Titel: Die Korannafonteiners, stories oor Ottosdal en sy mense
Outeur: Pieter de Jager
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-86919-204-4
Publikasiedatum: 30 November 2007
Aantal bladsye: 456
Prys: R250
Toe ek 'n klompie jaar gelede met die groot Poolse skrywer Ryszard Kapu?ci?ski 'n onderhoud voer, kon ek nie nalaat om hom te vra na sy siening van die toe hoogmoedige uitsprake oor globalisering nie. Sy antwoord was 'n hartlike lag. Dit is inderdaad 'n mag, sê hy, maar een wat ewe sterk teenkragte oproep. Dit het my onmiddellik laat terugdink aan 'n lesing van my kollega aan die Université Catholique de Louvain, Sonja vander Linde, 'n tydjie eerder oor die opkoms van "genealogisch schrijven", die teruggryp na die familie- en ander klein geskiedenisse in die resente romankuns.
Hier by ons het genealogie die afgelope jare baie mense begeester. Skrywers van outobiografieë en streekgeskiedenisse was nie bang om op te staan en hul hande diep in hul eie beursies te steek wanneer hulle met die bekende "koue skouer" van uitgewers geloop is nie. Tipies was die raad wat wyle Carel Boplaas van 'n gesoute figuur uit uitgewerskringe ontvang het: maak 'n klompie kopieë vir jou kinders en kleinkinders en bind dit in ringband. Hy het vervolgens sy Bewaar die knikkertjie self in 'n stewige oplaag uitgegee en vandag is dit 'n versamelaarsitem so skaars soos hoendertande. 'n Verlies het die gewikste vrugteboer beslis nie gely nie.
Ook Pieter de Jager se stewige Die Korannafonteiners, stories oor Ottosdal en sy mense is eers (2001) deur die skrywer self uitgegee. Dit is verblydend dat Protea Boekhuis nou gesorg het vir 'n tweede uitgawe. Dit het 'n netjiese boek geword met heelwat kostelike foto's. 'n Mens hoef nou nie meer te twyfel oor hoe ons eie Nimrod, Hendrik van Zijl, gelyk het nie. 'n Foto van die geheimsinnige Siener van Rensburg en sy familie net voor die 1914-rebellie laat 'n mens toe om oor sy stroewe gelaat te mymer; op 'n ander een sit hy op 'n veldstoeltjie met die Bybel in die hand waarin een van sy tronkvisioene aangeteken is. Uit die Transvaalse Onderwys-museum is 'n afbeelding opgediep van laerskoolkinders ywerig op donkies onderweg na onderbemande, primitiewe skooltjies wat basiese vaardighede beslis beter ingeskerp het as wat vandag met soveel blinker hulpmiddele moontlik is.
Tereg word die pregeskiedenis van die dorp in 'n eerste hoofstuk uitgelê. Dit was eers Korannagebied, en die skrywer meld uitdruklik dat die grond na afloop van die Groot Trek van die inheemse bevolking gekoop is "vir kontant" of geruil "vir goedere soos perde, beeste en waens". Dit is immers deesdae plofstof. Hoewel hierdie kwessie gou agtergelaat word in die vertelling, verneem 'n mens darem van hoofmanne soos (die verloopte blanke) Jacob Kruger en Jan Bloem.
Die eerste tree in die rigting van dorpstigting kom wanneer GP Otto in 1888 aan die Russies-Joodse smous Samuel Summers 'n handelskonsessie vir 99 jaar toestaan. In 1911 word die vername besluit geneem en kom daar ook 'n naamsverandering: die plek word vernoem na Gerhardus Petrus Otto sr. Die bittere verdeeldheid wat met die 1914-rebellie ontstaan, kelder byna die proses. In 1916 het die NGK-gemeente egter die knoop deurgehak en in 1920 word Ottosdal finaal geproklameer.
Hoewel die skrywer teen die einde van die eerste hoofstuk daarop wys dat "Ons Ottosdallers" glo "sekere dinge wat gebeur, net in Ottosdal kán gebeur", is dit wat Opperman in "Blom van die baaierd" noem, "'n dorp soos elke dorp". 'n Mens tref hier van alles aan. Selfs die kennelik naïewe boereprostituut van toenter in die skets "Trooskinders" kry haar plekkie.
Ek self was bly dat die boek meer lig kon werp op Hendrik van Zijl wat destyds so 'n verskriklike slagting aangerig het nadat hy en sy gevolg 'n trop olifante in die Okavango-moeras gedryf en laat vasval het in die modder. Oor Van Zijl se jagprestasies vertel J von Molkte in sy Jagkonings, wat 'n tydjie gelede ook deur Protea herdruk is. Soos die geval is met baie konings is dit vandag iemand vir wie mens jou ook wel kan skaam. Hy was iemand wat groot gedink het, maar ook 'n uitroeier van die eerste water. Die skrywer het heelwat navorsing gedoen oor Van Zijl se beroemde huisfort op die plaas Gestoptefontein in die distrik. Hier het hy en sy manne hul gesinne agtergelaat wanneer hulle op hul uitgebreide jagekspedisies vertrek het. 'n Skets van die imposante gebou met sy 44 vertrekke wat die skrywer uit opmetings kon natrek, word ook ingesluit. Gelukkig kon 'n bandopname deur oom Thys van der Merwe uit 1972 ook as 'n bron dien om regstellings ten opsigte van Von Molkte te maak.
