(Woodstock, Groentemarkplein, Manhattan-Kaboel, die Boston-bomme en ’n ode aan die vrou.
Dan was daar nog Miss Maggie ook)
Dit is Saterdag 3 Februarie 1990. Ek staan ek vroegoggend op Groentemarkplein in Kaapstad. Ysters klap soos wat die stalletjiemakers kamp opslaan vir die dag se vlooimark. Die energie is vars en opgewonde. FW het gister sy witvlagtoespraak in die parlement gemaak. Vandag is die eerste dag van die res van Suid-Afrika. Die pre-hangover, winddronk gedeelte van die straatmusikante se deurnagpartytjie is nog in volle gang. Die raserigste van almal is 'n tandlose busker met 'n ou kitaar wat Richie Havens se “Freedom” oor en oor op die plein uitbasuin. Soos Richie in 1969 by Woodstock, is hy vandag die opening act vir die geboortevieringe van ’n nuwe era. “Freedom!, Freedom!” weergalm dit tussen die moederstad se grys geboue en spoel deur die strate tot waar dit ricochet teen die koel mure van die St George-katedraal.
Dié video wys die hartskeur-emosie van ’n tandlose Richie Havens, die eerste kunstenaar wat die halfmiljoen mense by die Woodstock gig op hulle voete gekry het. Op sy onortodokse manier gooi hy met ’n lang linkerduim sy drukke op ’n oop D-gestemde kitaar. Die energie wat Richie se “Freedom” in 1969 op Woodstock losgelaat het, is dieselfde energie wat 21 jaar daarna nog op Groentemarkplein weergalm het.
Die Great American Dream het via Viëtnam gekulmineer in Watergate, 9/11, die Kaboel-bomme en die Boston-bomme. Die Engelse somer van die psigedeliese 1960’s het via Adolf Thatcher en die Falkland-oorlog ook ’n reeks tereuraanvalle en ’n staatsbegrafnis in die St Paulus-katedraal opgelewer. Die busker op Groentemarkplein se droom het uitgeloop op die Americans se bende-oorloë op die Kaapse vlakte, Marikana, Nkandlagate en ons eie klein Sentraal-Afrikaanse Viëtnam in wording. Die omdraai-frase van Richie Havens se song begin nou inskop : “Freedom! – Sometimes I feel like a motherless child, a far way from home”.
Die gemengde openbare reaksie op die Ystervrou se heengaan het my weer laat dink aan een van die mees prikkelende odes wat aan die skoner geslag opgedra is, aan vroue oor die algemeen, soos wat Renaud dit destyds in die gloriedae van Margaret Thatcher gesing het. Die vertaling hierby is ’n vrye vertaling van slegs enkele van die verse, beslis nie poëties nie, maar gedoen sodat die “call a spade a shovel”-effek van Renaud se woorde behoue kan bly.
Miss Maggie – (Renaud)
Vroue van die wêreld of straatvroue
Dikwels is julle maar dieselfde
Vroue wat beroemd is of alledaagse vroue
Vroue van alle soorte – ek is lief vir julle.
Selfs aan die eenvoudigstes van julle
Wil ek hierdie paar verse opdra
Dit spruit voort uit my afkeur van mans
Mans met oorlog op die brein.
Want geen vrou op aarde
Sal ooit dommer, meer astrant of oneerliker kan wees as haar broer nie.
Behalwe miskien vir Madame Thatcher.
Vroue, ek is lief vir julle
Want wanneer sport oorgaan tot oorlog
Is daar nie een chick in die skare,
Tussen al die fanatiese malles, dom van haat en van bier
Tussen almal wat vloek op die blou truie
En hulle wat skree op die vuilgoed in groen
Ja, daar is nie een hooligan chick
So onnosel en moordsugtig soos die mans nie
Selfs nie in Engeland nie
Behalwe beslis vir Madame Thatcher.
Vroue, ek is lief vir julle
Want julle wil nie gaan oorlog maak nie
En die aanskoue van ’n vuurwapen
Laat nie jul eierstokke vibreer nie
Want selfs tussen die jagters wat losbrand op als wat leef
Het ek nooit ’n vrou gesien wat ’n geweer so kan blink vryf
Vir daardie gevoel van mag nie
Behalwe vir Madame Thatcher
Dit is nie ’n vroulike brein
wat die atoombom uitgevind het nie
en geen vrou het die bloed van Indiane op haar hande nie
Palestyne en Armeniërs
Getuig vanuit hul grafte
Dat volksmoorde gepleeg word deur mans
Soos SS-troepe of stiervegters.
In hierdie vervloekte mensdom
Is die moordenaars almal broers
Geen vrou is soos hulle nie
Behalwe vir Madame Thatcher.
