Die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het

  • 0


Andries Bezuidenhout
Foto: Bibi Slippers


Die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het

Watter jaar was dit nou weer,
voor of ná Pa die skottelgoedwasser gewen het?
Toe ons woonbuurt nog ’n wêreldkaart was –
platgestryk en uitgerol iewers op die afdraandpad
tussen Hoëveld en Bosveld, ’n tussenin plek.
Toe die kerk se klepel nog ’n spilpunt lui,
al stamp die eggo’s reeds teen ’n winkelsentrummuur.

Watter jaar was dit nou weer, voor of ná Pa
die skottelgoedwasser by die bierfees gewen het?
Toe Ma nog uit boeke onthaal het,
riviere grondboontjies en rosyntjies op tinfoelie uitgepak het.
Toe Mamelodi donker Afrika anderkant die buffersone was,
Eersterust ingewig tussen township en fabriek.
Toe Watermeyerstraat die braairooster-straatblokke
se vervelige simmetrie breek
en jy dit onderdorp toe kon oorsteek.
Jy, die een wat die slimste skuif,
wat Pa met skaak kon wen.

Watter jaar was dit nou weer,
voor of ná Pa soveel bier gedrink het
dat hy ’n skottelgoedwasser gewen het?
Die jare gepak soos borde in rakkies,
die masjien spoel sy mond met skuim uit –
linkerkies, regterkies, gorrel en sluk.
Elke nou en dan ’n koppie gebreek,
die dooie mense by Volkskas in Silverton,
wat was die tannie se naam nou weer?
Oom André wat kla oor die meide by die werk
wat so in die hysbakke poep.
Toe die kafferboom besluit om sy naam te verander
en die tipuana die wind omhels en omdonder,
wortels in die lug.

 

                               *

Jare later moet jy Potchefstroom toe
vir ’n vinnige datum op die rol,
luister na die redes voor jou in die ry:
“Ons het mekaar nie meer lief nie.”
“Ons woon reeds twee jaar nie meer saam nie.”
“Hy het my uitgeskop.”
Oor jóú redes vra ek nie uit nie,
maar soms wonder ek of jy tóé reeds ontsnap het,
voor of ná Pa die skottelgoedwasser gewen het.
’n Bosch, dink ek, toepaslik vir ’n Duitse fees.
Ma wat so bly was, eers later hoor
hy wou eintlik die enkelreis oorsee wen.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top