Synde in die lig van die onlangse gebeurtenis toe ‘n man se eie seekoei hom daar by julle doodgebyt het, het my laat dink aan ‘n storietjie van ‘n oom doer van Outjo se wêreld wat hy vir my vertel het:
Die boere is mos maar met diere betrokke elke dag en dinge gebeur waarvoor jy nie gevra het nie. Hulle manne boer mos daar in Etosha se omgewing en die leeus van Etosha het mos nie brieke as die gier hulle die dag pak om so bietjie op “walkabout” te gaan in die boere se plase nie. Dis ‘n maklike manier om die jong manne te leer hoe om te jag en kan so ‘n leer-sessie groot marakkas veroorsaak onder ‘n kraal vol bees waar vrekgebyt word net vir die lekker. Dis mos nou net hier waar die boer die moer in raak, sy roer uitruk en dan looi hy onder die leeus.
Dié betrokke dag toe skiet hy so in die rigting van die leeus om hulle te verwilder en dié sit ernstige voete in om weg te kom en toe al die leeus weg was, toe kry hy hierdie klein leeutjie waar die klein mannetjie onder ‘n bos wegkruip. Hy het hom huis toe gevat en toe kon dit nie anders nie. Die kinders het pop gespeel, ma het ge-oe en ge-aa en sy eige hart het vermurwe toe daai klein leeutjie die eerste dag op sy skoot kom klim en homself daar tuismaak. So het hulle hom groot gespeel en getroetel en dit was nie donkiejare nie, toe’s daai leeumannetjie yslik groot en steeds mak soos ‘n lam, want eintlik verbeel hy hom mos hy’s ‘n hond! Lekker vet ook van al die bederf en sagte vleisies wat sy pa vir hom spesiaal bring ... naam ook gehad: Jors.
So ry hy die dag veld toe en toe hy terugkom en by die pos naby die huis verbyry, sou hy sien daar is moeilikheid onder die bees by die pos en sien toe ‘n leeumannetjie wat die beeste rondjaag en al op die een koei se rug gespring om haar plat te trek. Net daar strip sy moer oor die mak leeu wat nou op hierdie dag besluit het hy wil eerder leeu wees as hond en hy gryp sy voorslagsweep agter op die bak van sy Hilux en hy loop daai leeu by en éét hom met die sweep. Dié brul verontwaardig van die knal en byt van die sweep en los alles, trek penne op en laat spaander die veld in.
Tevrede ry die ou huis toe en toe hy die stoep se trappe opklim, toe lê Jors rustig op die bank op die stoep, “balls in the light” op sy rug en slaap! Dit was toe al die tyd ‘n wilde leeu wat hy daar by die pos pak gegee het!!!
Namib

