Die katartiese metode
Jaco Fouché
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485315834
........
Hierdie boek, wat met reg op die kortlys vir die Netwerk24 kykNET Rapport-prys was, is ’n klein … mens sou wou sê “juweel”, maar ek skram weg van daardie woord, want dis so geyk en vang nie die stemming van hierdie roman vas nie. Dis eerder soos ’n doring in jou voet waarteen jy kort-kort aandruk om daardie lekker jeukerige pyn te ervaar. Dit bly jou by soos ’n belediging. Die onwaarskynlike heldin, Tronelle, word dae lank die metgesel van jou denke.
........
Hierdie boek, wat met reg op die kortlys vir die Netwerk24 kykNET Rapport-prys was, is ’n klein … mens sou wou sê “juweel”, maar ek skram weg van daardie woord, want dis so geyk en vang nie die stemming van hierdie roman vas nie. Dis eerder soos ’n doring in jou voet waarteen jy kort-kort aandruk om daardie lekker jeukerige pyn te ervaar. Dit bly jou by soos ’n belediging. Die onwaarskynlike heldin, Tronelle, word dae lank die metgesel van jou denke.
A, Tronelle ... Sy is veertigerig; sy is onversorg met wilde hare wat sy nou en dan self sny, met ’n vel wat dringend room kort. Sy is verknog aan ’n gehawende trui, in enige weersomstandigheid. Wel, dis hoe sy haarself sien, maar sy moet oor iets beskik, want oral merk mense haar op en ontlok sy deernis. Katte spring op haar skoot. Sy ly aan allerlei simptome wat nie by die naam genoem word nie. Sy is geheg aan die inrigting waar sy van tyd tot tyd opgeneem word. Sy is ’n gewoontepasiënt met aangeleerde hulpeloosheid – sy meen wel sy veg daarteen. Sy is veral erg oor een van die terapeute. Haar gunstelingtydverdryf is om in die son op ’n muurtjie voor hierdie terapeut se kantoor te sit en haar sessies af te luister terwyl sy lekkers eet en oor die stad staar. Dit en op haar bed lê en rook. Tussen opnames woon sy in ’n soort halfweghuis vir herstellende pasiënte, ’n beskermde omgewing. Haar karige woonstel ruik na ou sigaretrook en is vol asbakkies. Soms los sy haar pille, want die goed laat haar so suf en dom voel.
Laat ek eerlik wees: Ek identifiseer ten sterkste met Tronelle en ek is seker ek is nie die enigste nie.
Tronelle reken sy leef in ’n era van naaktheid:
Naakte wrokke, naakte vrees, naakte ontnugtering wanneer jy op jou bed lê en probeer om die bure nie te hoor praat nie, sonder ophou oor die mans wat hulle geken het, die seks wat hulle gehad het, die kinders wat hulle gebaar het wat elders is. Ver.
Benewens op haar bed lê en rook, mediteer sy ook graag, soort van. Sy het wonderlike gedagtes soos:
Dis nogal iets om die stemme van hoër wesens te hoor en te voel hoe jy deur die groot magte gerig word. En die sosiale insig. Dit was asof die toevalligste sinne die grootste betekenis gedra het, al daardie suggestie en nuanse. Ek was verwonderd en verstom oor die wêreld wat ek aan die ontdek was, al die intrige en raaisels en geheime wat aan my blootgelê word.
Die ontnugtering kom met die behandeling. Dan besef jy hoeveel dinge aan die lewe, insluitend geestelike belewenis, eintlik maar die werking van die verstand is. Die hartseer waarheid is daar is nie sameswerings of hemele nie. Daar is net ooraktiewe verstande. As die gekkes iets kan verklaar, is dit: Die mistieke is fiksie, maar fiksie kan merkwaardig wees.
Tronelle se probleem is mense. Dit raak ’n snaar aan. Sy wantrou mense soveel as wat sy na hulle verlang. Sy vrees nie oop ruimtes nie en sou maklik in die openbaar kon wees as dit nie was vir mense nie.
Wanneer sy haar woonstel verlaat en na buite gaan, dy haar gees uit om die wêreld te omvat:
Ek ruik die bome en die blomme en die uitlaatgasse en die immerteenwoordigende sweem van riool en ek weet ek ruik die lewe. Die luim duur net totdat ek die een of ander ongemaklike sosiale transaksie op die lyf loop … Vir die strate self is ek nie bang nie. Dis my mense tussen wie ek wandel, wie se oë ek miskyk, wie se gesprekke ek probeer om nie te hoor nie.
