Die meisies sing weer

  • 6

In die truspieël het daar vanoggend ’n skone lied kom speel.

Aanvanklik het ek soos gewoonlik die draadloos op die radio-sonder-geld-stasie aangesit en die pad na die ander deel van die dorp, daar waar ons die geldjie verdien, sonder verwagting voortgesit. Maar, toe die ellelange relaas oor die nuwe president en sy bekwaamhede en persoonlike vermoëns net nie ’n einde wil kry nie, toe doen ek die ondenklike daad en vertrap my eie oggendgewoonte deur die draadloos af te skakel en die klankstelsel na die musiek op my selfoon oor te gooi.

Madeleine Peyroux se warm stem het sag en helder die binnekant van die motor en my gedagtes na nuwe kalmte gevoer terwyl sy wegval met “Dance Me to the End of Love”, welke oorle’ oom Leonard trots sal maak;  hy hoor dit tog seker van waar hy is?

In die weggeraapte werklikheid van my nuwe ervaring neurie ek die melodie rustig saam, wat nou, ure nádat ek reeds met die dinge van die dag begin werk het, steeds nie uit my gemoed wil afskakel nie!

Ek vergeet van die stramheid wat die draadloos elke oggend die afgelope weke tydens die rit werk toe veroorsaak het en my bolyf wil-wil lomp, maar ritmies, saam met die stadiger jazz-weergawe begin wieg en dans –  totdat ek die jong vrou in die verkeerstrein agter my raaksien.

Eers het ek gedink sy gil en raas met iemand oor haar draadlose selfoon-kontrepsie, maar met die uitdrukking op haar gesig en die heen en weer beweeg van haar skouers en hande, besef ek meteens … sy sing!

Wanneer laas het ek iemand, behalwe wanneer ek en Jan Blohm op ’n Vrydagmiddag op pad huis toe is, in ’n motor sien sing?

Ek kan nie onthou nie!

Die afgelope weke en maande is dit opvallend hoe stroef en bemoerd omtrent al die mede padgebruikers elke dag is. Niemand glimlag nie, selfs nie eens wanneer daar meer as een persoon in die kar is nie, niemand lyk gemaklik en gelukkig om daar te wees waar ek hulle elke dag sou raaksien nie.

Die swaarmoedigheid het hulle, en vir my, in die sitplek van die voertuig vasgedruk en die galbitter pepersproei nuus en -rubrieke oor die dag se gemors en die wankelende toekoms, het ons skouers maklik laat hang, so-by-so, dat dit elke kort-kort met ’n moeitevolle sug regop getrek moes word!

Die kruie van die verkeer, soos vroegdag molasse stroop, gaan vanoggend ongesiens en ongestoord voort terwyl ek met gereelde probeerslae in die spieël loer, in ‘n poging om haar sang te waardeer. Haar bokstert wip heen en weer agter haar blonde kop terwyl sy uit volle bors ’n lied sing wat lekker lyk om na te kyk. 

Me Peyroux het tussentyds dromerig met nog ’n Leonard-gunsteling begin, “Bird on the Wire” en terwyl ek ook nou hoorbaar, vir my, begin saamsing  “Like a bird on the wire/ Like a drunk in a midnight choir…” wens ek dat die dag hier vir meer as net ’n oomblik kon stilstaan.

Ek dink aan die goeie dinge wat die afgelope paar dae gebeur het en Philip se gebed voor gisteraand se vergadering en ek voel saam met hom dankbaar dat die oud-president uitgeskop is en die nuwe een ingekom het, met ’n Rand wat verstewig en ’n aandelebeurs wat die hoogte in skiet, terwyl die markte en sommige ander geleerdes en rykes vir ’n oomblik hul Steinhoff- en ander tragedies kan uitdoof.

Ek dink aan Cyril en Trevor wat in Seepunt langs die see ronddraf en saam met vreemde meisies op Facebook pronk en die vrede van Saxonwold wat voor sonsopkoms deur die Valke befoeter word en die Gupta’s wat met slot en grendel gedreig word, en ek dink aan die reën en ons geskarrel om die emmers buite te kry en die pyp te skuif sodat die geut se afvoerwater op die half dooie grasperk en in die amper “leë” swembad kan loop en ek dink aan my geliefde wat haar nat klere op ’n hoop gelos het en met haar lingerie die water in is …

En, ek dink aan Valentynsdag en die feit dat ek nog altyd gereken het dat dit ’n mors-van-geld-dag en net nog ’n aangenome Amerikaanse vermaaklikheid is, maar terwyl die teenstrydighede nog met mekaar in my gedagtes woel, voel ek haar nabyheid en hoor ek haar vir een van my flouerige grappies lag. Ek sien die plooitjies wat uit die hoeke van haar pragtige oë trek en die kers se flikkering op haar beeldskone gelaat; vir die eerste keer in menige jare is ek ook bly dat daar hierdie week ’n Valentynsdag was en dat ek daarvoor dankbaar mag wees.

Die pad werk toe draai weg van die oggendson af en ek loer vir oulaas om te sien of die dametjie in die wit kar agter my nog sing, maar sy is nie meer daar nie. Ek het te midde van die wasigheid rondom my en my gedagtes en Madeleine Peyroux wat na afloop van twee Franse liedjies na ’n ingelse melodie oorgeslaan het, vergeet om na haar sanggenot te kyk; tog het haar opgeruimde lewenslus vandag meer waarde vir my gehad as vele predikers se spoeg en praat en kon ek die laaste entjie van hierdie pad met ’n glimlag na binne, en na die mense in die grys kar langs my, afsluit.

Haar jeugdige voorkoms sal lank reeds verlore wees, voordat haar bydrae tot hierdie dag vergete sal wees, want: die meisies het weer rede om te sing …

“But I swear by this song
And by all that I have done wrong
I will make it all up to thee ...”

My siel is stil tot God ...                   

 

 

  • 6

Kommentaar

  • Ek kan nogal die stil siel verstaan. Geld is die siel van alles, en geld wat stom is, maak reg wat krom is.

  • 'n Pragtige voorbeeld van hoe Engels besig is om Afrikaans se seggenskrag te versterk. Jan Rap skryf: "en kon goed daarmee identifiseer." Nie alleenlik is “identifiseer” verkry van Engels nie, “en kon goed hiermee identifiseer” is idiomaties ook Engels. Die Afrikaans is mos “ek vereenselwig my daarmee”.

    Ek persoonlik het natuurlik niks teen “en kon goed hiermee identifiseer” nie. Dit is nie presies dieselfde as “ek vereenselwig my daarmee” nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top