
Foto: Pixabay.com
Die man wat ek liefhet
trap kaalvoetspore oor duinesand
en koers oor mosselskulp en seebamboes
tot waar branders in ’n pryslied dreun
oor die oewers van ’n Weskusstrand.
Meeue en sterretjies
klap hul vlerke in ’n welkomsgroet,
hulle eer hom in ’n sirkelvlug;
daar is onskuld in sy hemeloë
en adel in sy naam en bloed.
Die man wat ek liefhet
staan op rotse waar swarttobies wei;
hy laat sy blik oor wye waters gly
en iewers (waar storms oor die diepsee woed)
saluut ’n albatros verby.
En as hy in die avonduur
oor die silwer oseane tuur
lofdans (vir hóm) Kaapse kormorane
en skadubeeld ’n skare pelikane
teen die vermiljoenste skemervuur.


Kommentaar
Dankie vir die plasing, LitNet.
Ek lief jou woorde hier Carma.
Baie dankie, Marietjie. Ek waardeer dit 😊