Die hoogmoedige son

  • 0

https://commons.wikimedia.org/wiki

oor die sleepvoet sementvloer dryf die son onopgemerk
soos ‘n tjoep in ‘n swembad
oor die ronde reisigertjie verskyn en verdwyn
siellose swart spookasemwolke
ek sit en wag vir Mercurius om verby te kom
en ek mis hom
of haar

oor die swartbord van die ruimte krap die son sy naels
skryf sy naam in kryt, in hoofletters, windgat
voor grootoogkinders
grootmeneer
klein skippies

oor die Kogelberge sink die son verkeerdom
soos ‘n stuurs suster
vier vingers bo die horison, dan byt die elwe
so wag ek in spanning my lewe verby

oor Bloedrivier
oor Soweto se kinders
oor die glas-pap-grafte
oor la-di-da ouetehuise
oor die mense van Afrika se crispy kaiings
en oor Groenewoudstraat no 3
(in ‘n sonkamer vol kort asems en lang snikke)
sak die son
soos hy elke dag maak
klein skippies

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top