Die lang pad na Walvisbaai

  • 0

Ek het vroegoggend die dag nek omgedraai en my spore in stofstrepe agter my gelos. Sesriem se versamelvoëls en rooivlerkspreeus het vir oulaas kom dankie sê vir die krummels van beskuit en brood wat ek uitgedeel het.

Die storie was min of meer dieselfde – lang, amper oneindige stofpaaie tussen rante en koppies. ‘n Trop blouwildebeeste wat dit uit die skaduwee gewaag het, het kopskuddend en stertswaaiend geskarrel toe hulle my gewaar na waar die versengende hitte effens getemper kon word.

Uit die niet, en om ‘n draai verskyn ‘n slagveld van voertuigwrakke gepak om die toeris se aandag te trek. Die uithangbord noem die plek Solitaire, en ek maak die skilpadlorrie staan onder ‘n minderjarige kameeldoringboompie. Dis die gekras van witborskraaie wat my aandag en my voetspore neem na ‘n voerplek ‘n entjie weg. Mossies en vinke en versamelvoëls, kraaie en grond-eekhorings is hewig aan die stoei om die aalmoese uit die bakkery hul eie te maak. Ek maak myself sit ‘n entjie weg om die spulletjie te beskou en dis net die uitnodiging wat ‘n sigbare dragtige waaierstertmeerkat nodig gehad het om haar tuis te kom maak op my been en my sakke te deursoek vir ‘n verandering van spyse.

Die sonbesies het hulle koordrag aan, en die onophoudelike geskuur van vlerke dring in tussen murg en been. Ek beskou die bekende bakkery van nader en staar my vas in die kaalkop bakkies van ‘n man agter ‘n skewe glimlag. Die beroemde eienaar en bakker het gesterf en in sy nagedagtenis pryk foto's van hom oral in die bakhuis. Ek mik met my koffie na buite en merk die hopie grond in die tuin (tussen die geroeste motors) met ‘n kruis en nagemaakte blomme kompleet.

En dan koers ek noord, die Namib in. Net as ek dink die Skepper het van die stuk aarde vergeet, dan skarrel ‘n witkwasmuishond oor die pad of ‘n swartpiek wip op ‘n lyndraad of ‘n gemsbok galop oor die pad. Af en toe verskyn die lemme van ‘n windpomp teen die horison en troppies rooi beeste lê herkouend om dié bron van lewe.

Rante en koppies maak plek vir verlatenheid, ‘n soort van ‘n maanlandskap rondom die wit van ‘n goed versorgde stofpad. Die Gaub-pas lewer ‘n paar groen bome in ‘n droë rivierloop op en reuse-rotswande hou ‘n wakende oog oor die reisiger. Lewe in holtes, agter klippe en in bome is meer sigbaar hier en die tekens van ‘n jong reënbui lê uitgedroog op die oewer van die riviertjie.

Nie te ver daarvandaan, sak ek af in die Kuisebvallei en betree die Kuisebpas. ‘n Troppie koedoes hang aan die groenigheid van ‘n paar akasias in die rivierbedding en ‘n rooiborslaksman duik in volkleur voor my gesigseinder verby om weg te raak in ‘n struik onder die brug. Ek verlaat die vallei, en dan duur die uitgestrektheid voort. ‘n Hartmanse bergsebra-hings roep sy troppie na veiligheid as my voertuig te na aan hulle verbyseil en ek voel tevrede om hulle in hulle natuurlike habitat te sien – waar hulle hoort. Ek sien die laaste van die bergagtigheid in my truspieël, en word weer verbyster deur die kimme wat wyd strek om my.

Hoe nader ek aan die see kom, hoe meer bokspring jong stofstormpies oor die pad, en die landskap verander weer na sandduine, wat amper wit teen die horison afsteek. Die pad kry ‘n souttekstuur en meeste van die klipperigheid is vas gerol, amper soos ‘n teerpad.

Iemand het haar omgekrap want sy vryf jou hare deurmekaar as jy dit buite waag, maar tog stap ek die blok van my oornagplek af, na die promenade. Seemeeue koggel die wind in uitbundigheid en sweef sonder inspanning tussen land en see op soek na iets om te eet. Strandlopertjies en ander moerasvoëls drentel gefokus in die vlakwater rond en gryp na waterinsekte met hulle skerp bekkies. Nog ‘n paar waadvoëls sleep hul bekke angstig deur die vlak branders en slagoffers se pote peul spartelend aan die kant van hulle bekke uit. ‘n Paar grootflaminke staan op een been en slaap net effens van die strand af, terwyl hulle kleinboeties in pienk strepe teen die horison verbyvlieg. Hulle gesels met mekaar, en ek wonder sommer waaroor. Dalk die planktonneerslae in Meersig, of die feit dat die Moeder haar sluise oor die Pan oopgetrek het en nuwe lewe aan die wit uitgestrektheid gebring het.

Walvisbaai het my in haar hande en haar wind is in my hare, haar sout op my lippe. Ek gooi moegheid af en strek my arms om haar varsheid te probeer omarm. Die reuk van verwerkte vis trek modderstrepe deur die sensoriese, maar ek weet mos waar ek is, en dat die bedryf hier gepleeg word. Ek volg die ander reuk en bevind my in ‘n tipiese kusdorp-restaurant naby die jetty met ‘n tipiese see-atmosfeer versier. Nette en ankers en seelewe foto's en soutpotte met rou rys in. Ek neem plek op teen die venster naaste aan die kaai, en lawe my keel met die egte “reinheitsgebot”-brousel uit die land van die brawes. ‘n Tafel sonder pote, maar met lang bene wat tot verby my ingewande strek. Ek maak kennis met ‘n tweede en ‘n derde van sy soort en toe eet ek die lekkerste pyl-inkvis (calamari) in gebotterde deeg ooit.

Sy het nie ophou waai nie; het regdeur die nag gehuil soos ‘n koliekbaba om die hoeke van huise. Ek het ‘n sagte hartstraan gestort, aangesien ek die halfpadmerk van my reis bereik het. Dis tyd om die herinneringe van die afgelope paar dae te liasseer en te organiseer. Om etse in my hart en brein te maak van my stofpaaie tot dusver, glimlagte en gesigte te memoriseer en lesse geleer vas te pen. Dis tyd om te fokus op die res van die pad, die Skedelkus, welwitchias te gaan soek in die barheid, dalk die woestynolifante te gaan raakloop, my te verlekker in die Grootbergkloof se uitgestrektheid en nog vrede te gaan vind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top