Discovery het 'n program oor die komplekse menslike liggaam vervaardig. Om hier die besonderhede te weergee, is net nie prakties moontlik nie. Kyk gerus die video by die skakel, dit is die moeite werd. Hier en daar is daar evolusioniste wat probeer om te verduidelik hoe die ingewikkelde hoedanighede deur evolusie ontstaan het – die spekskietery wat daarmee gepaard gaan, is voor die hand liggend – veral, byvoorbeeld, die gepoogde verduideliking van hoe die mens se hand se veelsydigheid en beweeglikheid so ontwikkel het, blykbaar oor miljoene jare heen – pure konjektuur, bespiegeling, geen feite of bewyse nie. Ook geen verduideliking hoekom juis die mens se hand (en nie diere met hande s'n ook nie) so ontwikkel het en waarom die oermens se gene, let wel, dan kwansuis die nodigheid sou 'insien' (en nie ander diere s'n ook nie) om die hand so te 'oefen' nie en waarom die ander skepsels oor die algemeen se gene dan nie die nodigheid daarvan insien nie. Daar is geen aanvaarbare verduideliking in die Darwinistiese evolusie voor nie.
Natuurlik is die eenvoudige en enigste logiese en waar verduideliking dat God die mens as superieure skepsel so geskape het, van meet af aan, as mens so kyk na die oeroue voorbeelde van kuns (rotstekeninge, ens) en die ander diere elk met hulle spesifieke hoedanighede, algar ooreenkomstig die plek en doel wat hulle in die biosfeer sal vervul. Presies ontwerp en uitgevoer. Die mens se hande is juis so geskape om sy superieure Godgegewe intellek te kan dien. Die evolusioniste wil sekerlik nie kom aanvoor dat die kamstige oermens se gene eers vir die superieure intellek ontwikkel het en toe die fisiese hoedanighede ook agterna eers ontwikkel het nie, of andersom (hoender en eier situasie) – dit maak gewoon geen sin nie. Beide hoedanighede het saam ontstaan – so beplan en geskape deur God − sodat die twee, die fisiese en die intellektuele, mekaar gepas aanvul. Dit is logies. Maar agnostiese mense soos Angus sal seker weer die evolusionis se verbeeldingryke en super intelligente gaping-stopper wil aanwend en sê dat dit ook die resultaat is van daardie fabelagtige evolusionistiese-wonderwerk-verrigtende-mutasies van gene van hulle.
As mens, byvoorbeeld, net kyk na die ultra vernuftige en vindingryke ontwerp van die skelet en die samestelling en instandhouding daarvan in die liggaam – nie net die mens s'n nie – dan is dit net eenvoudig te briljant en vindingryk om toevallig deur 'n tipiese Darwinistiese evolusionêre proses so te ontstaan het. Daar is geen aanduiding dat diere met 'n skelet se beendere minder gesofistikeerd was of is nie. Dit het nie so ontwikkel deur miljoene jare nie (die Darwinistiese evolusionis se standaard proses vir alles wonderlik), maar is natuurlik van die begin af so ultra briljant deur God ontwikkel vir elke gewerwelde se beplande lewensstyl en milieu met die genetiese vermoë om aan te pas soos die milieu en omstandighede sou verander en vereis.
So kan ons aangaan. Almal sal erken dat die reusagtige vier spesifieke borsbeelde van vorige Amerikaanse staatshoofde (Washington, Jefferson, Roosevelt en Lincoln) wat bekend staan as die Mount Rushmore National Memorial in Suid-Dakota wat in die bergformasie uitgebeitel is, nie toevallig deur die elemente – wind en weer − oor die verloop van hoeveel jaar en eeue nou ook al, tot stand sou kom nie want dit is eenvoudig onmoontlik. Tog is daardie werk soveel eenvoudiger en minder kompleks as net die samestelling van 'n enkele sel van die menslike liggaam, met sy DNS en al. Maar dieselfde agnostikus wat sal saamstem dat die borsbeelde as sulks onmoontlik toevallig kon ontstaan, sal aandring dat die komplekse mens die resultaat is van toevallige biologiese proses – Darwinistiese evolusie. Hoe absoluut belaglik. Net so ook met 'n volledige rekenaar. Maar hulle sal onsinnig aandring dat die ontwerper en skepper van die rekenaar, die mens, wel toevallig en spontaan van 'n enkel selletjie iewers in die verskiet tot volledige mens ontwikkel het.
