Die lang man met die bril: ’n fotolegkaart van 60 jaar gelede
Soektog deur ’n literêre speurneus1
Hierdie bydrae is ter ere van wyle Breyten Breytenbach se verjaardag (Pampoendag) vandeesweek geskryf.
Agtergrond
Dit is vanjaar 60 jaar gelede dat Breyten Breytenbach met die APB-prys bekroon is vir sy dubbele debuut in 1964: die digbundel Die ysterkoei moet sweet en die kortprosateks Katastrofes. In hierdie klein verkenning gaan ek op soek na mense wat saam met hom op ’n foto verskyn. Daar is ’n paar eindnotas om nie die vloei van die speurverhaaltjie te belemmer nie.
Ek het elders vertel van hoe die joernalis-skrywer Chris Barnard die skryfwerk van Breyten tydens ’n verblyf in Parys “ontdek” het en hom bygestaan het om manuskripte voor te lê aan Bartho Smit, uitgewer van die destydse Afrikaanse Pers-Boekhandel (APB). Die produksiegeskiedenis van Die ysterkoei moet sweet (wat in manuskripvorm ’n draai by Publikasiebeheerraad gemaak het) en Katastrofes is ook daar toegelig.2
Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes verskyn in November 1964. Op 17 November, die dag waarop Chris en sy vrou Annette van ’n paar maande lange Paryse verblyf op ’n Europese reis vertrek, ontvang Breyten die twee boeke per pos. Hy stuur ’n telegram aan Bartho: “Versorgingsgewys wonderwerk”. Chris vertel later hoe oorbluf die jong skrywer met sy boeke was.
........
Die literêre establishment was oorwegend positief oor die radikale vernuwing wat veral Ysterkoei bring, omdat hulle meen dat dit die funksie van literatuur is om nuwe insigte te bied in ons ervaringswerklikheid en dat dit ’n “outonome woordwêreld” skep.
........
Die bundels met hulle surrealistiese stofomslagtekeninge deur die skrywer self veroorsaak in die paar maande na die verskyning daarvan ’n beroering in die Afrikaanse pers. Die algemene leserspubliek was (volgens briewe in die pers) geskok en ontsteld omdat hulle meen kuns moet mooi en ordelik en ’n afbeelding van die bekende werklikheid wees. Die literêre establishment was oorwegend positief oor die radikale vernuwing wat veral Ysterkoei bring, omdat hulle meen dat dit die funksie van literatuur is om nuwe insigte te bied in ons ervaringswerklikheid en dat dit ’n “outonome woordwêreld” skep. Ernst van Heerden se entoesiastiese eerste resensie (in Dagbreek en Sondagnuus, 30 Desember 1964) was rigtinggewend vir die vroeë positiewe waardering van die “nuwe stem” deur die meningsvormers van die dag.3
Bekroning
Daar was bespiegelinge (en verwagtinge) rondom die toekenning van die tweede ronde van die APB-letterkundeprys – wat die vorige jaar deur Ingrid Jonker vir haar digbundel Rook en oker gewen is. In ’n brief van 10 Februarie 1965 aan Chris skryf Bartho:
Een van my duisende kopsere op die oomblik is natuurlik die APB-prys. Soos jy voorspel het, het Breyten dit gekry [...] Jy onthou watter helse klomp werk die prys verlede jaar afgegee het. Dan sal jy jou ook kan voorstel wat dit vanjaar is – met ’n man wat 7 000 myl ver sit. Ek kondig hierdie naweek die prys aan – in al die Sondagkoerante, oor die radio, Sapa ens. Daarvoor moes ek al die persmateriaal self skryf – met ’n minimum inligting. Ek moes foto’s uit Parys kry. En alles is binne ’n week of drie ingedruk [...]. Soos ek sê: hierdie naweek die aankondiging.
Op 14 Februarie was Dagbreek en Sondagnuus eerste met die nuus dat die destyds grootste kontantprys vir letterkunde aan Breyten Breytenbach toegeken is. Die drie beoordelaars was hoogaangeskrewe in literêre kringe: N.P. Van Wyk Louw, D.J. Opperman en F.I.J van Rensburg.
Oorhandigingsfunksie
Die prysoorhandigingsgeleentheid moes vanoor ’n groot afstand in besonderhede beplan word – soos Bartho in sy brief van 10 Februarie uitlig:
Op Vrydag 26 Februarie ’n funksie in Parys, waar die prys oorhandig word. Louw van der Merwe tref daar vir my die reëlings en sal die oorhandiging waarneem. Ons probeer die internasionale pers ook daar kry. En dan natuurlik verteenwoordigers van ons eie. Dit word dus twee news breaks. Maar om intussen al die materiaal ens daar te kry, betyds, is geen speletjies nie. Die spesiale boek moet gemaak word. Die goudsertifikaat moet gemaak word. Ek sukkel nog om die verantwoording uit die beoordelaars te kry. [...] Ek wil graag die verantwoording in [...] die stem van die beoordelaar wat dit uiteindelik doen op band laat opneem en die band moet betyds in Londen wees. In Parys kan die band gespeel word. Ek wil nog met Daan Retief probeer reël dat die hele funksie dan weer deur hulle op band opgeneem word en hier in een van hulle letterkunde-programme uitgesaai word. [...] Die goudsertifikaat kan ek eers 19 Februarie kry en die volledige boek met plaat en al moet voor 24 Febr in Londen wees.
Louw van der Merwe was destyds die verteenwoordiger van die Afrikaanse Pers in Londen. Daan Retief was toe ’n omroeper by die SAUK.
