
Foto: Canva.com
Die huisie in Duinestraat
Ek sit in my venster van verlang
kyk oor my geheue na my liefde
plekke wat ek liefhet
mense wat ek liefhet
of gehad het wat nou al dood is
of net weg is van my ruimte
op my vensterbank is my mossie
’n pot met verlepte rose van gister
die boek van my lewe
my rekening van haat en vergewe
my sakkie albasters wat altyd by my is
eenkant lê my hart en snak na sy asem
die Bybel op my bedkas is oop
op my gunstelingvers –
waarmee ek myself verdedig
teen hulle wat my oordeel
dan doer in die verte
Bobbejaansberg
in die laaste strale van die son
soos ek hom elke dag onthou
eenkant die lang strand na Lambertsbaai
dan weet ek daar – net daar
is ’n klein huisie langs die see
hier het die lewe my alles gegee
twee wêrelde – van liefde en haat
by die huisie – in Duinestraat.


Kommentaar
Baie mooi gedig
Dankie vir die plasing. Dit voel goed om dit op julle blad te sien.