
Foto: Canva.com
Die kolonel
Weke voor vakansies weet ons
ons moet klaar baljaar
want die drinkdam moet skoon
dié naweek elke jaar.
Ouma vra waar’s die geld
om ’n nutsman te huur.
Nou moet kuiergaste skrop
elke pyp, elke muur.
Reeds sonop teen die heuwel
langs die Hanepoot
stroom die laaste water
af in die sloot
dwarsdeur die wingerd
oor elke stam
tot ons ons verkýk
aan die gapende dam.
Vir twee dae sweet ons
meer as wat mens kan
onder Oupa die leier,
die kolonel, die man,
wat sê wie skrop wáár,
wié smeer die teer.
Buite en binne
skuif hý die leer.
Oom Gert meen Oupa
is ’n demokraat:
want hy luister ’n halfuur
voor hy praat.
Maar as die kolonel beveel
hoe die dam moet blink
ratel sy lippe
soos hy dink.
Ouma sê om hemelsnaam
waar kry ons tog geld
om die volkies te betaal?
En vir Oupa vir ’n belt?
Sy draai haar kop weg
waar ons skrop en was
want sy broek is vasgegord
met sy enigste das.


Kommentaar
Ek hou hiervan, dit skilder gladweg 'n bekende storie 🙂
Ja Driekie, armoede is inderdaad 'n bekende storie. As ons vakansies op die plaas gaan kuier én ons stokflou werk om my Oupa se dam met drinkwater skoon te maak, was hy ten volle in beheer, al was hulle op 'n stadium so arm: hy het regtig nie 'n belt gehad nie en moes sy broek met sy das vasbind. En die kleinkinders het stil-stil Ouma se verleentheid raakgesien.