Van Zijl het nie slegs 'n "donker kamer" in die middel van die huis gehad waar hy hom glo teruggetrek het om te mediteer en Bybel te lees nie. Die goewernante vir sy kinders was ook "glo" sy minnares met wie hy later getroud is. Of hy ooit wettig van sy eerste vrou geskei het, is volgens die skrywer steeds onduidelik. Toe latere eienaars 'n keer 'n vloer opbreek, het hulle selfs op 'n geraamte afgekom. Dit is wel jammer dat hierdie gebou oor die jare eers deels afgebreek is en later heeltemal verval het.
Die een merkwaardige en eiesinnige Boere-patriarg na die ander word aan die leser bekend gestel. Die sketse is gelardeer met spannende staaltjies. Onder hierdie figure tel JC Coetzee (Hansie-veldkornet) wat die eerste skoot in die Anglo-Boereoorlog geskiet het.
André P Brink noem by sy vertaling van L Bourliaguet se Verhale uit Limousin (1963) dat 'n mens "in dié klein groen stukkie aarde, soos die wêreld in 'n waterdruppel, die groter geskiedenis van Frankryk weerspieël sien". Van De Jager se boek slaag inderdaad daarin om 'n deel van die "moderne geskiedenis" van die ou Transvaal só vanuit 'n dorps- en streeksoptiek weer te gee. Spannend is oom Boy Pienaar se weergawe van sy deelname aan die Rebellie van 1914 en die ongelooflike tog saam met generaal Kemp deur die Kalahari na Duitswes. Ons maak kennis met die streng, vasberade Douw Gerbrand Steyn van der Merwe wat hom weerhou van gewapende rebellie, maar vanaf 1915 die politiek as wapen begin gebruik teen die Botha- en Smuts-aanhangers. Nogtans is hy in staat om ter wille van die gemeenskap saam te werk met bittere teenstanders. Onder hulle tel Dawid (Groot-Brittanje) Louw, 'n man wat wel sy plig in die Anglo-Boereoorlog gedoen, maar daarna 'n onverbiddelike aanhanger van die Empire geword het.
Dit is jammer dat die skrywer hierdie historiese lyn nie deurvoer tot ons meer resente geskiedenis nie. Wat het die volgende groot nasionale karaktertoets, dié met die omwenteling van 1994, in hierdie gemeenskap opgelewer?
'n Groot deel van die boek word afgestaan aan "stories", legendes en anekdotiese verhale. Daar is 'n hele aantal "spookstories", deurgaans uit die tyd voor moderne beligting! Ook in hierdie gebied is ná die Anglo-Boereoorlog gesoek na Krugerponde, al is dit nou nie die Krugermiljoene nie, maar 'n blik wat agter 'n eens toegeboude muur verskyn en twaksakkies goue munte in 'n graf. Sonder 'n dawerende vrystorie sou hierdie bloemlesing darem nie gewerk het nie. In "Vryer in die hoenderhok" verneem ons van die oorlewendige skoonheid Dollie wat die plaaslewe net te vervelig gevind het en naas haar pluimvee ook 'n minnaar aangehou het. Tot haar sagte, maar oersterk man hulle op 'n dag betrap en besluit om die kêrel op sy plek te sit: in die hok!
Teen die einde van die boek maak ons ook tereg kennis met van die gemeenskap se groot liegverhaalvertellers. Uit die vroeër era is daar oom Staalskouers Coetzer (met 'n sprekende foto!) en later oom Frik Lausberg. Oom Staalskouers was 'n man wie se voertuie selfs op kritieke oomblikke nie wou "start" nie, maar wat nogtans kon geeste oproep en sy bynaam te danke gehad het aan 'n vangslag wat goed kompeteer met sy verre voorganger, baron Von Münchhausen, se eskapade met 'n vliegende kanonkoeël …
Die Korannafonteiners is 'n pragvoorbeeld van 'n streekboek, dié soort boek wat noodsaaklik is om mense ten tyde van die globaliseringsmite en stompsinnige binnelandse politieke marginalisering te laat weet hulle is steeds deel van hul eie geskiedenis. Die stories bevestig ook opnuut 'n gemeenskap se natuurlike band met die literatuur in hul eie taal, al is hier geen sprake van letterkundige pretensie nie.
Dit is 'n boek vir iedereen met 'n sintuig vir die platteland wat meer eg-menslik, kreatief en anargisties kan wees as wat stadsjapies in die gange van hul winkelsentrums ooit kan droom.