Chris (wat intussen ’n werksaanbod van die APB aanvaar het) en sy vrou het in Londen ’n telegram uit Johannesburg ontvang waarin hulle uitgenooi is om, op die uitgewery se koste, die oorhandiging in Parys by te woon.
Breyten skryf in hierdie tyd ook aan die Barnards en vertel dat dit “nog ouste [gaan], vreeslik bemoeid deesdae met jou APB. Dit gaan en kom vir die naarste.”
Soos jy seker teen dié tyd self weet het die engel toe mos vanjaar op my kop kom kap – soos julle man in Londen (Louw van der Merwe Muskieterwe) dit uitdruk [...] Buitendien dit lyk my die affêre is gereël [...] Nou lê die bobbejaan so: ons sou die 26ste Adam [Amsterdam] toe kom en sou wragtig daar moes wees, maar nou kom gooi die Vandermerwe seun van julle met At de Beer en andere daardie aand ’n feesje hier op ons bodem en dit alleen op voorwaarde dat jy en jou kwartjie teenwoordig is [...].
At de Beer was ’n joernalis in die Afrikaanse Pers-stal. In 1968 is hy aangestel as assistentredakteur en nuusredakteur van Hoofstad en later was hy die opvolger van Andries Treurnicht as redakteur. Wie sou die “ander” kon wees?
Voor die oorhandigingsfunksie stuur Bartho ’n telegram aan Breyten waaruit dit blyk dat hy reeds vure rondom die toekenning moet doodslaan:
DRINGENDE VERSOEK MAAK ASSEBLIEF GEEN POLITIEKE VERKLARING WAT ONS EN ONS DIREKTEURE IN VERLEENTHEID KAN BRING BRIEF LATER DOL GROETE SMIT
Marius Jooste was die besturende direkteur en HF Verwoerd die voorsitter van die direksie.
Daar is min bekend oor die oorhandigingsfunksie self. Kort na die Barnards se terugkeer in Suid-Afrika verskyn daar ’n koerantartikel van Chris getitel “Pryswennerswerk is onder hope rommel uitgegrawe” in Die Vaderland van 9 April 1965. Hierin vertel hy hoe hy Breyten gehelp het om na sy skryfwerk te soek in die klein en vol plekkie waarin hy en Yolande in Parys gewoon het en hoe hy hom aangemoedig het om manuskripte aan Bartho te stuur. Oor die oorhandiging van die APB-prys skryf hy:
Daar was ongeveer vyftig mense van alle denkbare nasionaliteite bymekaar – vriende, kennisse, en koerantmanne. Breyten se baard was netjies geknip en vir die eerste keer in maande het ek hom weer met ’n das om die nek gesien.
Jare later (in Huisgenoot, 12 Augustus 1977) skryf Chris sy herinnering aan dié tyd in Parys neer, gebaseer op die dagboek wat hy destyds bygehou het. Hier verwys hy soos volg na die geleentheid wat in die Moulin Vert, Montparnasse plaasgevind het:
Ons het die dag van die oorhandiging in Parys aangekom en Breyten het kom inloer. Hy kon nie lank bly nie want hy moes nog iewers ’n pak klere en ’n strikdas gaan leen. Hy het vir my twee geskenke gebring. Hy het wel die prys gewen, maar ons weddenskap [oor wie dit gaan wen] verloor. Vir die weddenskap het ek ’n bottel wyn gekry, en sommer vir die aardigheid die groen oefeningboek waarin hy sy katastrofes en ’n klompie gedigte met die hand geskryf het. Die klein oefeningboekie met die draadrug en ’n foto van Yolande voor in die binnekant van die skutblad geplak, het een van my heel kosbaarste besittings geword. Totdat ’n bekende Afrikaanse uitgewer dit op ’n dag geleen het en vriendelik genoeg was om dit permanent te verlê. Al wat ek nog daarvan oor het, is ’n fotokopie van die sowat twee en veertig bladsye. Mag hy daarvoor vergewe word.
Die onthaal is in ’n klein hotelletjie gehou en daar was so ongeveer tien mense. Ons het geëet en Suid-Afrikaanse wyn gedrink. APB se verteenwoordiger in Londen, Louw van der Merwe, het die tjek aan Breyten oorhandig en die ou baardman het ’n paar woorde gesê. Hy het geheel en al ontuis gelyk in sy donker pak en skewe strikdas en so in die brandpunt van ons almal se aandag.
Volgens Chris het Breyten net “’n paar woorde gesê” en dus geen “politieke verklaring” gemaak nie. Daar is wel rondom die geleentheid ’n onderhoud met hom gevoer deur die SAUK-joernalis Carl Nöffke vir die program Uit ons letterkunde en Breyten was bevrees dat die opname gesny sou word, soos hy kort na die geleentheid in ’n brief aan André Brink vermeld het.
Was daar 50 of 10 mense by die geleentheid?
Foto’s
Het daar foto’s van die byeenkoms behoue gebly?
In die tyd toe ek my boek Breyten Breytenbach as openbare figuur afgerond het, het ek toegang gehad tot foto’s wat tydens die geleentheid geneem is en kon ek twee daarvan in die boek opneem. Die foto’s is destyds deur die APB geskenk aan die RGN se dokumentversamelingsentrum, SASKI, en ek kon afdrukke daarvan laat maak wat nou deel uitmaak van my eie Breytenbach-dokumentasie.

Yolande wens Breyten geluk

Breyten en Yolande saam met Chris en Annette en iemand wat waarskynlik 'n koerantman was
Op 9 Junie 2025 stuur Wyno Simes van NALN vir my skanderings van ’n paar foto’s en vra my of ek die geleentheid asook die mense op die foto’s kan identifiseer. Dit is foto’s wat tydens die oorhandiging van die APB-prys aan Breyten in Parys geneem is. Daarby is twee foto’s wat vir my nuut is:

Breyten ontvang die prys.
