Die kolonel

  • 2

Foto: Canva.com

Die kolonel

Weke voor vakansies weet ons 
ons moet klaar baljaar 
want die drinkdam moet skoon 
dié naweek elke jaar. 
Ouma vra waar’s die geld 
om ’n nutsman te huur. 
Nou moet kuiergaste skrop 
elke pyp, elke muur.

Reeds sonop teen die heuwel 
langs die Hanepoot 
stroom die laaste water 
af in die sloot 
dwarsdeur die wingerd 
oor elke stam 
tot ons ons verkýk 
aan die gapende dam.

Vir twee dae sweet ons 
meer as wat mens kan 
onder Oupa die leier, 
die kolonel, die man, 
wat sê wie skrop wáár, 
wié smeer die teer. 
Buite en binne 
skuif hý die leer.

Oom Gert meen Oupa 
is ’n demokraat: 
want hy luister ’n halfuur 
voor hy praat. 
Maar as die kolonel beveel 
hoe die dam moet blink 
ratel sy lippe 
soos hy dink.

Ouma sê om hemelsnaam 
waar kry ons tog geld 
om die volkies te betaal? 
En vir Oupa vir ’n belt? 
Sy draai haar kop weg 
waar ons skrop en was 
want sy broek is vasgegord 
met sy enigste das.

  • 2

Kommentaar

  • Louis du Plessis

    Ja Driekie, armoede is inderdaad 'n bekende storie. As ons vakansies op die plaas gaan kuier én ons stokflou werk om my Oupa se dam met drinkwater skoon te maak, was hy ten volle in beheer, al was hulle op 'n stadium so arm: hy het regtig nie 'n belt gehad nie en moes sy broek met sy das vasbind. En die kleinkinders het stil-stil Ouma se verleentheid raakgesien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top