Titel: Die laaste karretjiegraf
Skrywer: Athol Fugard, Riana Steyn
Uitgewer: NB Uitgewers / Publishers
ISBN: 9780798164047
Koop Die Laaste Karretjiegraf by Kalahari.com.
Dit is Athol Fugard se eerste drama in Afrikaans. Die drama is gebaseer op die antropologiese studie van Riana Steyn oor die karretjiemense, by name in die Colesberg-omgewing in die vroeë jare van die vorige dekade. Gegewens uit Steyn se studie is vervleg met dele van die familiegeskiedenis van die Geduld-gesin-karretjiemense. Een van die karakters is inderdaad Sarah, die antropoloog wat ooreenstem met Steyn as navorser. Besonderhede oor die geskiedenis van hierdie drama, die redes vir en van die ontstaan daarvan, is opgeneem in vooraf notas van die skrywers.
Die omslagontwerp is besonder mooi, en is 'n subtiele kunswerk gebaseer op 'n foto van 'n karretjiegesin. Dit gee 'n reliëfbeeld van die Karoo as landskapskarakter, en op die agterblad word dieselfde kunswerk gebruik as 'n vervaagde en vervlietende beeld van die lewe wat verbygaan. Die kunswerk word wesenlik deel van die teks.
Die notas en die titel van die boek kan die verkeerde indruk skep dat die karretjiemense totaal iets van die verlede is. Dit is egter nog nie waar nie en in 'n distrik soos Beaufort-Wes sien 'n mens nog gereeld die toneeltjie van die volgelaaide waentjie met die gesin en hulle besittings, die twee geduldige donkies wat die karretjie trek, en die hond wat saamdraf. Die karretjiemense het vroeër ook al in kortverhale gefigureer en hierdie drama is nie hulle eerste verskyning in die Afrikaanse letterkunde nie. Daar is ook publikasies oor hulle in historiese geskrifte. Maar hierdie drama is eg, waarlik eg, veral in die betrokkenheid van die medeskrywer deur haar antropologiese studie onder en by hierdie mense.
Die drama skuif heen en weer op drie vlakke: die teenswoordige, terugflitse en die gereelde tussentrede van Sarah, die alter ego vir die antropoloog. Op die verhoog kan dit met kundige regie slaag as 'n soort emblematiese kuns -- die verhaal en die verklarende antropologiese waarneming. Die tegniek in hierdie drama is, soos te verwagte, gerig op die verhoog en beligting. Daar is 'n hele paar sterk dramatiese tonele, en elkeen van hulle belig 'n wending in die verhaal.
Die verhaal in die drama is 'n sekere periode in die geskiedenis van die gesinnetjie. Die pa, Koot, was in die tronk nadat hy eers sy vrou Flora doodgeslaan het, en daarna ook sy tweede vrou Katryn met 'n skêr doodgesteek het. In albei gevalle was hy erg dronk. Die toneelganger/leser ontmoet die res van die gesin (die oudste seun Pienkes, die verstandelik gestremde seun Toek-Toek, die jong dogter Rokkies en die jong seun Outjie) ná die dood van Mieta, die ouma van die kinders en die ma van Koot.
Die openingstoneel is by ouma Mieta (Johanna Ackerman) se graf, waar die kinders klippe daarop stapel soos die gebruik is by karretjiemense se begrafnisritueel. Dit plaas die storie dadelik binne-in die lewe van die karretjiemense. Dié graf is 'n leidende motief dwarsdeur die drama, en Mieta word 'n simbool van 'n gesin se ontbinding en 'n leefstyl wat besig is om te verdwyn. Na die gesin terug is in die krotbuurt van Colesberg, fokus die verdere verloop van die drama op die kompleksiteit van die menslike gees, veral rondom die persoon van Koot Geduld.