Vroue, ek is ten einde laaste veral lief vir julle
Vir die sagtheid in julle oë
In teenstelling met mans wat hul krag put uit hul penisse
En wanneer die laaste uur aanbreek
Sal die hel vol van die vuilgoed wees
Wat rugby speel of oorlog maak
En wat kyk wie die verste kan pis
En, as ek op aarde kan bly,
sal ek graag wil verander in ’n hond
en vir ’n plek om my been te lig
sal ek my wend tot Madame Thatcher.
Op 11 September 2001 het ek die vroegmiddag- vertoning van die rolprent Pearl Harbour gaan kyk. Ek was alleen in die teater. Gedurende die rolprent kon ek die sinlose bomgooiery nie meer verduur nie en het uitgeloop. Buite die teater was daar ’n Hi-Fi-winkel met televisieskerms in die vertoonvenster. Ek kon my oë nie glo toe die tonele daar op die groot televisieskerms oor en oor wys hoe ’n vliegtuig in ’n hoë gebou vasvlieg nie. Mettertyd het daar meer mense rondom my voor die vertoonvenster in gedempte ongeloof na die skerms kom staan en kyk. Die klank was af, daar was nie ’n radio of kommentaar nie en ons het gestaan en spekuleer wat daar aan die gang is. Toe kom daar jou wragtigwaar nog ’n tweede vliegtuig en donner in die ander gebou vas. Die werklikhied sou veel erger wees as wat enige van ons kon dink.
Die video hieronder wys ook hoe mense op 9/11 met hul alledaagse lewe aangaan en dan stadigaan oor ’n motorradio of voor ’n winkelvertoonvenster op ’n televisieskerm die afgryse van die Manhattan-gebeure stuk vir stuk in ongeloof begin waarneem – en nie mooi besef wat hulle sien of hoor nie. Andere, soos die Oosterse gevegkunsklas op die Trocadero in Parys, en die Afgaanse meisie en Puerto Ricaanse seun wat in die veld baljaar, bly salig onbewus van die gebeure. Van die kameraskote is van agter die televisieskerm en wys die mense wat op straat deur die venster na die televisie staan en kyk . ’n Dogtertjie het dit eerste gesien – die sorgelose lag op haar gesig verander in verbaasde ongeloof en afgryse. Die wêreld het binne ’n paar minute nog ’n laag onskuld afgeskud. Saam met die Twin Towers het die sonde vir die soveelste keer weer geval. Eweneens verskaf Renaud se lirieke ook ’n heel unieke perspektief op die gebeure van 9/11 :
Manhattan-Kaboel – (Renaud)
Klein Puerto Ricaan, goed ingeburger in New York
In my gebou van glas en van staal
Doen ek maar net my werk, vat ’n lyn coke en drink my koffie
Klein meisie van Afganistan, aan die ander kant van die aarde
Nog nooit het sy gehoor van Manhattan nie
Vir haar is armoede en oorlog alledaags
Twee vreemdelinge aan die uithoeke van die aardbol
Twee onbekendes, anoniem, maar nogtans
Word hulle saam verguis op die altaar van ewige geweld
Hy : ’n 747 het in my venster ontplof
Sy : My blou hemel het verander in ’n storm
terwyl bomwerpers my dorpie uitgewis het
Hy: So long, vaarwel aan my Amerikaanse droom
Sy: Ek sal nooit weer ’n slavin van die honde wees nie
Hy: Hulle wat vir jou die Islam van tiranne geleer het
Het hulle dan nooit die Koran gelees nie?
Sy: Ek het weer stof geword
Hy: Ek sal nooit die meester van die heelal kan wees nie
Hy en Sy: Hierdie land wat ek so liefgehad het
Is dit ook maar net ’n kolos met voete van klei?
Gode en gelowe, oorloë en beskawings
Wapens, vlae, lande en nasies
Maak van ons almal net kanonvoer
Maar dis nie net vir kom vat en oorgee nie. Richie Havens, die man met die lang linkerduim, en sy musiek het edel verouder. Groentemarkplein se buskerman sing nou sy vryheidsliedere op ’n ander plein. Die son kom weer en weer op en vryheid word gereeld iewers op aarde gevier. Elke dag. Omdat ons bly glo in die opstandigheid van die vlees en in die hewige lewe. En ek verkyk my ook nog steeds aan Richie se kitaarduimgooiery. Hierdie Richie Havens-studio-opname van George Harrison se “Here comes the Sun” is ’n besonder genuanseerde weergawe van die song. Luister veral hoe stylvol hy die melodie aanpas by sy wyse soul-interpretasie.
And in the end,
The love you take,
Is equal to the love you make.
(John, Paul, George en Ringo – en Richie die duimgooier vir vryheid)
*Richie Havens is op Maandag 22 April, vier dae na die skryf van hierdie rubriek, oorlede aan ’n hartaanval.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

