'n geldjie of iets te eet. Vir die ander wat na daardie een kom vra, sal ek altyd sê: “Ek het reeds iemand vandag gehelp – miskien is jy môre eerste.” Dan met die gedagte vars, besluit ek die teken dat ek vir hom 'n geldjie moet gee, sal wees indien ek vorder tot reg voor in die verkeerstrein en dan langs hom by die verkeerslig vir die groen lig wag. Party oggende het dit gebeur en het ek die stil man met die bord 'n geldjie gegee. Meeste ander oggende nie.
Bedags ry ek dan-en-wan by hierdie kruising verby en mettertyd raak ek bewus van die wisseling van skofte en kruisings wat hierdie man en sy ander vra-maters uitgewerk het. In die straat waar hy aan die bo-punt daarvan by 'n kruising “werk” is daar laer-af nog twee kruisings; seker so 200m uitmekaar. Daar sal twee of meer van sy maters “diens” doen. Gedurende die dag sal hulle plekke ruil en as't ware 'n skofwisseling toepas. Met hierdie besef, besluit ek dat dit absolute snert is – dit kan mos nie so werk nie en my jammer en gepaardgaande gemoedsentimente droog sommer weg.
Vanoggend is hy nie daar nie. My oë soek na daar oorkant onder 'n groot palmboom langs die kruising waar hy en van sy kollegas smiddae aan weggooistompies sit en teug. Niks. Net die klompie buitelanders wat met nagemaakte goeters uit die ooste die motoriste probeer inloop, hop hier rond. En skielik is ek meer as alleen in die voertuig - ek voel skuldig. Sommer oor alles. Oor my vooropgestelde idee van “gee”. Al ons Here se hulp en genade wat Hy gee, stuur en aflewer. Al Sy seëninge teen daardie een of twee frustrasies wat geen ewigheid-impak of -waarde het nie, maar wat mens se gemoed beswaar. Die meeste mense vra tog iets êrens. En, die meeste mense ontvang tog êrens iets. Niemand is daarvan vrygestel nie. Nie eers ou Sol nie.
Wat maak dit saak as die mense van verkeersligte en padkruisings wissel? Maak dit hom minder behoeftig, of maak dit my meer veroordelend omdat hy durf waag om 'n strategie vir oorlewing te hê. Iemand sê die ander dag: “Hulle bly bedel, want dit is lonend.”
Toe wonder ek: sal jy hierdie lonende beroep wil betree?


Kommentaar
Hennie
Wat opvallend is, is dat aan die eenkant, is dit gewoonlik 'n blanke wat staan en bedel, en om hom is dit swartes wat met die motoriste handel dryf. Albei heel gesond. Die blanke is onproduktief en 'n las vir die gemeenskap, die swarte dra by tot die produktiewiteit in die gemeenskap. Wat keer die blanke om nie dieselfde te doen nie?
Motoriste wat vir hierdie slenter val, moedig dit net aan. Indien werklik behoewend, is daar meer as genoeg welsynsorganisasie wat te gretig is om te wil help.
Die welsynsorganisasies is al aan die opdroog. Die bedelaar moet homself maar liewer wend na een of ander NGO.
Ek het al per geleentheid vir so 'n bedelaar werk aangebied, maar hulle stel eenvoudig net nie belang nie, want hulle verdien meer per dag deur te bedel, as wat hulle kan verdien as 'n ongeskoolde (of geskoolde?) dagwerker.
Ek het toevallig nou eendag 'n blanke vrou, wat gereeld bedel by 'n groot kruising, gesien waar sy afgelaai word by 'n woonhuis en op 'n latere geleentheid ook weer vir haar by die huis in die tuin gesien rondstaan - so my waarneming is dat sekeres wel 'n goeie blyplek het en die bedelary is hul daaglikse werk van eie keuse.
Wat jy waargeneem het van die bedelaars is 100% waar. Daar is 'n "Hoofman" in hulle groep, wat hulle ruil wanneer wie waar staan, hoe lank die skofte is en wanneer die geld ingehandig word. Hulle maak meer geld in 'n maand as wat enige van ons kan droom of sal ons sê die "Hoofman". Vir hulle werk per dag kry hulle n bedrag minder as R100,00, 'n pakkie sigarette, 2 liters koeldrank en 'n brood. Die "Hoofman bedel nie, hy laai hulle net op en af en doen die finansies.