“My name is City,” stel die veldgids homself voor. “I am your driver for tonight.”
“Ag nee,” skerts ek terug en kyk die jongman in sy oë. “We prefer nót to go back to the city tonight, City!”
Almal lag en ‘n opgewonde gees heers. Min dinge is so lekker as ‘n nagrit in die Krugerwildtuin wanneer ‘n warm noordoostebries oor jou angstige wange waai en die belofte van avontuur inhou. Ons is omring met ‘n rowwe stuk bosveld. Onder in die Suide van die Kruger, ingeboek by Satara-ruskamp.
Terwyl ek die wildbesigtigingstrokkie opklim, soek my oog na die beste sitplek. Teenaan die oopkant. Voor. Tevrede skuif ek agter ‘n fris boerseun in wat lyk of hy weet hoe om ‘n kollig in die nag te hanteer.
“Ken jy van wildsoek in die nag seuna?” vra ek en is verheug om te sien dat die blink in sy oë speel: “Wag maar tannie – en kyk self!” ‘n Goeie kolligmeester weet hoe om die skynsel van ‘n oog uit ‘n digte bos te flits.
“Wow,” sug ek behaaglik en ruik die reuk van boskamp: braaivleis, bosveldblommetjies en iets soos katpiepie? Want ons is hier om Blommie se kollekat te jag. Dié ontwyk haar al vir 5 dae. Vanaand gaan die kat sy fluisteraar ontmoet. Op haar skoot lê die D600 Canonkamera, reg om te skiet. Syself – brandend. Op hierdie stadium het ek nog geen benul gehad dat ons nagrit in ‘n angsrit sou ontaard.
City resiteer die reëls en regulasies. Dit klink na ‘n teemlied wat begriplose woorde bevat. Skielik het die mannetjie my volle aandag. Ek is onrustig. ‘n Tipe voorgevoel?
Ek is glad nie beïndruk met City se voorkoms. Tingerig en oënskynlik nat agter die ore. Het hy ooit ‘n lisensiebewys vir hierdie voertuig? Met hierdie nuwe reënboognasie weet mens nie altyd nie ...
Maar nog erger: het hy enige ondervinding in olifantstorm? Ek is eerlik wanneer ek sê dat ek en olifante nie altyd goed klaarkom nie, ons waardeer mekaar slegs op ‘n veilige afstand. Weet City ooit wat IS ’n ‘veilige afstand’ vanaf die Groot Vyf. En dit op ‘n oop voertuig? Niemand merk my onrus en ek weier om banggat genoem te word. Steeds – ek verkies om nie onder Grootvoete se pote te sterf of leeukarkas te word.
City is klaar, klim voor in die toe kajuit en slaan die deur tussen hom en ons toe. Versigtig loer ek oor die jongman voor my se skouer, deur die skuifvenstertjie van die kajuit om te sien of daar enige swaarkaliber l?. Nou eers merk ek die jongedame wat voor by hom sit en baie skaam voorkom. Later, sou sy die prooi word van ‘n tergery met ‘n olifant wat ons almal benoud gehad het.
City klim op die H7-roete wat verby die Nsemanidam loop. Die namiddag kwik weier om kop te gee en byt vas op 31 grade. Die veld is nat, welig en bedompig maar ‘n natuurskoon-skouspel sonder weerga. Langs die pad is genoeg grootwild om almal te laat glimlag.
By die Nsemanidam begin die seekoeie regmaak om deur die nag in die grasvlaktes te wei. ‘n Seekoei kan tot 2000 kg weeg en word tans as kwesbaar gelys. Alhoewel hierdie enorme amfibiese soogdier se kake en krom ivooragtige tande onskadelik lyk, kan dit ‘n mens middeldeur byt. Die gevaarlikste dier om op af te kom. Die gaap van ‘n seekoei is in werklikheid ‘n aggressiewe gebaar. Die ou hieronder wat uit die water geklim het, nurk oopbek na die ander om hom te volg.

Aan die oorkant, waar die sleepsel van die dam begin wegraak, woel ‘n paar olifante vir oulaas in die koel water. Die lens bring hul nader en toon die intieme liefdesband wat daar tussen ‘n olifantfamilie is. (Panasonic DMC-FZ5)
Die son word geel. Op die oorkantse wal streep bobbejane verby, gereed om terug te keer na hul boomslaapplek. Die jonges is vol lewe en breek tartend uit die groep om nuuskierig na ‘n krokodil wat op die oewer l?, te loer. Ek skrik toe die harde blaf van die Brandwag hul terugroep en die vooraand se stilte verbreek. ‘n Rilling gly teen my ruggraat af. Ek ken die benoude weergalmende skreeu van die bobbejaan wat in stiknag binne in ‘n boom deur die kollekat aangeval word. Jy slaap nie gou weer.
City hou van spoed. Dink die man hy ry ‘n Taxi? Blykbaar ken hy nog nie die wet van die Kruger: hoe meer spoed hoe minder goed. Self soek hy ook nie na wild en het net ogies vir liefie. Ons kom gou agter dat wanneer jy hardop roep: STOP! – hy wel brieke aanslaan. Die remme is goed en moet jy klou aan jou kosbare kamera en verkyker. Het hy dan geen gevoel vir die diertjies in die pad? Ek frons - vele trapsuutjies en duisendpoot lê seker vermorsel onder hierdie wiele.
Geen respek vir die miskruier wat vir ure stoei om mis in ‘n bal te rol. Gewoonlik is die bal baie groter en swaarder as die kewer self en word met moeite met hul agterpote padlangs agteruit gestoot. Vir die ou Egiptenare was die miskruier heilig en glo ek in die Kruger beslis ‘n erkende onmisbare aasdiertjie. Miskruiers kan nie wegvlieg en word gereeld in paaie aangetref. Ek dink dat City beter sal vaar in die city. Die kiekies hier onder is op ‘n vorige geleentheid geneem.

