Hello Christoffel
Baie dankie vir die link wat jy verskaf het. Ek het die artikel van Loise M. Antony gelees en het nie die indruk gekry dat sy morele goedheid sien as die produk van die natuur of evolusie nie. Sy noem voorbeelde van wat sy beskou as ooglopend morele beslissings, beslissings wat nie altyd manifesteer in die natuur nie. Dis dus duidelik uit haar voorbeelde dat sy nie haarself skuldig maak aan die "naturalistic falacy" nie. Die nihilist ateïs, wie se posisie sy nie ondersteun nie, sal dan die een wees wat homself skuldig maak an hierdie drogrede. So ’n posisie, in elk geval, sou uiters moeilik wees (tensy jy nooit opstaan uit jou leunstoel nie) om te handhaaf in enige samelewing. Die hoofredes hiervoor die rol van kulturele evolusie en die vermoë wat ons spesie het om die konsekwensies van ons gedrag te voorsien. Ek dink dat hierdie die siening is vandie oorgrote meerderheid van ateïste en dat die wat wil voorgee dat dit anders is ’n "strawman" aanval.
Een ding wat wel waar is, soos Loise M. Antony impliseer, is dat ateïste nie kan aanspraak maak, ten spyte van Sam Harris se argument en soos wat gelowiges glo nodig is, op morele waardes wat objektief gemeet kan word nie. Dis nie vir my duidelik dat dit moontlik kan wees of selfs gewens is dat iets soos ’n absolute morele waarde bestaan nie. Christene self hou nie by die absolute waardes van die Bybel nie en is voortdurend besig met herinterpretasie van God se wil (baie keer deur selektief te wees in die lees van die Bybel). Die neem van ’n lewe, byvoorbeeld, word in verskillende tye geinterpreteer as moord, selfverdediging, geregverdigde oorlogvoering of, soos in die tyd van Moses en die Middeleeue, die wil van God. Die Grieke het nooit slawerny bevraagteken nie en dit het ook nie Paulus se gewete gepla nie. Menslike interpretasies van moraliteit of misinterpretasie deur Paulus (is dit moontlik dat die Heilige Gees onduidelik of swygend was oor slawerny?)
Tog word volgehou dat God absolute waardes verseker en dat hierdie waardes almal goed is. Hier moet die Christen filosoof hom hou by die God wat homself openbaar in die Bybel, iets wat selde of nooit gebeur nie. Hoe kan ons weet wat hierdie waardes is? Doen ons wat hierdie god vereis in sy gebooie en wette of volg ons sy voorbeeld? Die voorbeeld wat massamoord vereis van die Israeliete? Wat homself beskryf as jaloers en wraaksugtig? Wat mense se harte verhard en hulle dan vernietig? Wat dobbel met mense se lewens (Job)? Wat masochisties aan ’n kruis gaan hang vir ’n paar ure net sodat hy meeste van die mensdom ewiglik hel toe kan stuur? Hoekom sou jy hoegenaamd so ’n god oorweeg as die bepaler van absolute en goie morele waardes. Feitlik elke mens op aarde het ’n groter kapasiteit vir morele goedheid as die god van die Christene, die Jode en die Moslems. Die naaste wat mense kom aan hierdie god is deur psigopaties te wees!
Gelukkig leef gelowiges nie streng volgens die wil van hulle gode nie en dit sê baie meer as wat hulle ooit bereid sal wees om te erken: God, as hy bestaan, is nie goed, sleg of geintereseerd nie. Ons het morele waardes wat gelowige en ongelowige deel ten spyte van die aansprake van godsdiens.
Mooibly
Links wat jy dalk sal geniet:
http://www.dailymotion.com/video/x1l86w_george-carlin-and-the-ten-commandme_news
http://freethoughtblogs.com/reasonabledoubts
Gilgamesh

