Die Magogs (1)

  • 2

Ek wetie hoe hulle aan die naam gekom het nie maar dis maar hoe die mense deesdae van hulle praat. En jy weet mos maar hoe dit is: Jy hoor innie Kaap van die Americans of soortgelyke benamings dan weet jy al jy moet lig loop.

Hulle is nie regtig kriminele in die sin dat hulle moor en verkrag en inbreek of roof nie. Skrik hulle gatte tien teen een af as hulle 'n vuurwapen moet beskou. Maar hulle doen maar die Green tree of knowledge (ek is beslis 'n voorstaander waar dit die oproep dat dit gewettig moet word.) ding en smokkel maar Rooiprop en Oom Tas En Black Lable en hou maar Wellington en Scottish Leader ook aan vir die vele Whities wat op 'n Saterdag as die rugby verby is daar kom aanklop. Is vroeër gereeld deur die Boere onder hanne geneem en die drank is gekonfiskeer en die Swazi afgevat om later weer in sirkulasie te kom. Want ons weet mos almal minder as 10% van die goed word uiteindelik verbrand na die hofsaak afgehandel is.

Ek het hulle maar so gekry as klogoete wat maar saam met Hompies en Balletjies en Ou Daniel en Cullan opgeklim het see toe. Goddelose bliksems. As daar met een van die Groenes 'n gespook aan was kon jy maar weet dis een van hulle. Klein-klein het Stentjie al beduie hoe hy 'n "ou Boer vandag amper gebliksem" het. Hard grootgeword. In die bos. Want Hompies het vir hom 'n huis opgesit sommer langs die voetpad na die ou saagmeule toe. Balletjies het bloot onder 'n treinbrug huis opgesit en so het die manne maar naby mekaar gebly. Almal bloedverwant op een of ander manier. D is sommer vroeg tronk toe want hy het afgevat toe sy nie wou gee nie. Hy sê sy het hom verlei en sy sê sy het gesê nee. Hy is jare later uit met 'n strikdas op sy keel en 'n nommer op sy voorarm en so het die manne maar in mekaar se voetspore geloop. In en uit Pollsmoor en ander plekke waar ons nie gereeld kom nie.

Tot die dag wat S sien hier’s geld te maak. Hy het mos 'n rang en omdat hy 'n rang het het hy sommer 'n paar dametjies wat hom as profeet aangaap. Vir 'n ruk was dit kaperjolle vir die groot sakemanne en die enkeling politikus en sommer 'n predikant of twee wat vir R100 die gawes wat die natuur so mildelik uitgedeel het ten volle geniet het. En toe word S en sy hele spul dames gearresteer vir 'n grumoord. Speurder Lucas sê daar was grawe en pikke en allerande goete betrokke. Ek het nie die lyk loop help optel nie want dis mos maar te naby aan bekend die liggaam. En toe is die gort gaar want hier is dan nou 'n daad gepleeg deur twee van hulle wat nie sindelik is nie. Want mens vat nie af nie. Nie P nie en ook nie lewe nie. Of so het die oues beduie.

Balletjie word deur 'n trein doodgery en Hompies word vermoor vir die 5 liter kan wyn wat hy wou huistoevat om alleen te drink. En die klogoete spat uitmekaar. En vir 'n lang ruk omdat mens se besigheid ander rigtings inneem skei ons paaie maar soortvan. Klein Steven is nou groot en uitgegroei en ek beduie hom steeds dat ek nie 'n baas is nie en nooit sal wees nie. Hy vra of hy dan vir my moet sê:"Jou fokken boer" en ek beduie dis cool want dit klink in elk geval beter. Ons sleep vir M wat besig was om te verdrink uit die Blou dam uit en lawe hom tot sy sinne en dis toe ek die verandering sien. Want jy herken eers 'n kind vir die man wat hy geword het as jy hom mond-tot-mond moet terugbring na ons beskouing van lewe toe. Want dis die dag wat ek agtergekom het die man is nou 'n man met 'n harde baard. Ek beduie vir hom dat mens nie 'n weightbelt met 'n uiesak vasmaak nie want jy kan hom nie afkry as jy in die moeilikheid is nie. Dit werk nie so in die Blou Dam nie. M beduie dat hy nou vir 'n ruk genoeg gehad het van hierdie spul waters en dat hy in elk geval genoeg maak met die smokkel.

Ek kry annerdag vir M en hy sit laag in die Ford. So 'n lelike blou Ford Sierra soos wat jy destyds by elke huis in Brakpan en soms in Waterkloof gekry het. Ek lag oor die skreeulelike kleur en hy lig sy sonbril (ek kan sweer dit is een van daai designer goeters wat al die Japies aldag dra - [is almal besig om blind te word?] maar ek kannie daarop sweer nie) en beduie dat hy hom kontant gekoop het. Hy het nie 'n liksens nie maar hy het 'n drywer beduie hy. "Is D jou drywer? Maar D het mos ook nie 'n liksens nie!" Hy trek 'n lang teug en ek ruik dissie BB of Boxer twak waaraan hy trek nie.

"Ja, maar die Boere weet dit nog nie."
"Julle gaan nog in 'n ongeluk kom en dans julle in groot kak," probeer ek die Outsurance storie beduie.

"Ry lat ons in Wolwedans kom. Mens weet nie wat gaan aan as jy nie by jou besigheid is nie,"  klap hy vir D agter die kop.

En skielik vervaag die lyne tussen reg en nie reg. Want hy skep geleentheid. Bedien 'n broodnodige produk as die kantien volgens wetgewing lankal toe is. Want die mense is mos dors en hulle soek 'n twakkie.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Beste Oester

    Ek is so bly jy is terug.Jou stories spreek van die lewe soos jy dit daar ervaar en jou verteltrant laat mens lekker lag.Jy moet dit dalk in boekvorm kry!

    Dankie daarvoor,jy kikker my dag op.

    Groetnis

    Perdebytjie

  • 😉 thanx!!!. ek beduie maar oor die mense hier rond voor hulle ook almal vergete is en onder die kluite le en bloot deel van die statistiek word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top