Ek neem aan dit is APB se verteenwoordiger in Londen, Louw van der Merwe, wat die tjek aan hom oorhandig. Ek kan egter geen ander foto van hom opspoor om ’n vergelyking te doen nie.

’n Groepfoto met ses mense
Naas Breyten en Yolande is daar vier mense wat vir my onbekend is. Dit plaas my op ’n speurtog na stukke van die legkaart. As daar net 10 mense by die geleentheid was, kan dit nie so moeilik wees nie – maar as daar 50 was ...
Die man tweede van links en die vrou in die middel
Ek stuur die foto aan Yolande. Sy kan aanvanklik nie die geleentheid onthou nie en herken nie een van die ander mense op die foto nie. Later laat weet sy dat die man tweede van links dalk die Nederlandse kunstenaar Mark Brusse is. Sy stuur ook die e-pos-adres van ’n galery in Parys waar hy 12 jaar gelede uitgestal het. Ek stuur ’n boodskap aan die galery:
Dear Sir/Madam
I am trying to contact Mark Brusse. I am aware that he had an exhibition in your gallery in 2013.
I would like to speak to him about his connection with the South African artist/writer Breyten Breytenbach in the 1960s.
Maybe you could provide me with an email address for him? Or I could send him a message via you?
Hope to hear from you in this regard.
Dr Francis Galloway
Ek kry baie vinnig terugvoering:
Dear Sir, Thank you for your email. You can send us your message to the attention of Mark Brusse and we will forward it to him.
Best regards,
Catherine Lhost
Hierna stuur ek ’n boodskap vir die heer Brusse se aandag:
Dear Mr Brusse
My name is Francis Galloway. I am a literary researcher from South Africa who specialises in the publishing history and public career of the writer/artist Breyten Breytenbach.
Breyten passed away in Paris in November last year. His wife Yolande still lives there.
I am currently reorganising my Breytenbach archive. I came upon photos which were taken at an event in February 1965 in Paris. Breyten received a major South African literary prize for his literary debut of Afrikaans poetry and short stories. The small event took place in the hotel Moulin Vert, Montparnasse. On one of the photos there are people that I could not identify. I had sent the photo to Yolande. She cannot recall detail of the event and of the few people who attended it. But she thinks that she can recognise you on the photo.
I am attaching the photo. Please let me know if you are indeed on the photo. And maybe you recognise some of the other people (besides Breyten and Yolande).
It would be very interesting if you could maybe tell me a bit more of your acquaintance with Breyten during the early 1960s.
Hope to hear from you.
Best wishes
Francis Galloway (Mrs)
Ek was werklik verras en bly om vinnige terugvoering op hierdie aangestuurde brief te ontvang:
Dear Mrs Galloway,
I am Nobuko Brusse the wife of Mark BRUSSE
Since Mark is not using emails, facebook or other social medias, I am responding to you.
We looked at the photo and his answer is:
"The 2nd man from the left is myself Mark Brusse, and next to me that is Denise Brusse.
"I do not remember the first man on the left, neither the man between Denise and Yolande."
Denise and Mark were married at that time [after she divorced Mark, Denise remarried with Richard Lindner]. Mark being Dutch he and Breyten shared French friends and Dutch friends, and since Mark and Denise went to live in New York in 1965, they shared even more friends ...
Mark and I are both willing to enrich your archives, we do have some photos and other memories to share.
Nobuko Brusse 渡辺伸子
So val die eerste twee stukke van die legkaart in hulle plekke.
Op my beurt kon ek inligting aan die Brusse-egpaar verskaf oor ’n navraag van hulle kant:
[...] we would like to know what happened to the Art Against Apartheid Collection. Mark did donate a piece, he was invited to the inauguration and even met Nelson Mandela ... but what happened to the collection not so much is heard ever since.4
Mark Brusse5 is ’n Nederlandse kunstenaar wat in 1937 in Alkmaar gebore is, maar in die ware sin van die woord ’n wêreldburger is. Ek hoop dat ek verder met hom en sy vrou kan skakel oor die kunstenaarswêreld in Parys in die 1960’s.
Die man heel links
Ek het gemeen dat iemand van die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys dalk die geleentheid sou bygewoon het. Uys Viljoen, ’n kennis en ouddiplomaat, het laat weet dat hy meen dat dit een van sy voorgangers in Parys is, naamlik Anton Loubser. Dié beroepsdiplomaat het onder andere ’n rol gespeel in die Suid-Afrikaanse aankope van ateljees in die Cité Internationale des Arts en was na sy aftrede stigter en president van die SA National Association for the Visual Arts. Ek kon deur ’n vriendin in die kunskringe uitvind dat die 89-jarige Anton Loubser in Pretoria woon, en sy kon vir my sy e-pos-adres verskaf. Op 12 Junie stuur ek ’n boodskap aan hom:
Beste meneer Loubser
My naam is Francis Galloway. Ek is ’n vriendin van Eunice Basson en sy het my gehelp om u e-posadres in die hande te kry.
Ek is ’n navorser wie se hooffokus die loopbaan van Breyten Breytenbach is.
Ek het nou weer afgekom op ’n paar foto's in my argief wat geneem is tydens die geleentheid in Parys toe die destydse APB-prys aan Breyten oorhandig is deur ’n verteenwoordiger van die pers in Londen, Louw van der Merwe. Die klein geleentheid het plaasgevind in die hotelletjie Moulin Vert, Montparnasse. In Februarie 1965.
