Die Kaapse klopse: ’n dag om vryheid te vier

  • 0

Die woord klopse is afgelei van die woord klubs in Nederlands. Sedert die eerste karnaval in 1907 gehou is, het dit twee wêreldoorloë en apartheid oorleef en vir meer as ’n eeu is dit een van die Moederstad se vernaamste aantreklikhede oor die feesgety. Wanneer die Kaapse Klopse op Tweede Nuwejaar verskyn, word Kaapstad se strate omgetower na ’n skouspel wat slegs by uitsondering elders in die wêreld te sien is.

Dikwels was daar wrywing tussen die organiseerders van die Kaapse Klopse Karnaval en die stadsvaders – meestal oor die netelige kwessie watter roete die optog deur die stad moet volg. Vir die organiserende komitee is dit ononderhandelbaar dat die tradisionele roete van die afgelope 100 jaar gevolg word: dit begin in die Keisergracht (Distrik Ses), af in Darlingstraat verby die Kaapstadse stadsaal, links in Adderleystraat, regs op in Waalstraat tot by Roosstraat in die Bo-Kaap, en weer regs tot onder by die Waterkant. Tradisioneel is die Klopse-kompetisie in die Groenpuntstadion gehou (vandag die Kaapstad-sokkerstadion).

Om ’n groep aan die gang te hou, kos baie geld: een uitrusting kos enigiets tussen R450 en R1 000. Omdat geld en werk skaars is, word die hulp van die Lotto, die Kaapse Stadsraad en die Wes-Kaapse regering waardeer. Dis ook verblydend dat borge betrokke is: die Shoprite Pennsylvanians, Santam Entertainers en Die Burger Happy Boys is byvoorbeeld huishoudelike name in die Kaap. Dis ook bekend dat sekere weldoeners, soos die oud-Springbok Ashwin Willemse, ’n groep finansieel ondersteun.

Met die werkloosheidsyfer wat voortdurend styg, beteken die Klopse Karnaval ’n welkome ekonomiese inspuiting vir die Kaap - volgens die organiseerders meer as R10 miljoen. Dit sluit in die kos wat by stalletjies, winkels en restaurante verkoop word, maar veral die kleremaakbedryf van die Klopse verskaf werk aan honderde Kapenaars en al vir meer as ’n eeu genereer dit ’n inkomste vir talle huishoudings. Dan praat ons nie eens van die inkomstewat dit vir die stad se toerismebedryf inbring nie.

Tydens slawerny het die slavinne wat vir hul meesteresse uitrustings gemaak het, al die afvalmateriaal gebruik en volgens die laslappiekonsep ’n kwilt daarvan gemaak. Hiermee is die veelkleurige uitrustings geskep wat die klopse op Tweede Nuwejaar gedra het. Vandag is dit ’n gesofistikeerde besigheid wat gepaard gaan met smaakvolle ontwerpe.

Ontwerpers van klopse-uitrustings, soos Antie Mac van Wellington, se geoefende oog weet presies watter kleur die kraag moet wees om te pas by die snit van die baadjie. Hulle verstaan ook hoe om die kleure af te wissel sodat die leiers van die groep uitgeken kan word alhoewel hulle steeds in dieselfde klere uitgevat is.

Die oggend voor die optog kom die groepe by hul hoofkwartier byeen (dikwels die agterplaas van die groepleier se huis) en dan word die laaste verstellings gemaak aan die uitrustings om te verseker dat almal netjies lyk. Baie lede wat dit nie finansieel kan bybring nie, word deur ander lede of die groep gehelp. Deur die loop van die jaar word funksies gehou wat armer lede in staat stel om hul uitrustings af te betaal. Net so word musiekinstrumente bekom. Die groep koop dit aan en die lede betaal dit met die verloop van tyd terug.

Daarna word die gesigte geverf. Vroeër is hoofsaaklik ’n wasbare swart verf gebruik, maar deesdae is gesigverf ’n kuns op sy eie. Professionele verwers sorg dat almal se gesigte pas by hul uitrustings; afgerond met blinkertjies en moderne ontwerpe.

