Die week in woorde
Vir my is vandag die vooraand van vier weke se verlof.
Goed, tegnies jok ek. Vandag is nie die vooraand nie, dis die eerste dag van my verlof, maar ek kon dit nog nie oor my hart kry om op te hou werk nie. Dis kompleks. Dis verlof-binne-in-verlof. En dis moeiliker as wat dit klink.
Ek werk reeds twee maande aansienlik minder, met die uitsluitlike doel om aandag aan my meestersgraad te gee, maar “minder” word vir die volgende vier weke “niks”. Dis nou as ek dit kan régkry om op te hou werk. Dis nie dat ek hipervoorbeeldig is en my werkgewer wil laat dink dat ek heeldag en aldag net werk nie. (Maar dit sal seker nie skade doen nie: Hallo Etienne! Hallo Naomi!) Die eintlike waarheid is dat ek nie sonder werk kan klaarkom nie. Ek is die vrug van ’n lang lyn trotse werkoholiste. (Hallo Mamma! Hallo Pappa!)

My ouers: twee uit ’n lang lyn trotse werkoholiste
Ek onthou een Kersdag wat ons as gesin in my pa se kantoor deurgebring het by die Universiteit van Zoeloeland. Op die spyskaart was my ma se geheime resep wat sy jare terug met een of ander kolonel gedeel het – deesdae bekend as Kentucky Fried Chicken. Ek onthou die stapels en stapels papiere – nou nog ’n kenmerk van my pa se lessenaar – en ons besoek aan die universiteit se proefplaas om seker te maak dat die dierasies daar ook lekker Kersfees hou, en aanhou kou.
Ek herinner my ’n ander keer toe my ma vir die skool se troepie trompoppies uniforms gemaak het vir ’n groot kompetisie. (Nee, ek was nie self ’n trompoppie nie. Ek het wel die klok-lier gespeel in die skool se kadetorkes. Voorwaarts, mars!) Die besonderhede ontgaan my, maar daar was een of ander krisis – die materiaal was laat of so iets – maar die deel wat ek wel mooi onthou, is die deurnag-stikkery op haar industriële naaimasjien om daai trompoppie-rokkies klaar te kry. Dit was uiters stresvol en ’n groot gejaag, maar terselfdertyd was daar ook vriendinne wat kom help het en ’n gelag soos jy min te hore kry.
Nou, jare later, het die Slippers- en Smith-bloed in my are (ook verryk deur die Maritze en die Langenhovens) tot oordraagbare volwasse werkoholisme gelei. Gelukkig het ek dit reggekry om in ’n loopbaan te beland waarvan ek hou. Ek moet myself nou nog dan en wan knyp om seker te maak dat ek regtig met my boude in die spreekwoordelike botter beland het: dat ek kan skryf vir ’n lewe. Ja, goed, daar is nou bietjie admin en ander goed ook tussen-in betrokke, en nou en dan moet ek met mense oor die foon praat, maar ten minste staan ek nie meer, soos op 17, agter die toonbank van Mac’s Fish & Chips nie ... (Mens het nog vir drie dae ná jou skof soos ’n emmer ou kookolie geruik, soms met ’n aanloklike botoon van vars vis om die geur te komplementeer.)

Stof tot nadenke
By die lees van Alain de Botton se boek The Pleasures and Sorrows of Work so ’n maand of wat gelede het ek weer besin oor die ompad waarmee ek na die uiteindelike skryftafel gekom het: van die ywerige sesjarige wat haar ma se grys hare uitgepluk het teen een sent per haar, tot die entoesiastiese kinderoppasser wat ek in my tienerjare was, tot die senuweeagtige (en onbegaafde) kelnerin, tot die meisie-wat-dekor-en-rekwisiete-bou. Ek was ook al ’n dramajuffrou en ’n akademiese tutor, ’n administratiewe assistent en (gode behoed) ’n danser. In een tydperk van noodgedwonge werkloosheid het ek myself by die plaaslike gemeenskapsgroentetuin aangemeld, waar ek kompos gemeng het, beddings omgespit het en aan die einde van ’n lang sweterige dag komkommers geoes het om huis toe te neem vir my moeite.

Maar my ompad lyk maar vaal teen dié van die wêreld se bekendste skrywers. As jy eers begin kyk wat die groot name gedoen het voor hulle voltyds kon sit en liegstories opmaak, dan raak jy dankbaar vir jou ure agter die olierige vis-en-tjips-toonbank, en dink: dit was dalk nie so kak nie. Stephen King en Raymond Carver was immers albei op hulle tyd skoonmakers, en Douglas Adams het vir ’n wyle ’n hoenderskuur skoongemaak. Don de Lillo was op sy dag ’n glorified car guard. John Grisham het plante natgegooi by die plaaslike kwekery en later as loodgieter gewerk, en Kurt Vonnegut het motors verkoop en as vrywillige brandweerman gewerk. Jack Kerouac was op ’n stadium ’n petroljoggie en John Steinbeck ’n toergids by ’n visboerdery.

Party skrywers se vroeë loopbande vind sterk neerslag in hulle skryfwerk: William S Burroughs se werk as plaagbeheerbeampte het sy kortverhaalbundel Exterminator! help vorm en Margaret Atwood se werk as kassiere by ’n koffiewinkel is die tema van haar essay “Ka-ching!”. Maar vir die meeste mense wat ’n “regte werk” moet verrig terwyl hulle ’n Groot Boek opdroom, gaan dit maar opdraande. Dis ’n ewige stryd om die tyd en energie te vind om iets te skryf as jy deur die dag moes rugby afrig of wetenskaplike formules uitwerk. Dis nóg moeiliker as jy cappuccino’s moes aandra of vriendelik moes wees met simpel mense in die supermark.

Harper Lee
Maar soms gebeur daar ’n klein wonderwerkie met groot gevolge. Soos die gelukkige verhaal van Harper Lee, wat vir jare as besprekingsklerk by ’n lugredery gewerk het en nooit by haar eie skryfwerk uitgekom het nie. Een jaar ontvang sy ’n nota van haar vriende Truman Capote en Michael Brown: “You have one year off from your job to write whatever you please. Merry Christmas.” Vir een jaar kon Lee haar ten volle op haar skryfwerk toespits. Teen die einde van haar sabbatsjaar het sy ’n manuskrip: To Kill a Mockingbird. Die volgende jaar het sy ’n Pulitzer-prys.
Moral of the story: Kies jou vriende versigtig, jou werk selfs versigtiger; en as dit nie lyk of jy binnekort ’n sabbatsjaar pasella gaan kry nie, maak ten minste die meeste van jou enkele maand verlof.
[Ns: As jy graag meer wil lees oor die vroeë loopbane van bekende skrywers, gaan lees gerus hierdie artikel op MentalFloss.com. Ek het dit as bron gebruik vir die inligting oor skrywers se vreemde beroepe.]
Met ander se woorde


En ek sê “cheers” op dit!
Maak ’n digterlike draai
Loer in by Loftus Marais se boekbekendstelling by The Book Lounge en skryf sommer ook die datum vir die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands se kollokwium in jou dagboek:

Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

