
Foto: Canva
Die mens se ís, is liggaam
In memoriam: Johan Degenaar en Carol Kriel
“Liggaamlikheid is die enigste wyse waarop
die mens hom in die wêreld vind.
Liggaam behoort tot die wese van die mens.
Die mens is liggaam.” – Johan Degenaar
Die mens se ís,
is liggaamlikheid.
Die mens se ís,
is liggaam.
Die mens se ís,
is sterflikheid.
Het jy dié beeld gehóór,
en sien jy jou?
***
Ek is
my liggaam.
My líggaam dink,
dínk my wêreld
en my self.
My líggaam ís.
Dáárom tog, René,
is ek.
Ek is
die magtigheid van al my
liggaamsmoontlikhede:
woord,
verbeelding en
verwondering.
Maar slegs terwyl my líggaam ís,
is ek.
Ek is
my liggaam.
As my liggaam
nie meer dáár is nie,
is ek
Herin-
ner-
in-
g
***
Die mens se ís,
is Líggaam;
Die mens se ís,
is Woord, Verbeelding en
Verbystering.
Want as my liggaam
nie meer ís nie,
dan is my ís
Vergetelheid.
***
Het jy die beeld gesién
en begrýp jy nou?

