Hallo Stephan
Op 20 Maart vertel jy my " ... Afrikaans is mos en word gekaap deur die ’wit groep’ as wapen in die stryd teen verlies aan politieke en sosiale mag" nadat ek gesê het jy kan nie ’n taal by iemand steel soos wat mens met ’n konkrete voorwerp kan maak nie.
Jy kan nie so’n stelling maak sonder om grond daarvoor te verskaf nie. Ek het ’n rede vir my stelling verskaf naamlik dat taal abstrak is, jy kan hom nie in die nag gaan haal en dan is die slagoffer hom kwyt nie en buitendien, álmal wil graag hê vreemdes moet sy taal leer.
En sou mens nou kon (’n taal steel), hoe help hierdie kaping van Afrikaans die Afrikaner in sy " ... stryd teen verlies aan politieke en sosiale mag"? Reken jy die Afrikaner gaan mag herwin as hy die taal kaap? Jy is hier bietjie deurmekaar met oorsaak en gevolg: Jy reken die bevoordeling van Afrikaans was ’n "embleem van Afrikaneroorheersing (een woord Stephan) in die vorige bestel ..." en in die selfde asem gee jy te kenne dat, in die nuwe bestel, die Afrikaner die taal wil kaap. Hoe bring jy die kloutjie by die oor?
Verder, waar kom jy daaraan dat Afrikaans bevoordeel is in die vorige bestel? Hoe sou dit "in die vorige bestel" gedoen gewees het, deur roomys uit te deel aan die wat Afrikaans gepraat het, of wat? Laat weet my asseblief.
Jy sê as " ... mens wil praat van inklusiwiteit of diversiteit dan moet die idee van ’n standaard laat vaar word en moet daardie diversiteit gehoor word." Hoekom sal mens nou van inklusiwiteit WIL praat, is daar een of ander dekreet uitgevaardig ten opsigte daarvan, of wat?
Dalk het jy dit net verkeerd gestel, dalk bedoel jy mens moet inklusief handel (waarvoor daar terloops ook nie ’n dekreet uitgevaardig is nie). Wel, in daardie geval, wie moet inklusief handel? Moet die Cockneys byvoorbeeld Queen’s English praat as daar studente van Oxford in die omgewing is sodat laasgenoemde nie uitgesluit voel nie, of moet die Oxfordstudente met ’n Cockney-aksent praat sodat die Cockneys nie uitgesluit voel nie?
Hoe werk dit in Suid-Afrika; moet die mense wat sogenaamde Kaaps praat oorslaan na standaard-Afrikaans as die Vrystaters kom kuier sodat dié nie uitgesluit voel nie? Hoe word die ’diversiteit gehoor’ in, sê Namakwaland, of die Kaapse vlakte, of Nylstroom; moet hulle periodiek met ander aksente praat sodat die diversiteit gehoor kan word?
Miskien verstaan ek verkeerd Stephan, ek sal bly wees as jy bietjie kan verduidelik.
Groetnis
Jan Rap

