Die juiste betekenis

  • 1

Keith van der Wat het dit geweet, destyds al. Sy fliek Liefde vir lelik was ’n groot treffer in elke inrybioskoop in ons land. Maar ’n nuwe daeraad het aangebreek, en ons moet ons steppies ken. Lelik is fijn, maar swak spelling is nie altyd autocorrect se skuld nie.

My suster, Elsebe Pretorius, daar van die Garsfontein-gemeente in Pretoria, staan met haar voete in die onderwys. By haar hoor ek dat verkeerde spelling nou reeds geruime tyd nie meer in skole verkeerd gemerk word nie. Jy kan ’n leerder nie penaliseer as hy nie geleer het hoe om woorde reg te spel nie.

Natuurlik het haar woorde my byna ’n konnipsie laat kry. Gaan daardie arme leerders ooit Afrikaanse gedigte kan verstaan? Gaan hulle dink die uurwerk wat in Van Wyk Louw se “Suiwer wiskunde” kantel, moes eintlik ’n muurwerk gewees het?

Ek het gemediteer oor hierdie dinge, en die saak staan vir my só:

Die verband tussen spelling en semantiek is veel dieper as wat dit op die oog af lyk: Dit is ’n verhouding tussen vorm en betekenis, tussen die fisiese draer van taal en die konsep wat dit oproep. In geskrewe taal is spelling nie bloot ’n konvensie nie, maar die visuele kode waardeur betekenis tot stand kom. Die letters skep nie net die klankbeeld van ’n woord nie, maar ook die verwysingsnetwerk waarin dit leef. ’n Afwyking in spelling kan dus die semantiese veld verskuif – soms subtiel, soms radikaal. Wanneer ’n gedig hom op dubbelsinnigheid, ironie of intertekstualiteit beroep, word spelling deel van die spel van betekenis.

Swak spelling werk soos ’n gebreekte spieël: Dit weerkaats klanke, maar nie betekenis nie. Dit vernietig die ritme van lees. In poësie is die letter nie net draer van klank nie, maar draer van visuele simboliek. Verlies van korrekte spelling is ‘n verlies aan resonansie met die tydgenootlike en die etimologiese. Ironie en dubbelsinnigheid funksioneer slegs as daar ’n verband tussen verwagting en afwyking is. Swak spelling verwyder daardie verwagting – die leser kan nie herken wat afwyk nie, en dus nie die ironie besef nie.

Om spelling te versorg is dus nie bloot ’n akademiese deug nie, maar ’n manier om betekenis te respekteer. Dit is wat taal lewendig hou: die vermoë om presies te beteken en tog ruimte vir meerduidigheid te laat. Wanneer ons swak spelling verdra, verloor ons nie net estetiese genot nie, maar ook semantiese diepte. In poësie word elke tikfout ’n ontwrigting van betekenis.

Maar …

Dit is altyd raadsaam om nie heeltemal skoolvossig te wees oor kreatiewe skryfwerk nie.

Onlangs gesels ek met iemand wat ’n gedig moes vertaal. Nie sommer enige gedig nie. Een van die gedigte in Breyten Breytenbach se Verwelkingslied waarin hy onder meer verkeerde spelling gebruik om meerdere betekenisse te ontsluit. Soos hy altyd maak.

Op een plek gebruik hy die woord “karadyskapers” waarin die eerste letter deel is van ’n uitgebreide spel rondom die letter k. Binne die konteks van die vers is dit duidelik dat hy verwys na politici wat ons aardse paradys weggeraap het:

of kap die karadyskapers en katlagters, 
veral die kasarm vet katte gevoer 
op coke en koek-sistas 
en die kadawers van ons koorvaders.

Koorvaders? Hoe gaan die liedjie? “We’re still singin’ that same song …”

Maar Breyten staan met albei voete in die Zen-Boeddhisme (kan mens die rooi vellies op sy kis tydens sy begrafnis ooit vergeet?) en daarom lui karadys asof ’n monnik die ghantaklok sloeg: Ka in Kadampa-Boeddhisme verwys spesifiek na die leringe van Boeddha, terwyl dit in die Dzogchen-tradisie van Tibettaanse Boeddhisme “oersuiwerheid” beteken. Om dan ’n radys met Ka te koppel, is ’n direkte verwysing na die twaalfde-eeuse koan waarin die Boeddha vervang word deur ’n radys, en die innerlike suiwerheid paradoksaal gekoppel word aan die aardse.

Dieselfde gedig (na te lees in Human & Rousseau se uitgawe van Verwelkingslied) bevat ander lekker uitdagings aan die vertaler. Neem byvoorbeeld “kaapteins en kosters van die kapaatsektor”.

Kaapteins is ’n samevoeging van kaptein en kaap (wat in ’n Suid-Afrikaanse konteks op enigiets van karre tot kabinette kan slaan); kosters is gemeenteklerke (en in die NGK-konteks word dit dikwels gebruik om na die dominee se skiewie te verwys); kapaatsektor is nog ’n wonderlike samevoeging – van privaatsektor, kapoen en kapater – wat hy gebruik om sarkasties te sê dat die privaatsektor geen regte ballas of breins het nie. Brein omdat hy ook die ou woord vir “pate” gebruik, naamlik paat. En ja, daar’s hy al weer, onse Ka.

Hoe sê mens hierdie dinge in enige ander taal in min of meer dieselfde aantal woorde, en met behoud van metrum en gevoelslading? Nugter alleen weet.

Mens geniet Breyten se spelspronge omdat hy soveel woorde betrek. Dit kon anders gespel gewees het, maar dan is die digter die kapoen.

Terug by spelling: Ek lees in die sosiale media vandeesweek iemand kla oor die verstaanbaarheid van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (na aanleiding van Rapport se lys van die 100 beste Afrikaanse romans). Die persoon se probleem is nie met spelling nie, maar dit is verwant. Lees mens ’n roman met die verwagting dat sy volle betekenis onmiddellik toeganklik moet wees? Sien jy kans daarvoor as dit van jou verg om die leidrade in die roman te neem en verder te  gaan nalees sodat jy die roman kan verstaan? (In Silbersteins se geval die Jungiaanse sielkunde.)

Karel Schoeman het gesê dit is nie die skrywer se taak om dinge maklik te maak vir sy lesers nie. Ek stem met hom saam. En boonop, het jy al ooit ’n spelfout in een van sy boeke gesien?

 

  • 1

Kommentaar

  • Asemrowende artikel. My eerste reaksie op die wettiging van verkeerde spelling is dat 'n som tog nie 'n verkeerde antwoord kan hê nie. My tweede reaksie is dat taal gaan oor menswees en dat dit wonderlik is as kinders met meer vrymoedigheid hulle gedagtes kan weergee. Die koms van KI het o.a. ook korrektheid goedkoop gemaak. Terselfdertyd is menswees meer kosbaar. En die hele wêreld is nou 'n universiteit en ons almal is weer studente wat vrae vra op soek na die (korrekte) antwoorde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top