Vir die oorsprong van die gesigverwery moet jy diep in die geskiedenis gaan delf. Volgens John Mason van die Departement Geskiedenis aan Virginia Universiteit in die VSA het die klopse sy ontstaan te danke aan ’n groep wit Amerikaners wat in die laat 1800’s die Christy’s Minstrels gestig het. Hulle het tradisionele liedjies van die slawe van Afrika-oorsprong gesing. Dit het so gewild geraak dat die groep deur Europa en na Suid-Afrika getoer het. Die lied “Daar kom die Alabama”verwys na die skip waarmee die groep hier aangekom het. Tydens hul musikale optredes is hul gesigte swart gesmeer om die gehoor te herinner dat hulle die slawe van Afrika naboots.

Die slawe in die Kaap het dadelik aanklank by die musiek van die minstrels gevind, en dit deel van hulle eie Nuwejaarsvieringe gemaak. Vir een dag in die jaar het die slawe ’n dag af gehad. Op Tweede Nuwejaar kon hulle ’n bietjie ontspan en sosiaal verkeer. Deur die geskiedenis was dit ’n geleentheid om die bordjies te verhang: wanneer die onderdruktes – net vir een dag - die gek kon skeer met hul onderdrukkers. Daarom dat hulle hul gesigte swart gesmeer het, sodat hulle onherkenbaar kon wees.

Terloops, volgens Mason het die term coon negatiewe konnotasies ingehou vir swart Amerikaners tydens slawerny. Gevolglik is die Cape Coon Carnival herdoop na Cape Town Minstrels.Die oorsprong van die Klopse-karnaval kan dus teruggevoer word na die tyd van slawerny en die haglike toestande waaronder slawe, hier en in die VSA, gebuk moes gaan. Hierdie verbintenis tussen die Kaap en die VSA is ook te sien in groepe se name, soos Pennsylvanian Minstrels, waarvan Mason ook ’n lid is.

Nuwejaar is vakansietyd in die Kaap. Die feesvieringe vind derhalwe in die strate plaas en het altyd gepaard gegaan met uitbundige musiek, sang en dans. Volgens Edward Daniels, orkesleier van die Pennsylvanians, is dit ’n onbeskryflike gevoel as hulle by die Kaapstadse Stadsaal verbystap en die aankondiger kondig die groep aan.

Dis ook ’n geleentheid om jongmense oor die verlede in te lig. So verseker jy dat die tradisie wat oor meer as 100 jaar strek, van geslag tot geslag oorgedra word. Soos dat die Seven Steps ’n bekende baken in Distrik Ses was waar die groepe voor die optog bymekaar gekom het. Richard Stemmet wys trots na ’n foto waar hy as kind tussen familie en vriende op die Seven Steps sit. Die afkorting YPD (Young Pennsylvanian Darkies) vertoon in die agtergrond teen mure.

In die Klopse-tradisie is almal gelyk, of jy wit, bruin, swart of pienk is. En die lede kom uit alle vlakke van die samelewing: dokters, prokureurs, onderwysers, sakemanne, fabriekswerkers en groenteverkopers. Op Tweede Nuwejaar is almal daar: ma en pa, ouma en oupa, oom en antie, oud en jonk, van 2 tot 82 jaar. “In die klopse is jy net jy,” sê Victor Davids. “Ons is verteenwoordigend van alle vlakke van die samelewing. Meer inklusief kan jy nie kry nie.”

Die Kaapse Klopse Karnaval is ’n geleentheid wanneer die eertydse slawe en hedendaagse Kapenaars fees vier; hulle vier hul vryheid, maar ook hul reg om die vryheid wat so duur gekoop is, te geniet. Soos een van die groepe se banier lui: Freedom of Enjoyment. Om vry te wees én jou vryheid te geniet.

Bronne
Denis-Constant, Martin. 2007. Chronicles of the Kaapse Klopse, with some documents on the sources of their music. Paris: Centre d’études et de recherches internationals.
Kaapse Jol. 2010. ’n KykNet-produksie.
Le Cordeur, MLA. 2011. Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit – ’n
sosiokulturele perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4).

(Michael le Cordeur is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Hy doen onder andere navorsing oor die geskiedenis van die Kaapse Klopse.)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top