Ons lê styf teen mekaar in die bed.
Twee moeë lywe se yl verweer
om ons van die koue front te red.
Die oeroue spel van die lyf het
ons lankal reeds uitgeredigeer.
Ons lê, styf, teen mekaar in die bed.
Met lang gesprekke slaag ons, net-net,
soms, om van die krake toe te smeer
om ons van die koue front te red.
Net die nostalgie bly oor, maar met
hopelose hoop bly ons probeer:
ons lê styf teen mekaar in die bed.
So verstar ons in 'n kil verset
teen erkenning van ons binneseer
om ons van die koue front te red.
In 'n skril, makabere ballet,
weerskante van die kloof vasgekeer,
lê ons styf teen mekaar in die bed
om ons van die koue front te red.


Kommentaar
Allerlieflik, hierdie skrywe. Gestroop tot teen die been.