Op een van die foto's is daar mense wat ek nie met die eerste oogopslag kon herken nie. Intussen het ek via Yolande Breytenbach vasgestel dat die man tweede van links die Nederlandse kunstenaar Mark Brusse is, met sy destydse vrou langs hom. Ek het dit ook met Brusse bevestig.
Ek het vermoed dat die ander twee mans moontlik van die SA Ambassade in Parys kon wees. Op navraag het Uys Viljoen laat weet dat dit u is wat heel links op die foto staan.
Hiermee vra ek of u dit asseblief kan bevestig. En dalk weet u wie die man met die bril is wat langs Yolande Breytenbach staan.
Indien u enige herinnering aan die geleentheid het, hoor ek graag daarvan.
Ek hoop om van u te hoor.
Vriendelike groete
Francis
Die volgende dag kontak Anton Loubser my telefonies. Die lyn is dof, maar ek maak genoeg uit van wat hy my vertel. Ja, dit is hy op die foto.6 Hy onthou Breyten en Yolande met groot waardering. Hy het Breyten die eerste keer ontmoet toe hy in 1961 by die ambassade aangekom het om hulp te vra vir Wilhelm Knobel wat hy verward op straat gevind het.7 Hy onthou gebeure rondom visumaangeleenthede by die ambassade in the 1960’s – veral die visumweiering aan Yolande in 1965 – en is krities oor die behandeling wat die Breytenbachs van die destydse ambassadeur (Willem Dirkse van Schalkwyk) gekry het. Hy onthou kontak tussen hom en sy vrou, Elizabeth, en Breyten en Yolande. Hy het vergeefs probeer om kontakbesonderhede van haar te kry na Breyten se afsterwe sodat hy met haar kon simpatiseer.
Hierna het ek Yolande ingelig oor my gesprek met Anton. Dit het aanleiding gegee tot skakeling tussen hulle. Ek is dankbaar dat hierdie soektog van my twee mense wat mekaar laas in die 1960’s in Parys gesien het, in kontak met mekaar gebring het. Nie Yolande of Anton het spesifieke herinneringe aan die geleentheid van die oorhandiging nie – maar daar staan hulle saam op die foto!
Ek kon daarin slaag om ’n eksemplaar van Anton se memoires, ’n Diplomatieke dagverhaal (Malan Media, 2019), op te spoor en aan te koop. In die hoofstuk “Parys, Frankryk, April 1961 – Junie 1965” is daar interessante verwysings na en beskrywings van kontakgeleenthede tussen hom en Breyten. Alhoewel hy nie spesifiek na die oorhandigingsgeleentheid verwys nie, skryf hy dat hy ’n eksemplaar besit van Katastrofes, met die inskripsie: “Baie dankie vir al die vriendskap. Ek hoop u geniet dit – Breyten, 26/2/65, Parys”. Dit was die datum van die prysoorhandiging.
Tydens hierdie geleentheid moes Anton en Chris mekaar ontmoet het. Of ten minste in dieselfde vertrek gewees het, want hulle verskyn op foto’s wat tydens die geleentheid geneem is. Drie maande later, op 26 Mei, word in die Afrikaanse pers aangekondig dat ’n visum aan Yolande afgekeur is. Albei hierdie mans is op verskillende maniere by die visumdebakel betrek. Chris sou later sy kant van die verhaal vertel in die derde deel van sy reeks artikels in Huisgenoot. Anton se perspektief op die gebeure word in die memoires geboekstaaf (53–5).
Anton se Paryse hoofstuk word nou vir my ’n belangrike gids (saam met André Brink se Die ambassadeur asook sy outobiografie, ’n Vurk in die pad, en Leon de Kock se biografie oor hom, André P Brink en die spel van die liefde) in my soektog na moontlike kandidate vir die laaste ontbrekende deeltjie van die fotolegkaart: die lang man met die bril.
Die lang man met die bril langs Yolande
Kortstondig het ek gedink ek het die laaste deeltjie van die legkaart gevind toe ek lees hoe Anton skryf oor sy aankoms as derde sekretaris destyds in Parys:
19 April 1961 – Ek is gereed om met ’n loopbaan in die internasionale diplomatieke lewe in die buiteland te begin en om met die hoofstad van Frankryk kennis te maak. Dit sou ’n ampstermyn van vier en ’n half jaar in Parys word.
[...] As 25-jarige ongetroude jong diplomaat is dit my eerste buitelandse pos. Benewens Jeremy Shearar, tweede sekretaris by die ambassade wat ek voorheen vlugtig in Pretoria ontmoet het voor hy na Parys as sy eerste pos oorgeplaas is, ken ek geen siel in die stad nie. Sou daar enigiemand van die ambassade wees om my op die lughawe te ontmoet? Sou my akkommodasie gereël wees?
Toe die vliegtuig land is dit byna middernag, donker en ysig koud. [...] By die ingang na die ontvangslokaal staan daar uiteindelik nog net een lang, skraal man, ernstig, met ’n bril [my kursivering – FG] , geklee in ’n warm, donkergrys jas, duidelik wagtend op iemand of iets om te gebeur. Op hoop van segen, stap ek nader en stel myself voor. Hy reageer vriendelik: “Aangename kennis. Ek is Bröder Gaerdes, derde sekretaris by die ambassade. Reeds ’n jaar in Parys.” Hy vergesel my na ’n hotelletjie, die Hôtel Mont Blanc in die Rue Lauriston, binne loopafstand van die ambassade, waar ek my tuismaak tot ek ’n eie heenkome kan vind. (17–8)
Hierdie lang skraal man met die bril moet immers die einste “Broder” wees wat as sjabloon gedien het vir Brink se Derde Sekretaris in sy 1963-roman Die ambassadeur! Brink en sy eerste vrou, Estelle, was van Oktober 1959 tot Augustus 1961 in Parys. Die roman is geskoei op Brink se waarneming van mense wat tussen 1959 en 1961 aan die ambassade in Parys verbonde was – Estelle het daar ’n tydelike werk gehad. In ’n Vurk in pad vertel Brink:
Dié boek is waarskynlik die naaste roman à clef wat ek ooit geskryf het. Ek onthou hoe senuagtig ek was toe my vriend Broder my en Estelle in Grahamstad besoek het pas nadat die boek verskyn het, omdat die parallelle tussen hom en die Derde Sekretaris, Stephen Keyter, in die boek moeilik misgekyk kon word. En binne ’n paar minute nadat hy op die lughawe van Port Elizabeth geland het, het hy begin praat oor die boek en die naarstigheid waarmee sy kollegas in die ambassade in Parys hulle probeer identifiseer het.
