Die houtbeen van St Sergius deur Chris N van der Merwe

  • 0

Titel: Die houtbeen van St Sergius – Opstelle oor Afrikaanse romans
Skrywer: Chris N van der Merwe
Uitgewer: SUN PReSS
ISBN: 9781920689179

Koop Die houtbeen van St Sergius – Opstelle oor Afrikaanse romans by Kalahari.com

Chris N van der Merwe is welbekend as prosakritikus. Die houtbeen van St Sergius – Opstelle oor Afrikaanse romans is ’n versameling van Van der Merwe se werk as navorser en kritikus uit rofweg die afgelope 20 jaar. Hoewel die ondertitel van die bundel suggereer dat dit ’n reeks opstelle is, is die inhoud meer gevarieerd as dit.

St Sergius omvat resensies, opstelle en ook vollengte akademiese artikels. Oor waarom dié verskeidenheid tekste – wat reeds elders verskyn het – saamgevat word in een band, skryf die outeur in sy voorwoord: “Dit het vir my duidelik geword dat [die artikels] ’n gesprek met mekaar voer – die geheel is meer as die onderdele. [Die artikels] vul mekaar aan; saam vorm hulle ’n verhaal, die verhaal van my omgang met Afrikaanse boeke” (7).

En dit is sonder twyfel ’n interessante verhaal.

Gedurende die negentigerjare was Van der Merwe se navorsing veral gefokus op narratiewe uit en oor die Grensoorlog en die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog). Hiervan getuig ’n aantal van die opnames in St Sergius. Die eerste gedeelte van die boek bevat ’n reeks artikels oor die top 20 Afrikaanse romans (volgens die outeur) wat in die negentigerjare verskyn het (11 ev). ’n Groot gros van hierdie romans is gemoeid met Suid-Afrika se komplekse (oorlogs-)geskiedenis.

Die reeks essays, wat oorspronklik op LitNet gepubliseer is, het voortgevloei uit ’n artikel oor die sogenaamde GAR (Groot Afrikaanse Roman) wat in Insig, April 2000 verskyn het. Hierdie essays is besonder toeganklik geskryf. Hierbenewens kontekstualiseer Van der Merwe ook, wanneer nodig, die publikasie en resepsie van elkeen van die romans wat hy bespreek, waardeur hy aandui hoe die spesifieke teks van literêr-historiese belang is. Hierdie stukke sal byval vind by akademici, studente en ook gewoon geïnteresseerde lesers en leeskringe.

Op Van der Merwe se lys is ’n klomp romans wat mens daar sou verwag, soos André P Brink se Inteendeel (1996), Marlene van Niekerk se Triomf (1994), AHM Scholtz se Vatmaar (1995), Lettie Viljoen se Belemmering (1990) en drie romans deur Karel Schoeman: Hierdie lewe (1993), Die uur van die engel (1995) en Verliesfontein (1998). In sy Insig-artikel dui die outeur aan waarom hy ’n lys van 20 opgestel het eerder as om net een teks met die titel van GAR te bekroon (11–13). Die feit dat Karel Schoeman drie van die plekke op die lys opneem, dui wel op iets!

Die outeur skryf in die voorwoord van St Sergius dat dit sy omgang met oorlogsverhale was wat hom eindelik gelei het tot trauma en literatuur (7). Hierdie bewustheid is deurgaans in die romanbesprekings aanwesig. Oor die oorlogliteratuur en die verwerking van trauma in die letterkunde het hy al wyd gepubliseer, onder meer in vakjoernale, maar ook in ’n aantal boeke, soos De helende kracht van Literatuur (2001, saam met Rolf Wolfswinkel), Narrating our Healing (2007, saam met Pumla Gobodo-Madikizela) en Woordeloos tot verhaal: trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans (2012, saam met Hans Ester en Etty Mulder).

Dit is vanselfsprekend dat van die outeur se navorsingsuitsette oor literatuur en oorlog en oor literatuur en trauma ook in sy nuutste versameling opgeneem is. Die leser kry in die gedeelte “Waarheid, versoening en heling” (109 ev) onder meer ’n vergelykende perspektief op Afrikaanse en Nederlandse oorlogverhale (128–38) en ’n blik op die verwerking van trauma in Karel Schoeman se veelbesproke outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek (139–59). Daarbenewens verskyn daar in dié afdeling resensies oor Ingrid Winterbach se Die benederyk (196–202) en Sonja Loots se Sirkusboere (203–7).