Die wawielwebspinnekop spin groot wielvormige webbe tussen bosse en bome langs die pad. En is dit onnodig om hul raak te ry. Hul ruimtes moet respekteer word. Ek sê nie dat daar vir elke klein dier uitgeswaai moet word, maar kan jy ten minste probeer koes sodat hul getalle natuurlik aanwas! My hart huil wanneer ek die oopgebarste dop van ‘n skilpad sien lê in die pad. God se opdrag is: heers, nie verwoes. Ons moet ons aarde mooi oppas en die Skepper daarvan eer.
Kortliks – City het al sy “tips” verloor. Die rit, ‘n slegte ná reuk. Hy het die diere gejaag en so naby die leeus gestop dat ek ongemerk afgesak het in my stoel, en my arm ingetrek het. Sy liefie bewe seker nou nog.
Agterna was Blommie mistroostig. Sy het geen geleentheid gevind om vir kollekat te kon fluister. Haar geld vermors.
Ons kon darem ‘n paar veldfoto’s neem van die son wat sy kleure verander. Hieronder is ‘n magnetiese Kruger-aandwording, skilderagtig omsoom in pastelkleure. Binne in so ‘n prag fisiese ondervinding smelt jou gees en siel saam die atmosfeer.

Die Europese troupant hierbo toon ook sy pastelkleur van turkoois-blou. Hul kom skaars voor en is uitsonderlik. ‘n Somerbesoeker wat nie hier nesmaak. Ek is verras toe hy skielik kras roep na sy maat wat soos ‘n kraakklank klink.
Daardie nag klim die kollekatjagter weer stil en beswaard in haar bed. Dit is ons voorlaaste dag. Haar hoop om ‘n luiperd te foto-skiet begin vervaag. Hoe gouer sy berus, hoe beter. Ons besluit om vroeg op te staan en die lang pad na Skukuza aan te pak. ‘n Bietjie vinnig aanstoot tot by Lake Panic skuiling wat een van die beste voëlkykplekke in die wildtuin is.
Vroeg-vroeg, begroet die veld ons met die allermooiste blommeprag. Reëndruppels hang swaar aan die punte van die kameeldoringboom se dorings. Die veld ruik soet en vars. Waterpoele in die pad spat vies weg onder die tekkies van die Toyota. Die natuur is asemrowend en verander die veldskildery voor jou gedurig.

Ons volg die H1-3-roete wat verby die Kumanadam draai op pad na Tshokwane-uitkykpunt. Moeg vir biltong en aartappelskyfies, stop ons hier om ‘n warm bord boerekos te koop. Slapperige pap met ‘n heerlike uie-en-tamatiesous en ‘n behoorlike stuk wildswors. ‘n Moet as jy daar verby. Dit word voorberei op ‘n oop buitevuur in swart driepootpotte en oopbraaiers. Die personeel is van die vriendelikste.

Bo is ‘n foto vanuit die “Bird Hide” by Lake Panic. Al twee hierdie foto’s is geneem met ‘n Galaxy II-selfoon wat se kwaliteit my verras het.
Daarna ry ons oor die sandrivier naby Skukuza en sien hoe bobbejane in die rivier baljaar, net soos mense. Druk selfs mekaar se koppe onder die water. Die wat die geveg verloor sal druipnat uitklim. Die bangbroeke besluit dis veiliger buite op die rots en hou die hele petalje drooghaar dop.

Daar is volop wild en kan jy enige tyd vasry in die Groot Vyf. Die diere is vet en weigras volop. Oral is waterpoele langs die pad en as jy met jou venster oop ry bereik voëlgesang jou ore. Dit lyk kompleet of hierdie jong sebra hier onder iets in sy ma se oor fluister terwyl pa ook nader staan. Langsaan maak twee rooibokramme hulself gereed vir kragmeting.