[...]
Wat my aanvanklik verbaas (en ook stilletjies verheug) het, was dat Broder, wat hom verkneukel het aan die konsternasie waarmee party van sy kollegas hulle in die boek “herken” het, my oor en oor – maar dalk net te nadruklik – verseker het hoe verlig hy was dat hy nie in die boek gebruik is nie, terwyl ek self benoud was dat Stephen Keyter ’n bietjie te opvallend aan hom ontleen is. (174)
Ek het dit aanvanklik moeilik gevind om “Broder” met ’n Google-soektog te koppel aan ’n personeellid in die destydse Suid-Afrikaans ambassade in Parys. Anton se memoires verskaf egter inligting oor Hans Bröder Gaerdes, ’n gebore en getoë Suidwester oorspronklik van Okahandja. Die kunssinnige Bröder met sy mooi baritonstem was nie net Anton se naaste medewerker nie, maar as alleenlopers het hulle baie tyd na ure saam in Parys deurgebring. Hulle was byna twee jaar kollegas en toe is Bröder na die hoofkantoor oorgeplaas.8
En net daar loop hierdie leidraad in my soeke na die laaste stukkie van die legkaart dood. Want Bröder Gaerdes was nie meer in Parys toe die APB-prys aan Breyten toegeken is nie!
Hoe nou verder?
Ek het lysies gemaak van mense met wie Breyten bevriend was in die 1960’s, of ten minste mense wat in sy kring beweeg het. Verskillende bronne is daarvoor gebruik, gepubliseerd en ongepubliseerd, soos in privaatkorrespondensie waartoe ek toegang het.
Daar het name opgeduik van mense wat aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys verbonde was in daardie tyd, naamlik: Roy McNab9 en Jeremy Shearar.10 Maar Anton herken nie die man met die bril as iemand van die destydse Suid-Afrikaanse ambassade nie – die man mag moontlik iemand wees wat destyds aan die Nederlandse ambassade of ’n ander amptelike instansie verbonde was.
Breyten se vriendekring in die 1960’s het verskeie uitgeweke swart Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars ingesluit. Daar was ook wit Suid(der)-Afrikaanse kunstenaars wie se name opduik.
In hierdie tyd was die kunstenaar Christo Coetzee11 in Parys en hulle het kontak gehad. Die foto’s wat ek van Coetzee as jong man kon opspoor, lyk egter nie vir my na ’n visuele leidraad nie.
Keith McKenzie was ’n huisvriend van Breyten en Yolande in die 1960’s – iemand wat gekom en gegaan het. Chris (Huisgenoot, 5 Augustus 1977) verwys na hom as ’n Suid-Afrikaanse beeldhouer. André verwys na hom as ’n Rhodesiese beeldhouer.12 Daar is verskeie verwysings in persoonlike korrespondensie na hom. ’n Internet-soektog het niks opgelewer nie. Op grond van ’n navraag via ’n vriend het die kunskenner Deon Viljoen (wat lank Stephan Welz se Kaapse kantoor bestuur het en daarna na Sinclair & Stephenson is) karige inligting opgespoor en aangestuur wat bloot daarop neerkom dat Keith McKenzie (1924–1983) ’n kunstenaar was. Geen foto’s van hom is bekombaar nie. En Yolande het hom nie op die foto herken nie.
Daar was ook verskeie internasionale skrywers en kunstenaars in Parys met wie Breyten kontak gehad het in die vroeë 1960’s.
........
Ek hoop daar sal ’n leser van hierdie klein speurverslag wees wat die legkaart kan voltooi.
........
Een van die name wat gereeld opduik, is dié van die Brit Bill Dodd13 wat een van Breyten se lewenslange vriende sou bly. Ek het ’n e-pos aan hom gestuur en gevra of hy dalk die geleentheid onthou en of hy die man langs Yolande op die foto herken. Ek het nie ’n antwoord ontvang nie. Maar hoe graag ek ook al hoop dit is hy, dink ek nie so nie, want Yolande sou hom herken het.
Jim Ryan14 was ’n Amerikaanse digter (en musikant) wat hom in die 1960’s in Parys bevind het. Interessante persoonlikheid, maar ek dink nie hy is “die lang man met die bril” nie.
Twee Hollandse beeldhouers in die vriendekring was Mark Brusse en Martin Engelman15 wie se loopbaan besonder interessant verloop het. Mark Brusse het egter nie vir hom, of enige ander tydgenootlike Nederlandse kunstenaar, op die foto herken nie.
Pierre Skira was ’n Franse/Paryse kunstenaar wat Breyten aan steenlitografie bekendgestel het . Hulle het saamgewerk aan litografieë, insluitend Breyten se Pienk droom. Hulle het in 1964 saam uitgestal in die Galerie La Roue in Parys. André verwys na Skira in ’n Vurk in die pad (331). Maar die foto van hom wat ek kon opspoor, toon nie ’n ooreenkoms met die persoon wat langs Yolande in die foto staan nie.