Sy sluit wel ’n soort vriendskap met ’n ander inwoner van die inrigting, wat vrees dat hy ’n heiden en ’n ouerverraaier is. Sy wil graag help.
Tronelle, lees ons, was “normaal” tot op ongeveer 30. Hoewel dit klink asof haar man redelik en bedagsaam was, het die geboorte van haar twee kinders en die gepaardgaande verantwoordelikheid haar oor die rand gestoot. Nou het sy reeds ’n dekade lank geen kontak met hulle nie.
Die lewe maak haar moeg. Alles is moeite, ook sindelikheid. Seep moet oor en oor aangewend word. Knaend. Goeie indrukke moet volgehou word.
Haar geliefde sielkundige, dr Ames, wil graag dat Tronelle haar eksman (intussen weer getroud en met nog twee kinders by die tweede vrou) en haar kinders sien. Sy bewimpel dit so en die leser hou asem op.
.......
Dis ’n ongelooflik onderhoudende boek. Ek het besluit dís my hoogste lof: Ek wil geamuseer, geïnteresseer, geïntrigeer word. Net tog asseblief nooit verveel word nie. Met die lees van hierdie roman vertoef die leser meestal in Tronelle se ruim kop en in haar lewe wat buite beheer is soos ’n wegholtrollie. Dit verskaf meer vermaak en spanning as waarvoor enigeen kan wens. ’n Mens kan jou oë nie wegskeur nie.
........
Dis ’n ongelooflik onderhoudende boek. Ek het besluit dís my hoogste lof: Ek wil geamuseer, geïnteresseer, geïntrigeer word. Net tog asseblief nooit verveel word nie. Met die lees van hierdie roman vertoef die leser meestal in Tronelle se ruim kop en in haar lewe wat buite beheer is soos ’n wegholtrollie. Dit verskaf meer vermaak en spanning as waarvoor enigeen kan wens. ’n Mens kan jou oë nie wegskeur nie.
Tronelle is ’n karakter wat verdien om in die volksbewussyn nes te skop. Sy het gekom om te bly. Ek sal hierdie dun boek vir almal aanbeveel. Dit verwoord die chaos en verwarring van menswees. Dit geval my omdat daar van min boosheid en heelwat goedheid sprake is. Tronelle doen haar bes. Die dokter, ook beskadig, se intensies is suiwer. Haar eksman en selfs sy nuwe vrou probeer verstaan. Mense wil haar help.
Die taalgebruik en Tronelle se idioom verdien vermelding. Dit slaan jou tussen die oë, beelde soos: “Die venster is nat gevlek aan die binnekant, so ’n film bleek vogtigheid soos ’n mens ook tydens die liefdesdwang teen swetende genitalieë aantref.”
........
Dis donker, hoor. Dis geen piekniek met ’n asembenemende uitsig nie. Maar Tronelle se binnelandskap is ’n onvergeetlike bestemming.
........
Dis donker, hoor. Dis geen piekniek met ’n asembenemende uitsig nie. Maar Tronelle se binnelandskap is ’n onvergeetlike bestemming. Haar gedagtegang troos my soos Leonard Cohen se hipnotiese, melancholiese psalms. Ek is nie alleen nie.
Die einde is onvermydelik soos geboorte. Dis ’n klein boek met ’n reuse impak. Dit gaan jou weke lank teister soos ’n besonder hardnekkige oorwurm. Dit laat jou anders kyk na die ondermaanse en die mensdom, en wat meer kan ’n mens vra van ’n roman? Dit is inderdaad katarties. Ja, fiksie kan merkwaardig wees.
Lees ook:
Persverklaring: Kortlyste van die Netwerk24-kykNET-Rapport-boekpryse bekend
Kommentaar
Wat ‘n ongelooflik onderhoudende resensie. Dis merkwaardig hoe die boek daarin eggo. Of terugkaats. Of selfs weergalm. Ek hou nie van ‘n doring in my voet (of vinger) nie.
Nee, geen lekker jeukerige pyn vir my nie.
Dankie, Deburah