Die kerk is nie dood nie
die kerk wys haar vinger vir haar moeder
wat Here Here skreeu skreeu die geur van genade en vrede
in die konsistories van 'n geopende sel
Die kerk lig haar hande op na die Vader
in die eksodus van haar geskiedenis
wat Christus skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die tronke van haar Godgegewe gegewendheid
Die kerk is nie dood nie
nòg by Belhar nòg by Wynberg
nòg by Rustenburg nòg by Esselenpark
nòg by die pastorie in Bellville-Suid
waar sy lê met ’n 2 snydende swaard langs haar hart
Die kerk is die gewete van haar broeders
op wag by die regstellende skeidsmure
die kerk is afwesig by alle meetings en menseregteskendings
die kerk loer deur die hemelse vensters en jaloers in die harte van haar moeders
die kerk wat net wou sing in die son by Mamelodi is nerens
die kerk wat onafhanklik is kruip in Afrika
die kerk wat wees groot geword het, verdwaal in die wêreld
Sonder Belhar
(Erkenning aan Ingrid Jonker: Die Kind)
Pieter van Niekerk