Dan was daar die Nederlandse skrywers met wie Breyten in Parys en Amsterdam kontak gehad het in die vroeë 1960’s, soos Karel Appel, Rudy Kousbroek, Lucebert, Gerrit Kouwenaar, Bert Schierbeek, Simon Vinkenoog.16 Ek het die foto van die lang man met die bril (gesny uit die groter foto) aan Ena Jansen gestuur met die versoek: “Dit kom uit ’n groepfoto wat in die 1960's in Parys geneem is. Ek wonder of jy dalk die persoon kan identifiseer. Moontlik ’n destyds jong Nederlandse skrywer in Parys?” Sy (en van haar Nederlandse oudkollegas) meen dit kan dalk Simon Vinkenoog wees. Maar ek is nie oortuig nie.
Besluit
Ek het wyd en syd gesoek na die laaste stukkie van die fotolegkaart, maar tot op datum bly die lang man met die bril onbekend. Die soektog was egter in sigself ’n avontuur en het my op interessante ompaaie geneem na Breyten se wêreld in Parys in die vroeë 1960’s.
Ek hoop daar sal ’n leser van hierdie klein speurverslag wees wat die legkaart kan voltooi.
Eindnotas
1 Ek het Breyten die eerste keer persoonlik belewe tydens die Sestiger-somerskool van 1973 aan die Universiteit Kaapstad. In 1976 het ek die MA-graad met ’n verhandeling getitel “Die sinestetiese beeld in die poësie van Breyten Breytenbach” verwerf. In 1986 behaal ek die DLitt-graad met die proefskrif getitel “Breyten Breytenbach: Die skrywer as openbare figuur”. Ek het die proefskrif verwerk en grootliks bygewerk en dit is laat in 1990 deur HAUM-Literêr in boekvorm gepubliseer as Breyten Breytenbach as openbare figuur. Kort na die verskyning van die boek is daar ’n dokumentêr daaroor deur Bedelia Basson vir ’n destydse TV-program vervaardig. Tydens die 1991-padreis vir die opname vir hierdie program is daar aangedoen by Breyten se ouerhuis in Wellington. Ek het in hierdie tyd by Breyten navraag gedoen oor ’n inskripsie wat hy in 1973 tydens die besoek aan sy ouerhuis op ’n dakbalk aangebring het. Hyberig soos volg daaroor in Return to Paradise (1993), die boek gegrond op ’n drie maande lange reis van hom en Yolande deur Suid-Afrika van Februarie tot einde April 1991.
Recently a literary sleuth contacted me to say she’s been to the house [where my parents used to live]. The town clerk took her to a warehouse where some rubble removed during alterations was kept (the house was bought by the Municipality). He showed her a beam (from the room where Yolande and I were supposed to have slept during our 1973 sojourn, with carved on it “Gueule de bois” and the date. “What might it mean?” she wanted to know. “Hangover”, of course. Sounds genuine. Was there no rope attached? The lines only dangle in beautiful places after all. “Grevilleas”, the dwelling was called, after tall silky oaks across the street.” (164)
“Literary sleuth” , speurneus, is seker ’n raak beskrywing vir my wat deur die jare op Breyten se spoor probeer bly het. Hierdie speurtoggie is maar net een klein toevoeging.
2 In die hoofstuk “Saam op die rondomtalie: Bartho Smit en Breyten Breytenbach” in die 2023-huldigingsbundel Bartho Smit. Koorddanser tussen triomf en tragedie, saamgestel deur Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris (59–102). Ek het gebruik gemaak van korrespondensie tussen Bartho en Chris en sy vrou asook enkele briewe van Breyten. ’n Ander bron was die reeks artikels oor Breyten wat Chris in 1977 in Huisgenoot gepubliseer het. Ek gebruik hier enkele uittreksels uit hierdie hoofstuk.
3 Die resepsie van die verskyning en bekroning van Breyten se dubbele debuut is toegelig in Breyten Breytenbach as openbare figuur (31–44) en in die 2019-huldigingsbundel breyten breytenbach: woordenaar woordnar – ’n huldiging, waarvan ek die redakteur is (199–201).
4 https://www.chrflagship.uwc.ac.za/media/galleries/art-against-apartheid-collection.
5 Mark Brusse se lewensverhaal is ’n opeenvolging van reise, kunservarings en multikulturele invloede. Hy is in 1937 in Alkmaar gebore, in ’n kunsmilieu van joernaliste, skrywers en akteurs. Hy het die grootste deel van sy jeug in die oorlog-ontwrigte Nijmegen deurgebring, saam met sy ma, wat weer getroud is na die dood van sy pa. Hy woon die Akademie in Alkmaar by. As 23-jarige verlaat hy sy vaderland in 1960 en vestig hom in Parys waar sy kunstenaarsloopbaan begin. Hy onderneem talle reise, en sy groot beelde staan in verskillende plekke waar hy kon werk. Hy woon en werk tans weer in Parys.
In Parys van die 1960’s is hy blootgestel aan die Nuwe Realisme, waarvoor die kunskritikus Pierre Restany ’n kampvegter was. Hy het ook kennis gemaak met Robert Fillou en die Fluxus-beweging en vriendskappe aangeknoop met kunstenaars soos Yves Klein, Jean Tinguely, Arman, Raymond Hains en Daniel Spoerri. Hierdie kunstenaars se manifes was: Realiteit is kuns. Hulle het bande gesmee met Zero in Duitsland, Azimuth in Milaan en Nul in die Nederlande.