Dit is ongelooflik dat daar mense is wat so onlogies en onwerklik redeneer. Dit is wel die geval met Darwinistiese evolusioniste en hulle is mense wat nie in God glo nie – Darwinisme, soos die agnostiese aanhangers daarvan vryelik sal getuig – is vir hulle juis die proses waardeur God as Skepper 'oorbodig bewys' word... Dit is werklik hartseer hoe die agnostisisme die mens wat daarin verval het, intellektueel ook afbreek.
Dit punt is dat, wanneer die mens as geheel beskou word, met al die verbysterende kompleksiteite en kenmerke wat tipies van die mens is, dan kan mens tog nie anders as om te besef dat die mens beslis so ontwerp en geskape moes wees en dat dit nie kon gebeur deur 'n onbeplande, intelligensielose proses soos wat deur die Darwinistiese evolusionis voorgestaan word nie. Veral as mens ook in gedagte hou dat elke individuele mens – en daar is biljoene van hulle – steeds uniek is en nie een mens presies, identies, soos 'n ander is nie, 'n behoudende fenomeen wat deur die komplekse DNS en gene bevorder en moontlik gemaak word.
Dit is waarom inteling by die mens en die dier taboe is. Ook omdat inteling genetiese verswakking teweegbring – en natuurlik vir daardie rede ook deur God stopgesit is en in die Woord verbied word en reeds meer as drieduisend jaar gelede so opgeteken staan (Levitikus 18:6–18; 20:11–12, 17–21; Deuteronomium 27:22–23) want God is na alles die Kundige, die Skepper en die Groot Genetikus. Hoe anders sou daardie antieke mense – Moses in hierdie geval, die genetika goed genoeg kon verstaan om dit te verbied?
Maar genetiese verswakking deur inteling op intra-spesifieke vlak is juis 'n fenomeen wat nie met Darwinistiese tipe evolusie-teorie vereenselwig kan word nie, omdat die sterker genepoel daarvolgens juis dominant is. Dus, in 'n intelligensielose Darwinistiese evolusionêre milieu sou die sterk menslike geen deur inteling bly repliseer deur oorerwing en ander uitskakel en die ingeteelde genepoel wat weggespring het met sterk gene, sou teoreties al sterker word (oorlewing van die sterke). Maar in praktyk lei dit tot mutasies en dus verswakking van die genepoel, want werklike mutasies is normaalweg nadelig. Dit is strydig met die hedendaagse neo-Darwinistiese evolusionêre leerstuk, waar toevallige mutasies deur hulle tot 'n positiewe wonderwerker verhef is (natuurlik teoreties en nie in praktyk nie). Nog een van talle bewyse teen die Darwinistiese tipe evolusieleer.
Ekstra-spesifieke kruisteling is ook nie moontlik nie – perd en donkie lei tot mutasie wat infertiliteit teweegbring; vark en hond is gewoon onmoontlik, ens en ook 'n bewys dat die Darwinistiese aanspraak op spontane oorgang van een soort na 'n ander deur evolusie ongegrond is, maar dit is perfek in lyn met die skeppingsverhaal in Genesis waar daar duisende jare gelede al, sonder dat daar enige kennis was van genetika en biologie, reeds geboekstaaf is dat soorte elk afsonderlik deur God geskape is elk met sy eie unieke kenmerke. Hoe sou dit bekend word behalwe deur Goddelike openbaring?
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus
Die evolusie-teorie verklaar juis in besondere detail al hierdie wonderlike dinge in die natuur. Jou model verklaar niks nie omdat jy telkens wonderbaarlik tot 'n ‘logiese gevolgtrekking’ kom sonder om ons te verduidelik hoe jy daarby uitkom.
Miskien moet jy eers uitvind wat die evolusionêre model behels voor jy dit probeer afskiet. Uit jou skrywes is dit duidelik dat jy nie 'n snars van die wetenskap of die evolusie-teorie verstaan nie.
Jy is gewoon lui en verkies die maklike uitweg van blindelingse geloof in plaas van studeer en verstaan.
Ek sal maar weer vir jou vra hoekom elke erkende universiteit in die ganse wêreld die evolusie-model in hulle biologiese wetenskappe as paradigma aanvaar en nie jou kreasionistiese bogpraatjies nie. Solank jy weier om hierdie basiese vragie te antwoord wat ek al male sonder tal aan jou gevra het, sonder om ooit 'n antwoord te kry, gaan niemand hulle aan jou steur nie.