Dit is ook uit hierdie afdeling dat Van der Merwe die versameling se titel haal. In “Surviving a Lost War” (184–95) bespreek hy hoe Afrikaanse skrywers na 1994 hulle verlede herbestudeer en herinterpreteer, en hoe “the wounds are being healed by talking, by story-telling” (185). Die titel van Die houtbeen van St Sergius is ’n verwysing na ’n aanhaling uit JM Coetzee se The Master of Petersburg (1994). Met verwysing na Ingrid Winterbach se Niggie (2002) skryf Van der Merwe:

The novel is permeated by pain, but the theme of pain has been transformed into a work of art. This connection between suffering and artistic expression, the balance between pain and beauty, is reminiscent of the clear-sounding but cracked bell mentioned in JM Coetzee’s The Master of Petersburg, playfully nick-named St Sergius’s wooden leg. (193)  

Met hierdie verwysing lei Van der Merwe reeds die derde afdeling van die boek in, al is “Surviving a Lost War” nie die laaste bydrae in afdeling twee nie. In “Literatuur en spiritualiteit” (211 ev) vind die leser ’n reeks artikels wat voorheen in verskeie ander boeke en joernale gepubliseer is, terwyl daar ook ’n resensie en resensie-essay wat op LitNet en LitNet Akademies onderskeidelik verskyn het, ingesluit is. Hoewel die fokus van hierdie afdeling beslis op die verband tussen religie/spiritualiteit en letterkunde val, skakel dit nog effektief met die vorige afdelings in die boek deurdat die outeur ook die verbande tussen religie/spiritualiteit en trauma verken.

Daar is ’n duidelike goue draad wat deur Die houtbeen van St Sergius loop. Van begin tot einde gelees is dit duidelik dat die argumente en idees wat in die lys van top 20 romans aangebied word, verder verken en uitgebou word in die opnames in dele twee en drie van die boek. Dit moet ook genoem word dat Van der Merwe se kritiek en argumente deurgaans weloorwoë is en dat hy dikwels sonder skroom standpunt inneem teen die soort ondeurdagte kritiek wat alte maklik gevel word. Hier lig ek veral uit die besprekings van Hambidge se Judaskus (55–8) en “Die laaste woord oor ’n Afrikaanse boek of Die verhaal van die afgesnyde voete”, die bydrae oor Schoeman se outobiografie (139–59).

Die houtbeen van St Sergius is ’n mooi samevatting van een literator se produktiewe en diepgaande navorsingsloopbaan die afgelope 20 jaar. Waarvan die leser wel kennis moet neem, is dat die bydraes wat in St Sergius opgeneem is, almal oorspronklik elders verskyn het, soos reeds genoem is. En dit is dalk waar kritiek teen hierdie publikasie uitgespreek kan word.

Francis Galloway het onlangs in ’n bydrae tot LitNet se Poolshoogte-kongres aangedui dat die Afrikaanse akademiese uitgewersbedryf steeds aan ’t kwyn is. Hoewel dit enersyds uiteraard wonderlik is dat ’n uitgewer soos SUN PReSS nog bereid is om ’n bundel oor Afrikaanse literêre kritiek en navorsing uit te gee, trek die leser (en koper) andersyds bietjie aan die kort ent. Die samehangende eenheid van die inhoud van Die houtbeen van St Sergius lewer nie in so ’n mate ’n nuwe bydrae tot navorsing oor die Afrikaanse letterkunde dat ’n herpublikasie van artikels, essays en resensies in ’n boek heeltemal geregverdig voel nie. Die gesprek is al elders gevoer, al kry mens hier die geleentheid om dit hiermee as ’t ware in ’n kontinuum te waardeer. Waarop die leser dalk sou gehoop het, is die insluiting van iets wat tog verdere verruiming sou bied, soos ’n lys van die top 20 Afrikaanse romans tussen 2000 en 2010. Ek glo dat die hoop op so ’n lys uit Van der Merwe se perspektief nie sou beskaam nie.

Lees ook: Marita van der Vyver: Griet skryf ’n sprokie (1992)

En ook: Agaat deur Marlene van Niekerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top