In 1965 het Brusse na New York verhuis, waar hy in die plaaslike kunstoneelkringe beweeg het: die Chelsea Hotel – waar onder andere Jan Cremer gebly het – en Andy Warhol se The Factory. Hy was bevriend met John Cage en ontmoet Larry Rivers, Kusama, Rauschenberg, Nam June Paik, Claes Oldenburg en ander kunstenaars.
In 1983 kry hy die geleentheid om vir ’n paar maande in Japan te werk. Hier ontdek hy keramiek asook nuwe uitdrukkingswyses in die vorm van werk met papier en collage. In 1987 en in jare daarna werk hy in Korea, waar hy onder andere ’n groot beeld vir die Olimpiese park aldaar skep. Dit is daar waar hy sy eerste assemblage’s in brons maak en Hanji-papier ontdek waarop hy groot skilderye maak wat op doek gegom word met die gebruik van die marouflage-tegniek. Hy keer gereeld terug na Japan, waar hy sy tweede vrou, Nobuko, ontmoet. Sy is self ’n kunstenaar.
Vanaf sy Paryse basis reis Brusse wêreldwyd: Taiwan, Réunion, Ecuador, Argentinië, Suid-Afrika en Benin.
https://www.borzo.com/artists/77-mark-brusse.
6 Anton Loubser is op 26 Desember 1935 in Kaapstad gebore. Twee jaar na die voltooiing van die BCom-graad aan die Universiteit Stellenbosch het hy as beroepsdiplomaat in diens getree van die Departement Buitelandse Sake (1958 tot einde 2000). Buitelandse poste het ingesluit Parys (derde sekretaris, 1961–1965), Brussel en Luxemburg (Ambassaderaad, 1970–1976), Parys (minister, 1980–1984), Tel Aviv (ambassadeur, 1986–1988). Tussen poste was daar diens in verskillende hoedanighede in die hoofkantoor. Sy beroepslewe strek oor die ampstermyne van HF Verwoerd, BJ Vorster, PW Botha, FW de Klerk, Nelson Mandela en Thabo Mbeki. Sy amptelike aftrede was einde Desember 2000.
Na sy aanvanklike graad het hy ook die volgende kwalifikasies behaal: BA (Unisa, 1971), BA Hons (UP, 1980), MA (Internasionale Politiek) (UP, 1983) en LLB (Unisa, 2003).
Sy (stigters)lidmaatskap sluit talle verenigings in: die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika; Orde van den Prince; Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika; Alliance Francaise; Kunsvereniging Pretoria; Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Visuele Kunste (Sanava) – as nasionale president (2004–2010 en later visepresident (2010–2014); verkose lid van die uitvoerende komitee van die International Association of Art (IAA), Afrikastreek, met hoofkantoor in Parys en geassosieerd met Unesco (2005–2015) en sedertdien ere-adviseur (Curriculum vitae, 25 November 2023).
7 Na die telefoniese gesprek lees ek weer in Deon Knobel se 2008-boek, Wilhelm Knobel – die ongewapende man (23–4), oor die voorval in 1961 in Parys waarin Breyten en Anton Loubser so ’n belangrike rol gespeel het. Anton gee sy weergawe van die gebeure in sy memoires (32–8).
8 Anton verskaf (in sy boek en in korrespondensie met my) meer inligting oor die verloop van Bröder Gaerdes se lewe as wat André in ’n Vurk in die pad doen: In Januarie 1963 het Bröder die pianis Marie du Toit (suster van die sangeres Nellie du Toit) ontmoet en op 19 September 1964 is hulle getroud. Hulle het gereeld musiekaande gehou met haar as pianis en begeleier. Hy was ’n “gesinsmens” en besonder geheg aan hulle twee aangenome kinders. Sy verdere diplomatieke poste sluit Beiroet en Tokio as konsul in. Hy was ’n ernstige depressielyer wat dit nie gewys het nie en waarvoor hy nie medikasie geneem het nie. “Met sy sterk persoonlikheid het hy gereken dat hy sy toestand kon bemeester. Ongelukkig het die swart hond hom uiteindelik op 19 November 1974 ingehaal.”
9 Roy MacNab (1923–2004) was ’n Suid-Afrikaans digter, joernalis, uitsaaier, diplomaat en skrywer. Hy het van 1955 tot 1959 as kulturele attaché in die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Londen gedien en van 1959 tot 1967 in die Raad: Kultuur- en Persaangeleenthede by die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys.
https://africanpoetics.unl.edu/inthenews/poets/item/apdp.person.001080.
10 Jeremy Shearar was tussen 1958 en 1966 in die posisie van derde tot eerste sekretaris in die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys. https://prabook.com/web/jeremy_brown.shearar/1312578.
11 Christo Coetzee (24 Maart 1929 – 12 November 2000) was ’n Suid-Afrikaanse assemblage- en neobarokkunstenaar wat geassosieer word met die avant-garde-kunsbewegings in Europa en Japan van die 1950’s en 1960’s. Hy woon en werk van 1961 tot 1965 in Parys. Sy eerste solo-uitstalling het in Januarie 1961 in Galerie Stadler geopen. In Maart/April 1962 was sy diptiek Celestial doors deel van die uitstalling Antagonismes 2: L’Objet, Musée des Arts Décoratifs, Palais du Louvre. ’n Tweede solo- uitstalling van neobarokwerke vind in Oktober/November 1963 in Galerie Stadler plaas. Breyten se eerste Paryse kunsuitstalling het in 1964 in die Galerie Girardon plaasgevind.