Groetnis daar kammaland
Thomas
Thomas,
Die darwinistiese tipe evolusieteorie verklaar niks werklik nie, veral nie die beweerde afkoms van alle lewe vanaf/vanuit 'n enkele voorouer/selletjie nie. Dit is blote konjektuur en bespiegeling. So ook die die bewering dat hierdie, soos jy dit self ook tereg noem, wonderlike dinge, in soveel komplekse detail toevallig kon ontwikkel. Dit is net eenvoudig onmoontlik en is blote onbewysbare bespiegelende teorie vanaf die evolusioniste. Niks waarvan ons as mense vandag in die 'moderne' milieu weet, kom sonder beplanning en uitvoering tot stand nie, maar julle wil hê die mees komplekse van alles, die lewe, die gebalanseerde biosfeer, die heelal in sy kompleksiteit, kom so onbepland, toevallig tot stand?
Maar daar is 'n rede waarom jy die darwinistiese tipe evolusie aanhang - jy is self 'n ateïs. Omdat jy mens is, is jy egter ook, nes enige ander normale mens, begerig om te weet hoe en waar dinge vandaan kom. Maar as ateïs is jy gedwing om die logiese, die korrekte en die absoluut voor die hand liggende oorsaak, naamlik God en SY Skeppende vermoë as oorsaak van alles wat ons so beleef en geniet en ondersoek in die verbysterende kompleksiteit daarvan, te ontken, omdat jy as ateïs nie durf erkenning verleen aan die Skepper nie. Vandaar die darwinistiese evolusie teorie, die agnostikus se selfbedrieglike 'verklaring' vir hierdie dinge, waar daar moeite gedoen word, selfs teen die beterwete in, om die betrokkenheid van die Skepper en Intelligensie te probeer ontduik om dit as 'oorbodig' te probeer bewys.
Dit is waarom jy as ateïs sê dit 'verklaar alles in detail'. Daardie 'detail' is juis teorieë wat werklik nooit bewys kan word nie - maar dit vorm die grondslag van die agnostikus se religie, die naturalisme - en wat dit aanbetref, is die ironie van Thomas Huxley, die ateïs wat as Darwin se bulldog bekend gestaan het, so voor die hand opmerklik van toepassing op die hedendaagse evolusieteorie, toe hy gesê het "science commits suicide when it adopts a creed".
Dit is presies wat met biologiese wetenskappe gebeur het toe darwinisme posgevat het, synde die 'creed' - religie - van naturalisme. Dit is juis Huxley wat Darwin se Origin of Species as die effektiewe teenvoeter teen Goddelike skepping beskou het en bestempel het as 'n oorwinning vir agnostisisme. Min is die nosie van die agnostikus om die darwinisme as religie te gebruik so duidelik en effektief uiteengesit as deur een van die hedendaagse ateïstiese evolusioniste self, prof Michael Ruse, toe hy, heel kontroversieel, gesê het "evolution is promoted by its practitioners as more than mere science. Evolution is promulgated as an ideology, a secular religion -- a full-fledged alternative to Christianity, with meaning and morality. I am an ardent evolutionist and an ex-Christian, but I must admit that in this one complaint -- and Mr. Gish [Duane T. Gish the Creation Scientist] is but one of many to make it -- the literalists are absolutely right. Evolution is a religion. This was true of evolution in the beginning, and it is true of evolution still today."
Daarmee is julle aansprake op evolusie as 'wetenskap', ooglopend by die venster uit. Heel duidelik.
Kobus de Klerk
Hierdie briljante feitlike skrywe van Kobus hoort in vooraanstaande tydskrifte waar meer erkenning gegee word. Dankie, het dit geniet. Trienie.
Trienie, Die sg. 'briljante feitlike skywe' waarna jy verwys sal by enige vooraanstaande tydskrifte wat jy in gedagte mag hê in die snippermandjie beland of as vermaak gepuliseer word. — Panda
Thomas — Vergeet maar van die uitstaande antwoord wat Kobus jou skuld. Ek het die antwoorde wat hy my skuld maar as slegte skuld afgeskryf. Ek wou by hom meer weet oor die vreemde terme wat hy gebruik het toe hy sy onkunde oor Jupiter en sy mane openbaar het. —Panda
Beste mnr De Klerk,
Die Universiteit van Prul Wetenskap neem hiermee genoeë om u uit te nooi om 'n artikel te publiseer in ons eersvolgende Biologie-vaktydskrif.
In u bogaande skrywe hou u die bestaan van oeroue rotstekeninge voor as bewys dat die mens deur 'n Goddelike wese geskape is (paragraaf 2 van u skrywe). Hierdie is voorwaar 'n opspraakwekkende nuwe ontdekking wat natuurlik ingrypende wetenskaplike navorsingsimplikasies het.
