Titel: Hoopvol
Skrywer: Derick van der Walt
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624056256
Klik hier om Hoopvol te koop by Kalahari.com.
Derick van der Walt het reeds verskeie male in Afrikaanse jeugboeke bewys dat hy ’n meesterverteller is. Sy debuutroman, Lien se lankstaanskoene (wat nou deur kykNET verfilm gaan word en ook landswyd voorgeskryf is vir matriekleerders met Afrikaans as Eerste Addisionele Taal in die IEB – die Onafhanklike Eksamenraad), sowel as sy volgende jeugverhaal, Willem Poprok, het reeds Sanlam- en MER-pryse verower. Dat Hoopvol in 2011 die silwer prys vir Sanlam se kompetisie vir jeuglektuur gewen het, is amper te verwagte.
Die voorblad daag reeds die jong en oplettende leser se verwagtingshorison uit, waar daar een spoorlyn op die voorgrond is wat twee word; met silhoeëtte teen ’n ondergaande (of dalk opkomende) son wat duidelik aantoon dat twee treine by mekaar verby ry. Juis hierdie visuele inligting stimuleer ’n leser se verbeelding –’n mens hoor as’t ware hoe die treine op die spore knars en by mekaar verbyrammel; jy probeer voorspel hoe die karakters by mekaar gaan uitkom, of hoe hulle mekaar gaan mis. Die gedagte dat daar ’n moontlike verband tussen die visuele teks en die woordteks sou kon wees, begin dadelik ’n ontdekkingsreis waarop die leser gaan as hy/sy intellektueel uitgenooi word om die raaisel van die twee storielyne te ontrafel, te wonder hoe die legkaartstukke wat die verteller subtiel verweef, uiteindelik in mekaar pas.
Die agterblad van die teks lyk na ’n spieëlbeeld van die voorblad en is amper meer geslaagd omdat die tema hier minder opsigtelik deurskemer. Dit bied in twee kernsinne aan waaroor die verhaal handel – Nathalie se storie, wat as tienermeisie liefde vind en verloor in Hoopvol, ’n uitsiglose (waarskynlik fiktiewe) dorpie in die Karoo, waar die grootste avontuur vir die enkele tieners van die dorp is om een keer per week Beaufort-Wes toe te gaan. Dan is daar ook Ben, wat as tienerseun ná die traumatiese dood van sy ma en suster op ’n trein klim om sy pa in verskeie stede te gaan soek, waarna hy uiteindelik by die dorpie Hoopvol uitkom en ’n sirkel voltooi word.
Belangrike intertekste begelei die storielyne – aan die begin van Deel Een van die verhaal is dit die sagte stem van die misterieuse sangeres Enya wat verlangend saam met die leser en hoofkarakters soek na liefde en hoop. Dan kom die wysheidprediker van die Bybel in Spreuke in die tweede gedeelte aan die woord en bevestig dat hoop die karakter (en die leser) nie ontneem sal word nie. Dit is jammer dat hierdie laaste interteks nie eerder subtiel verweef word nie, omdat die antwoord op die storie se raaisel op hierdie manier te vinnig verskaf word. Dit kan veroorsaak dat lesers te gou voorspel dat alles goed sal eindig en die spanning om verder te lees, kan afneem. Ook dui navorsing oor tienerlesers daarop dat jongmense ’n ingeboude radar het om enige soortgelyke pedantiese (prekerige) houding of boodskap te herken, te ontduik en te vermy.
Hoopvol is ’n jeugteks wat toepaslik is vir meisies sowel as seuns as lesers. Meisies sal veral aanklank vind by die liefdestonele wat treffend en sensitief verbeeld word sonder dat dit eksplisiet is. In Ben se storie is daar baie beweging van een plek na ’n ander, maar nie werklik baie aksie nie. Tog is die toneeltjies waar hy en Helena PlayStation-speletjies teen mekaar speel en waar hulle mekaar op perde uitdaag, dalk meer wat seuns sou wou lees.
Die outeur bied in Hoopvol ’n gebalanseerde uitbeelding van persone, waar die tienerleser sterk kan identifiseer met albei hoofkarakters en ook deernis kan voel vir die oneindige (tragiese) verlange wat die gevolg is van ’n onmoontlike (en dalk ook ontoelaatbare) liefdesverhouding oor grense heen tussen juffrou September, die bruin burgemeester van Hoopvol, en die wit pastoor Chalmers. Daarmee word die problematiek van diversiteit in die nuwe Suid-Afrika sensitief in die teks aangespreek sonder dat hierdie newekarakters stereotipies uitgebeeld word. Ook die samelewing se kleinburgerlike siening van iemand met dwelmprobleme en sy gevolglike verblyf in die rehabilitasiesentrum te Noupoort word in die verhaal ontmasker wanneer Bobby se onskuld duidelik blyk nadat die jonge Olivia amper verkrag is.
Tienersleng is kenmerkend van die hoofkarakters se innerlike monoloog sowel as die dialoog in die verhaal. Van der Walt se eie woorde is:[1] “Tieners praat nie meer sleng en Engels as grootmense nie.” Dit is dalk wel waar, hoewel tekste van ’n vroeër bekroonde jeugskrywer soos Elsabé Steenberg (wat waarskynlik een van die outeur se rolmodelle is),[2] definitief nie sulke taalgebruik sou insluit nie. Hierdie soort taalgebruik is ’n eietydse jeugletterkundige neiging in Afrikaans en Van der Walt slaag daarin om daarmee die kontekste en karakters in Hoopvol doeltreffend te verbeeld. Uiteindelik is daar ook wel die uitbreiding van lesers se woordeskat wanneer spesifiek die varsproduktemark in Pretoria en die skaapplaas in die Karoo die agtergronde is waarteen die storielyne afspeel. ’n Verdere opmerking in terme van taalgebruik is beslis die skrywer se humoristiese kwinkslae, iets waarvoor hy reeds bekendheid verwerf het in sy vorige jeugboeke.
Alhoewel Sanlam se kompetisietema van “hoop” effens te ooglopend in die titel en storie literêr verken en ontplooi word (dít, tesame met enkele elemente wat moontlik die outentisiteit van die verhaalgegewe en konteks kan bedreig[3]), is Hoopvol weer eens ’n treffer en ’n spannende Afrikaanse liefdesverhaal uit Derick van der Walt se pen wat op elke tienerleser tussen 14- en 18-jarige ouderdom se wenslys vir Kersfees of ’n volgende verjaarsdag kan verskyn.
- (a) Op bladsy 13 word gepraat van jongmense wat ná matriek in Engeland gaan werk vir ’n jaar – in die hede is dit wel waar, maar dis te betwyfel dat dit waar was van tieners in die Karoo rondom 1994-1996 (die moontlike verhaaltyd van hierdie spesifieke storielyn).
-
(b) Op bladsy 146 is ’n dialoog tussen twee meisies en een praat van die ander se “eye-shadow” wat oor haar wange loop terwyl sy huil – dit moet waarskynlik eerder “maskara” wees. Met ’n tong in die kies kan opgemerk word dat die skrywer dalk nie hier “katvoet” genoeg was “vir goed wat … (hy) …nie van meisies weet nie” (vgl sy woorde in gesprek met Holderstebolder hier).
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