12 André vertel in ’n Vurk in die pad hoe hy in 1966 op ’n straat in Parys ’n koerant gekoop het met die nuus van die moord op HF Verwoerd. Hy het by Breyten en Yolande in hulle woonstel tuisgegaan:
Dit was ’n goeie kilometer na die Rue Malebranche toe, maar ek het heelpad gehardloop. Bokant die trap het ek by die woonstel binnegebars. Breyten was in die lang smal woonkamer saam met ’n ou vriend, die Rhodesiese beeldhouer Keith MacKenzie. Yolande het klaar gaan slaap.
Binne enkele minute is sy wakker gemaak en is die koerantberig oor en oor voorgelees. Ek het aangedring dat ons die tyding met ’n dop vier.
Maar die glasies was nog skaars gevul, toe Keith in ’n stem vol donker agterdog vra: “Waarop is ons nou eintlik veronderstel om te drink?”
Toe eers tref dit ons: Keith was nogal sterk regsgesind, en ’n bewonderaar van Verwoerd. (’n Paar dae later sou hy selfs die begrafnisdiens bywoon wat die Suid-Afrikaanse ambassade gereël het. Omdat hy self niks pasliks gehad het om aan te trek nie, moes hy maar ’n baie knap ou swart pak leen wat Breyten ’n stuk of ses jaar vantevore op sy troue gedra het. Daarby het hy ’n cowboyhoed met ’n wit volstruisveer in die band opgesit. En hy was kaalvoet.) ’n Oomblik lank was die atmosfeer gelade. Keith het ons aangegluur, gereed om by die geringste aanleiding tot die oorval oor te gaan – en hy was ’n goeie twee keer so groot as ek en Breyten tesame.
Dit was Breyten wat tot ons almal se redding gekom het, met ’n vertoon van diplomasie wat nog altyd kenmerkend van hom was. “Ons drink op Suid-Afrika,” het hy gesê. En dit was toe presies wat ons gedoen het. (286)
13 Bill Dodd is in Engeland gebore en het aan Oxford studeer. Hy het vir langer as 40 jaar Engelse letterkunde aan die universiteite van Bologne en Siëna doseer. Hy publiseer studies oor digters van die Romantiek en 20ste-eeuse digters (Keats, TS Eliot, DH Lawrence, Edwin Muir) en oor Shakespeare se toneelstukke en poësie. Hy publiseer ook self as digter. Hy en Breyten is vriende sedert Breyten in Europa aangeland het. Breyten het in verskillende gedigte met hom in gesprek getree. Dodd publiseer onder andere ’n artikel oor Breyten se skilderkuns en hy neem deel aan die laaste Dansende Digtersfees op Spier. En Bill se gedig “a death too soon” vir Breyten is opgeneem in die gedenkdiensprogram van die Breytenbach Sentrum, Sondag 23 Februarie 2025.
https://www.meer.com/en/23178-the-art-of-breyten-breytenbach.
https://spierpoetryfestival.co.za/poet/bill-dodd.
14 Die enigste internetbron oor ’n Jim Ryan wat ek kon opspoor, wat hom verbind aan die Paryse kunstenaarslewe van die 1960’s, verskaf die volgende inligting: Hy is in 1924 in Minnesota gebore en na hy in 1958 ’n graad in filosofie daar behaal het, is hy opgeroep vir die weermag en na Europa gestuur. Na 21 maande se diens bevind hy hom in Parys waar hy klasse by die Sorbonne bywoon. Daar het hy begin skryf en het hy betrokke geraak by die “beat poet community” wat ’n bloeityd in Frankryk en oor die wêreld beleef het. In 1968 het hy ook musiek begin beoefen. In 1975 keer hy terug na Amerika. In 1993 het hy hom in Oakland gevestig en deel geword van die San Francisco Bay Area se improvisasie- en jazztoneel.
15 Martin Engelman is in 1924 naby Utrecht in Nederland gebore. Na sy opleiding het hy as grafiese ontwerper in Den Haag en St Gallen gewerk. Van 1948 tot 1953 het hy hom in Parys gevestig. Na ’n verblyf in Italië het hy teruggekeer na Parys, waar hy as grafiese kunstenaar sy brood verdien het, maar op sy skilderkuns gefokus het. Sy eerste solo-uitstalling van skilderye het in 1960 in die Galerie Giraudoux, Parys plaasgevind. Na ’n interessante loopbaan elders in Europa is hy in 1992 in München oorlede.
https://martinengelman.jimdofree.com/biography.
16 Breyten vertel aan Willem de Vries oor sy skakeling met Nederlandse skrywers:
My eerste kontakte met die Vijftigers, oftewel die Generatie van Experimentelen, het op ’n natuurlike wyse gebeur. Jan Rabie, toe net terug van ’n lang verblyf in Parys – ek praat nou van die laat vyftigerjare in die Kaap – het vir my ’n aantal ontmoetings bewerkstellig wat sou kon dien as raakpunte toe ek vir die eerste keer weg is uit die land. Karel Appel in Parys byvoorbeeld. Later ook Corneille. Rudy Kousbroek het soos baie van daardie groep redelik maklik beweeg tussen Nederland en Frankryk en mettertyd ook verder suid soos in die geval van Lucebert. Vir iemand met ’n Suid-Afrikaanse paspoort was dit moeiliker: ek onthou dat ek by verskeie geleenthede die grense onwettig en met ompaadjies oorgesteek het. Gerrit Kouwenaar, met sy gestroopte vakmanskap, was vir my ’n vormende invloed. Bert Schierbeek miskien nog meer. Sy skryfwerk het wyer ruimtes bestryk en was dalk meer bewustelik polities internasionaal en betrokke. ’n Bietjie later ook Simon Vinkenoog, meer van ’n beat en hallusionis as sy tydgenote.
Kommentaar
Francis, ek sal graag wil bydra tot jou verhaal vanaf Taurus se kant.