U word dus hartlik uitgenooi om u navorsing in hierdie verband, vir ons verder toe te lig. Ons sien uit na 'n gedugte akademiese verhandeling in hierdie verband.
Wetenskaplike groete.
Die Rektor
UPW.
NS. 'n Vooraanstaande tydskrif vir 'n vooraanstaande wetenskaplike. Tevrede Trienie?
Trienie
Geen gesaghebbende akademiese tydskrif sal in Kobus se 'logiese gevolgtrekkings' belangstel omdat dit bloot sy eie opinies weerspieël met geen wetenskaplike beredenering nie. Dis bedoel vir naïewe en onkundige mense soos jy wat self nie waarheid en wolhaar van mekaar kan onderskei nie.
Jy is welkom om van my te verskil maar ek sou graag wou weet wát in Kobus se skrywe jou so oortuig dat dit wyer gepubliseer moet word.
Groetnis
Thomas
NS Of is Trienie dalk onse Kosie se alterego?
Thomas, Panda, Dirk Rigter... algar selfverklaarde ateïste en is daardie reaksies te wagte. As julle iets sou wou probeer verduidelik, sou dit juis met die verdagte en onbewysbare teorieë, spekulasies en hipotese wees, dus laat staan julle maar en raak beledigend.
Julle reaksie (kommentaar kan ons dit nie noem nie) is so onintelligent. Waarskynlik al waartoe julle in staat is, nou takel julle vir Trienie daaroor? Dit reflekteer nie swak op Trienie nie, maar op julle self, besef julle dit nie?
Kobus de Klerk
Kobus
In teenstelling met jou het die wetenskap nog nooit voorgegee om alles te weet nie. As die wetenskap nie weet nie sê wetenskaplikes gewoon hulle weet nie en word dit die onderwerp van verdere studie.
In jou kammawêreld word alles wat jy nie kan verklaar nie aan god toegeskryf. Jy doen nie eers die moeite om vas te stel wat die wetenskap oor 'n bepaalde onderwerp te sê het nie - jy verklaar dit sommer as goddelike skeppings. Net so verklaar jy Jupiter se mane as onsigbaar en dan glo jy almal moet daarby inval. Die 'logiese gevolgtrekking' moet vir enige leser wees dat jy totaal oningelig is.
Ek herhaal. Jy is gewoon lui om te lees en te studeer. Jy praat werklik oor onderwerpe soos evolusie sonder dat jy die geringste idee het waaroor jy praat. Terwyl dit jou modus operandi is sal/kan niemand jou ooit ernstig opneem nie.
Lekker droom daar in kammaland
Thomas
Thomas
Vanuit jou ateïstiese oogpunt en benadering, sal jy noodwendig moet sê wat jy sê en dan ook terselfdertyd uitwys dat jy nie enigiets omtrent God verstaan nie.
Het dit al tot jou deurgedring dat jy verkeerd is omtrent God? En as jy dan tot daardie besef sou kom, dat jy sou besef dat God - omdat HY God is - juis alles weet wat jy nie nou kan verstaan, hoe dit moontlik is nie? Jy sal dit besef dat God alles weet omdat HY juis nie net 'n mens is nie, want omdat jy so agnosties is, is die mens en sy beperkte vermoëns jou enigste verwysingsraamwerk en dit is waarom jy dit ook op God probeer projekteer en dit nie vir jou sin maak nie. God is nie mens nie, God is alwetend.
Wat die evolusie-teorie aanbetref, het ek vir jou hierbo aangehaal omtrent wat jou mede agnostici sê - die wetenskap speel dus lankal nie werklik 'n rol in die Darwinistiese evolusie-teorie nie. Dit vorm die basis van die agnostikus (wat natuurlik die ateïs insluit) se naturalistiese religie en daarom sal die 'wetenskaplikes' wat betrokke is, nie, soos jy beweer, erken dat hulle nie weet nie en dit dan onderwerp aan verdere 'studie' om die korrekte feite te vind.
Die mense wat by die Darwinistiese evolusie betrokke is deur dit aan te hang, probeer slegs daardie teorie - hulle naturalistiese religieuse credo - bevorder deur doelbewus die ooglopende en logiese betrokkenheid van Goddelike skepping te vermy en selfs te ignoreer.
