Die jare daarna

  • 1

Foto: canva

Die jare daarna

In die jare daarna
sou ek stukkies van jou wese saamdra –
soms aspris,
soms terdeë onbewus.

Klein goedjies, oomblikke
soos feetjies
in glaskasteeltjies,
in solders weggebêre.

Jou lag het ek vir my gevat,
’n juweel in ’n musiekdoos
wat weer sal speel
wanneer ek dit oopmaak.

Jou oë –
die klipkoppies van die Namaland,
maar sag.

in die jare daarna
sou ek jou wegpak
ter oorlewing,
in ’n boksie sonder naam.
Ek sou wag
om jou te vergeet.

Maar my brein het my mislei
met hoop –
dat jy daar, in die boksies,
sou wegkwyn,
verdwyn.

Nou het ek besef:
Jy het in my wortelgeskiet.

Jou lag – ’n lied.
Jou hande.
Jou oë.
Jou lyf.

Ek weet nou
ek sal jou altyd onthou.

En ek wonder:
Het jy ook dele van my gehou?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top