Lake Panic se uitkykpunt bevat die aller kleurvolste voëls. ‘n Wenfoto kom nie maklik en jy mag ure sit en foto’s neem voordat een uitstaan wat ‘n verhaal vertel.
Hieronder sit een van die aantreklikste voëls in die Kruger: Die berghaan. Hy verkies oop Bosveld. As gevolg van onoordeelkundig gebruik van gifstowwe is die berghaan nou die mees kwesbare van alle Suider-Afrikaanse arende.

Langsaan sit ‘n kremetartlaksman-paar. Hulle kom minder algemeen voor en vertoon hul sagte bruin skakerings wolsag. Hierdie foto spel vir my ‘liefde.’ (Canon ODP D600, 150-500mm Sigma-lens)
Daar is volop kameelperde en word hul as die hoogste dier beskou. Ware wolkekrabbers. Hierdie meneer onder, se jare is vol en kop vol knoppe. Sy hele lyf dra merke van jagdierontkomings. Toonbeeld van ‘n harde ongenaakbare bosveldlewe vol stampe en stote. Wanneer die kameelperd drink, is dit sy kwesbaarste posisie in die veld. Later verdwyn hy tussen die ruigtes met ’n kenmerkende hobbelstappie.

En skielik is die verrassing daar! Asof gelyk, sien ons vir kollekat! Blommie slaan brieke aan en trek asem in. So een met die veld is kat dat die kar voor ons amper haar snoethare afry, sonder om haar raak te sien. My hart ruk ‘n bietjie. En ja – dit is hoogtyd dat die fluisteraar haar kollekat ontmoet. Beeldstil, asof gegiet in ‘n vorm, loer sy geheimsinnig na ons. Wagtend dat ons moet verby ry. Ons raak egter óók gietbeeld ...
Het jy al die volle glorie van die die luiperd beleef? Om die eerste een te wees wat ‘n luiperd raaksien bring die gevoel van: “myne”. Kompleet asof jy die dier tot eiendom verkry. Kollekat besluit dis veiliger om om te draai, en sien ons hoe haar opgekrulde stert se witpunt verdwyn in die lang gras. “Ag nee, sy is weg!” sug ek. Die volgende oomblik verras sy ons deur met ‘n gemaklike grasieuse sprong uit die gras teen ‘n groot boom op te spring en haarself met haar naels tot bo op te trek. Tydloos neem ons die pragtigste foto’s en hoor ek net hoe Blommie kliek en weer kliek en nogmaals kliek. So asof sy die oog van die kat vir ewig wil vasvang! Die diepte van kolle in geheue inbrand.
Sy was nie lank ons eie nie. Voertuie het vanuit alle rigting begin ophoop. Maar ons was tevrede en vervuld. Dit het gevoel of ons herbore is in Gods Koninkryksparadys.

Die Skepper van die skepping se elemente is soms verrassend! Hierdie renoster dra met trots haar horings. Of sy vandag nog lewe of gestroop is, weet ek nie. Haar kalf gelukkig al groot en ‘n hoop dat ons agterkleinkinders die voorreg sal smaak om hierdie bonkige dier in lewende lywe te aanskou, en nie slegs op nostalgiese kiekies nie. Om sélf die reuk te ruik van hierdie wilde dier en te ervaar dat die gekreukelde vel van ‘n renoster wat digby jou staan, ‘n besondere ondervinding is.

Terwyl ons die koel kantoor van Skukuza-ruskamp instap, steek ek vir die derde keer in my voete vas. Weereens, asof ‘n bevestiging, soos op die eerste dag, begroet die vier volkleur foto’s van ons nuwe reënboognasie my. Zuma en sy helde. Trots, geraam, uitgestal op die hoofmuur. Ek weier om kriewelrig te raak. Die hele vakansie is ek al opsoek na Paul Kruger se voetspore in die wildtuin. Volgens my, die eintlike stigter van hierdie pragplek!
My treurigheid verander in vreugde. Buite, op pad na die restaurant, kom ek af op hierdie imposante beeld van Kruger en sy vriende. Die ware grondleggers. Gelukkig is my selfoon by my.
Skielik voel ek rondborstig. Boerebloed bruis opgewonde deur my are. Ek is trots Afrikaner en trots op my taal en kultuur. Lank staar ek in die nou dooie klip-oë van Kruger, en wonder hoe dit moes voel om jou lewe vir land en vaderland te gee. Die beeld is uniek. Kruger was blykbaar die stigter van Skukuza-ruskamp.
Ek was bly oor die beeld, en ek was bly oor Blommie se kollekat. En laastens wil ek net ‘n goeie woord oor City laat. Sy kennis oor veld en dier was kundig. En het die jongeling my iets kon leer oor die veld wat ekself nie geweet het nie. Feitlike dinge waarvan Paul Kruger ook nie bewus was in hulle dae.
Dus is daar vir almal ‘n plekkie onder die son.

LAAT TOE DAT JOU SIEL VASGEVANG WORD IN DIE OOG VAN DIE LUIPERD.
Trienie


Kommentaar
Weereens pragtig,Trienie!
Groete
Perdebytjie