Dit is sekerlik nie wetenskap nie. Die natuurwetenskappe gaan mank aan bona fide wetenskaplikes omdat die akademiese milieu daarvan deur Darwinistiese evolusioniste gekaap is en hulle verbete vasklou aan daardie beheer - soveel so dat hulle absoluut despoties is deur geensins alternatiewe denke en benaderings te duld nie, want hulle besef natuurlik dat as die alternatiewe benaderings - die van gelowiges wat die natuurwetenskap werklik verstaan - net soveel blootstelling soos die Darwinistiese evolusieleer kry, sal die evolusieleer in sy darwinistiese formaat geheel en al verwerp word.
Maar dit is reeds besig om te verander.
Kobus de Klerk
Thomas
Laat staan gerus die Jupiter storietjie. Ek het vir julle uitgewys dat dit fisies nie moontlik is om Jupiter en veral sy mane wat ongeveer 600 miljoen kilometer van hier af is, hier van die aarde af met julle amateurtoerusting raak te sien nie weens verskeie optiese illusies en optiese artifakte wat sal inmeng - julle sien net ligstippels en aanvaar dit is Jupiter en sy mane. Ek het julle vir bewyse gevra dat dit dan wel Jupiter en sy mane is wat julle aanneem julle sien, en julle het met die gebruiklike beledigings reageer.
Ons aanvaar julle het geen bewyse nie. Julle aanvaar maar net wat ander vir julle sê, veral die vervaardigers van die programmatuur wat die teleskopies wat julle gebruik, outomaties 'rig' en kwansuis rig op Jupiter, welke weer geprogrammeer is ooreenkomstig die standaardteorie, sonder dat die hele reeks napraters enigsins onafhanklik bewyse kan aanbied.
Ons as gelowiges daarenteen, het bewyse vir God in oorvloed want ons het persoonlike verhoudings met Hom. Mens hoef nie Iemand se bestaan te bewys met Wie jy elke dag interaksie het nie.
Maar as ateïs kan jy jouself nie toelaat om dit te verstaan nie en sal eerder die aandag van jou onvermoë en onbegrip daarvoor probeer afwend deur te probeer verkleineer en beledig.
Kobus de Klerk
Trienie
Voeg daad by word, stuur die opstelletjie aan AL die tydskrifte wat jy aan kan dink en laat weet ons watter van hulle dit publiseer.
Duitswester
Kobus
Doen ons almal 'n guns en bewys vir ons, volgens die wetenskaplike metode, enige een van jou aansprake. Begin sommer by daai alomteenwoordige en almagtige godjie van jou. Jy beweer hy bestaan - die onus rus dus op jou om dit te bewys. Onthou net jou eie idees en die bybel is nie genoegsame bewyse nie - ons soek empiriese bewyse of 'n toetsbare teorie.
Groetnis
Thomas
Drie ingenieurs redeneer oor wie die mens ontwep het.
Die eerste een beweer dit moes 'n elektroniese igenieur gewees het. Kyk net na sy senuweestelsel.
Die tweede beweer dit moes 'n meganiese ingenieur gewees het. Kyk net hoe loop en hardloop hy.
Die derde beweer dit moes 'n munisipale ingenieur gewees het.
Wie anders sal 'n rioolstelsel deur 'n pretpark laat loop.
Kobus de Klerk. Wie het dan die malaria-parasiet geskep en hoekom?
Flip,
Ek bemerk jy vra 'wie', en nie 'wat' nie. Jy verleen dus erkenning aan 'n Skepperpersoon. So kan jy maklik jou eie vrae hieromtrent beantwoord aan die hand van die feite.
Interessant om te bemerk dat malaria allerlei verrykende gevolge het. So byvoorbeeld, beperk dit ekonomiese en industriële ontwikkeling in sekere gebiede waar dit voorkom. Stel jou voor die mens vernietig die natuurlike ekosisteem met sy drang en drif na ekonomiese en materiële voorspoed en ontwikkeling ... Hier dien dit die doel van natuurlike inhibeerder en getalle-beheerder.
Kobus de Klerk
Ek laat my nie vertel 'n barmhartige , liefdevolle en almagtige god sou sulke wreedheid toelaat in sy skepping om getalle van mense te beheer nie.
Darwin het mos al jare gelede bewys dat sulke wreedheid toegeskryf moet word aan die geknoei van evolusie met sy gevaarlike mutasies en natuurlike seleksie. Trouens, dit is juis hierdie wreedheid in die natuur wat gelei het tot die teorie van evolusie.
Dan is dit ook maar net by wyse van spreke; evolusie is nie 'n intelligente, lewende wese nie. Dit vind alles in die natuur plaas.