
’n Microsoft-blou see; fyn geel lyntjies wat grense karteer; diepbruin, vuilpers, rowwe bruin en ’n kamera wat mens mislik maak soos dit hierdie lyne, vorme en kleure van ver en van naby bespied.
Spandeer jy ook, soos ek, baie tyd op Google Earth?
Sedert Nadar (oftewel Gaspard Félix Tournachon – “Nadar” is sy pseudoniem) die eerste lugfoto van ’n lugballon geneem het, wil dit voorkom asof ons menslike wesens besonder gefassineer is deur die oorsigperspektief – dit is die perspektief van ’n voël. Saterdag was ek by ’n baie insiggewende uitstalling by die Centré Pompidou in die Franse stad Metz, Vues d’en haut (“Uitsig van bo”), waar die geskiedenis en ontwikkeling van die lugperspektief belig word.
Dit het my aan die dink laat sit: Waarom word ons juis so deur die voëlperspektief geboei? Is dit die skoonheid van die landskap wat ons bekoor? Lyne, vorme, belangrike landmerke word vanaf ’n afstand van bo vervaag, so ook reliëf. Die landskap word in ’n plat oppervlak getransformeer. Sien ons alles dan in geheel, in groter perspektief? Wanneer ons van ’n hoë berg of gebou of vanuit ’n vliegtuig na ’n stad of landskap kyk, word ons perspektief verplaas, ontwortel. Inspireer dit ’n gevoel van almagtigheid?
Toe Nadar sy eerste foto’s geneem het (1858), asook die Amerikaner James Wallace Black die oudste bestaanbare lugfoto van Boston geneem het (1860) (so lees ek in my wandeling deur die indrukwekkende uitstalling), is die perspektief-denke van die Renaissance wat op die menslike skaal gebaseer was, vernietig. Die mens was nie meer die vaste punt wat ons ruimtelike visie bepaal het nie. Plotseling is die patrone en groter omwentelinge van die aarde belangriker en is die mens se oë (en dus ook sy gedagtes) gestrek. “The earth unfolds into an enormous unbounded carpet with neither beginning nor end,” sê Nadar van sy eie lugballon ekspedisies.
’n Ander perspektief op die werklikheid stimuleer nuwe ekspressiewe moontlikhede vir kunstenaars, ondervind ek in my besoek aan die uitstalling. So is die Kubiste se ruimteperspektief beïnvloed deur die tegnologiese revolusie van lugfotografie. Dit is iets wat vir my nuus was: dat die Kubiste (onder andere Picasso, Braque, Léger en Delaunay) se fragmentering van driedimensionele ruimte deur lugfotografie beïnvloed is.
Tog het lugfotografie en die voëlperspektief wat daardeur beïnvloed is, nie net gevolge vir kunstenaars se visie nie. Lugfotografie is veral in die Eerste Wêreldoorlog gebruik as belangrike taktiek om vyandelike militêre troepe se bewegings te monitor. Die gevoel van mag om die wêreld van bo te sien, het ook parallel ontwikkeling met totalitêre ideologieë in die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie dominerende visie van lugfotografie kan veral in Nazi-propaganda-films van die tyd bespeur word.
Maar wat het dit met letterkunde te make?
Met my rubriek van verlede week het ek probeer om ’n voëlperspektief te gee van die verskillende stede, plekke en dorpe waaroor ons bydraers geskryf het. Om die verhale te lees is soos om op Google Earthna die aarde te kyk – mens sien eers die plek of stad van ver as ’n spikkel op die aardkors, maar beweeg dan weldra nader en nader sodat lyne, vorme, patrone, kleure op die landskap sigbaar word. En dan nóg nader, totdat die stad en bekende landmerke van naderby gesien word. Waarin Google Earth egter nie slaag nie, en wat die verhale wel regkry, is om die ondergrondse, verskuilde dele van die stad te belig, daardie dele wat nie vanaf ’n voëlperspektief gesien kan word nie; die gedagtes en gevoelens van individuele karakters en die dele wat mens kan sien net wanneer jy sélf die vliegtuig verlaat.
Natuurlik het ook letterkunde met perspektief te make. Die perspektief van ’n verhaal het te doen met die toneel soos wat dit gesien word deur die oë/verstand van ’n gekose karakter. Mens vertel ’n verhaal vanuit ’n spesifieke perspektief, vanuit die oë van ’n spesifieke karakter wat, hetsy wyd of beperk, magtig of terneergedruk, na die wêreld om hom of haar kyk. Jy as skrywer het die mag om hierdie perspektief van jou karakter(s) te bepaal. Jy kan self die grense stel, besluit hoe ver van of hoe naby aan die toneel, stad of plek jy wil kom.
In die 1920’s, so lees ek in die uitstalling-katalogus, het Laszlo Maholy-Nagy die hoeksteen van ’n nuwe estetika gevorm wat Modernistiese fotografie beïnvloed het. Met onverwagte uitkykpunte, kameraskote van bo, het hy ’n komplekse persepsie van die wêreld daargestel. Sin van skaal het verander, onderskeid tussen ver en naby het vervaag. Skielik het die kyker self die mag gehad om sy perspektief te bepaal. Dit is hierdie uitdaging wat ook skrywers in die gesig staar: Hoe bied ek ’n onverwagte perspektief? Hoe gee ek met woorde die kompleksiteit van die wêreld weer? Hoe verander of verwring my woorde die sin van skaal, die wydtes, die dieptes en die feitelike dimensies van die plek waar ek my bevind? Hoe naby of hoe ver staan ek ten opsigte van my karakter(s) of my onderwerp?
Tot volgende week.
Rentia


Kommentaar
Mens kan ook aan die ballon met die Engelsman bokant die veld dink tydens die Anglo-Boere-oorlog, en aan Boerneef se berggans in die Wuppertal-lug, of die gedig as kamera.