Die verhaal word van minder belang en die krag van die drama lê in die episodes oor die droewe bestaan van hierdie mense, die weerloosheid van die mens en die intense emosies binne die karakters. Die verhaal van die naguil wat hom vervies het vir die son (een van Mieta se stories vir die kinders) en wat die as en kole uit die konka die lug ingestuur het om die Melkweg te vorm, is onderliggend aan die naïewe, feitlik primitiewe denke, 'n denke wat alles tot die fundamentele herlei. Dit is jammer dat die teks nie méér van hierdie denke weerspieël nie en dat die "wetenskaplike" binnekoms van die antropoloog, hoe nuttig dit ook al mag wees, tog soms die werklike karretjiemense se storie onderbreek. Dit word uiteindelik 'n soort dokumentêr, toegelig deur die tonele met en van die karretjiemense. Die ware drama in hierdie toneelstuk beweeg weg van spesifiek die karretjiemense en word in die groter geheel 'n voorstelling van menslike emosies en die brutaliteit en intensiteit van daardie emosies. Op hierdie vlak slaag die teks, maar dit gaan nie as sodanig net oor die wêreld van die karretjiemense nie.
'n Sterk dramatiese toneel speel hom af wanneer Koot ontdek dat Pienkes die karretjie opbreek vir hout en die donkies verkoop het vir geld om kos te koop. Koot is woedend en Pienkes sing:
Die karretjie hou ons warm
Die donkies maak ons vol
Ons pa sit in die tronk
Want hy was lelikdronk.
Albei raak gewelddadig en as Pienkes die byl omhoog hou, sê hy vir sy pa: "Jy't my mos geleer hoe om 'n ander een van kant te maak ..." In hierdie toneel kom die onderlinge wreedheid en die vertroebelde emosies op gelade wyse na vore. En wanneer Rokkies 'n stokpop gemaak, haar Flora genoem en haar mooi aangetrek het, kom Outjie en slaan die stokpop in stukke, want Flora is mos doodgeslaan. Hierdie ontstellende toneel met sy onsentimentele onderbou word nog ontstellender as die kinders dan die doodslaan van die vrou Flora nadoen – in die taal van daardie dag en die wreedheid van die oorspronklike gebeure.
In 'n toneel van nog groter wreedheid dramatiseer Outjie die oorspronklike: "Pa het haar vrekgeslaat met hom kierie. Ek het haar gesien. Sy't só gelê ... so krom. Sy was dood. Morsdood vrek!"
Die derde toneel wat hierdie klein siklus voltooi, is die verhaal van die siek hond, Donker. Toe Toek-Toek kos vra vir die siek, feitlik sterwende hond, en Mieta en Pienkes weier om van hulle klein bietjie kos vir die hond te gee, het Toek-Toek die hond buitentoe gedra. Toe hoor hulle 'n gekerm van mens en dier, "die pyn van die hond en die sielepyn van die seun wat uitloop op vreesaanjaende geluide: die gille van die seun, en die gefolterde tjankgeluide van 'n sterwende hond" waar Toek-Toek "die hond se kop met 'n klip vermorsel".
Die klip, simbool van die harde wêreld van die Karoo, vind aansluiting by die dood van Mieta en haar klipgraf. In die slottoneel, waar Sarah vir Koot bring tot 'n konfrontasie met homself, sy bestaan en sy verlede, kom alles saam: die mens is verweef met sy wêreld, en soos wat die Karoo, met sy harde klimaat en ruwe skoonheid, in Koot en die karretjiemense leef, so leef dit in Sarah, trouens in die mens as sodanig. Die Karoo word beeld van die mens se fundamentaliteit.
Die laaste karretjiegraf is 'n openbarende teks oor die donker emosies van die mens, oor die karretjiemense en hulle gebruike, en oor die Karoo as "puur aarde". Dit word 'n geheelbeeld van die ruwe en tegelyk eerlike aspekte van menswees.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
Kommentaar
Why was Pienkies angry with Koot,his dad?