
Foto: Canva.com
die kind is doodgeskiet deur ’n polisieman in Pietermaritzburg
(na Ingrid Jonker se “die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga”)
die kind is dood
die kind lig sy oë om hulp na sy moeder
wat steeds hees Afrika skree, skree die drang
van vryheid in die plakkerskampe van ’n kliphart.
die kind lig sy oë om hulp na sy vader
in die optog van generasies
wat hulpeloos demokrasie skree, skree deur die
stank van armoede en bloed
in die strate van sy verlore trots
die kind is dood
nou by Soweto en nou by Durban
nou by Alexandra en nou by Vosloorus
nou by die winkel in Pietermaritzburg
waar hy lê met ’n witbrood onder sy arm
die kind is die puin van leë beloftes
vergete in die bouval van hoop
die kind is afwesig by vergaderings en wetgewings
die kind word versmoor in fluisteringe in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son in Suid-Afrika is nêrens
die kind wat ’n man sou word is reeds stof
die kind wat ’n reus sou word reis naamloos deur koerante
sonder ’n stem.

