Die hoekie vir aktiewe eensames en aandaghoere 

  • 8

Kyk, gym is nie iets wat ek baie doen nie. Die slag as ek meer as twee keer per week gym toe gaan, raak Virgin Active se direksie skoon bleek en bewerig van die opgewondendheid en stuur hulle vir my Kauai-koopbewyse per SMS. Sou ek meer as vyf keer per week gaan, wat weliswaar nog nooit gebeur het nie, reken ek dat ek ’n Commoda (of ’n soortgelyke Chinese trutskudder) gaan wen.

Maar, op die enkele geleenthede dat ek wel gym, terg ek myself dat ek wel oefen. Ek probeer darem die masjiene, wat ek dikwels nie verstaan nie, gebruik, tot op die punt dat het ek spierpyne, aambeie en sooibrand ervaar vir dae na die tyd. Oefen ek wel, probeer ek om stip voor my te kyk en nie die mooi Spandex-boudjies op te merk nie.

Ek is egter duidelik nie ’n millennial nie. Ek verstaan klaarblyklik die hele gymstorie heeltemal verkeerd. Dit lyk my dit gaan glad nie oor gewigte optel nie. Dit gaan hoegenaamd nie oor sweet, spiermassa of oefen nie.

Nee, dit gaan oor flankeer en hoereer. It’s not a gym, it’s a pickup joint en ’n plek om jou miljarde volgelinge op sosiale media jags te maak. Dit gaan oor jou TikTok-profiel, nie oor kardio nie. Virgin Dating is ’n Hoekie vir aktiewe eensames, nie ’n plek om te oefen nie. Want sien, die idee is skynbaar om op die masjien te sit en selfies te neem, sodat die selfoonkamera jou tieties uit die optimumhoek vang. Jy oefen nie; jy sit vir ure op die masjien, vasgenael op jou selfoon, om jou volgelinge te imponeer.

’n “Personal trainer” is eweneens nie iemand wat jou help om geweldige armspiere te bou nie. Nee, hy is iemand wat staan en afkyk op jou einste tieties terwyl jy op die masjien sit, terwyl hy probeer om jou op te chat. Maak jy wel of jy oefen, probeer hy intussen op ’n ander goose ’n indruk organiseer. As jy te arm is vir ’n “personal trainer”, bespreek jy kwantumfisika met jou vriendin langs jou, wat ook, soos jy, ’n ander masjien nodeloos beset. Nie een van julle oefen nie, julle sit en ginnegaap, met julle R1 000-Stanley-waterbottels.

Anderdag wag ek beleefd dat ’n aanvallige millennial klaarkry met haar 789 miljoen TikTok-volgelinge. Sy staan neffens die masjien en tik War and Peace op haar selfoon vir hulle. Die gym is vol en ek wil graag die masjien gebruik waar sy staan en ginnegaap het op haar foon . Die tydsduur voel langer as die ouderdom van die heelal, 13,8 miljard jaar. Nadat ek beleefd en sonder ’n woord staan en trippel het, want daar is nie ander oop masjiene nie, beweeg sy toe ná ’n ewigheid weg na ’n ander masjien toe. Ek maak toe die fout om haar voormalige masjien te begin gebruik. Sy is weliswaar slegs ’n tiekie en ’n baksteen hoog, ek ses-voet-vyf, maar sy storm nietemin op my af en begin my uitkak. Ek verstaan duidelik nie die protokol nie, aldus die millennial. Ek is, volgens haar, “rude”!

Soos ’n orige skoolseun wat deur ’n mooi juffrou afgeransel is, staan ek toe maar terug en laat haar begaan. Ek probeer nie eens uitwys dat sy logieserwys nie op twee masjiene gelyk kan oefen nie, of dat sy gestaan en kakpraat het op haar selfoon vir ’n ewigheid gelykstaande aan die tyd wat lig neem om van Andromeda af hier uit te kom nie.

Maar al wat sy dan doen, is om verder te gaan sit en tik op haar foontjie op die masjien wat ek op so ’n onbeskofte wyse probeer inneem het.

Anton B

  • 8

Kommentaar

  • Anton B, is die foto binne jou gimnasium geneem of is dit KI se voorstelling? Dullstroom, reg?

    Dit laat my teen en wil en dank terugdink aan die masturbeerder te Virgin Active Gym (Stellenboos), of was dit die Active Virgins Gym of All Nations? (2019)

    [https://youtu.be/cMQ2urtrVeQ?si=mGkbUYTfv2duNOcD]

    Aai, die arme outjie het sy lidmaatskap verloor. (Openbare masturbasie kan jou tol eis.)

    Die domkop-kletsbot is vandag aan diens (omdat ek nie betaal nie), en sê: ‘Die saak is later egter teruggetrek voordat dit in die hof aangegaan is; die gimnasium het gekies om nie die strafsaak te vervolg nie en eerder te sê daar is gereël dat hy sielkundige hulp ontvang.’

    Wel-wel, wat
    ook
    al

    Luister, dalk het jou gimnasium ‘n sielkundige nodig? Voor ‘n onding kop uitsteek. Vat byvoorbeeld ‘n lukrake woede-uitbarsting, iets soos padwoede by die trapmeul … dis geen trivialiteit nie, hei, voorkoming is beter as genesing.

    Ter wille van volledigheid; taamlik naby waar ek woon is ‘n bord teen ‘n gebou wat lees: KruisKrag (met ‘n kruis) Gimnasium. I kid you not. Ek verkies nietemin die naam bo: Maagd Aktiewe Gimnasium [MAG]. Hoewel Jesus uit ‘n maagd gebore is, sê hulle.

    Draai die ander wang. Sterkte. Onthou om te oefen.

  • Anton, eerstens, die millenniërs is al in hulle dertigs. Jy probeer seker verwys na Gen Z wat geassosieer word met TikTok. Tweedens sien almal nie die wêreld deur jou lens van “jagsheid”, “Spandex-boudjies” en “tieties” nie, en aangesien jy hier verwys na die generasie wat tans so tussen 14 en 25 is, is daai lens van jou eintlik kommerwekkend. Jy praat nog van ʼn “goose”, so ek verstaan dat jy sukkel om by te hou met die veranderende wêreld. Kan jy nie asseblief maar die liggame van vroue in die gym uit jou orige verbeelding hou nie? Hierdie millenniër vra mooi, asseblief oom, dis gross. Stop dit. Jammer dat die meisies jou so boelie in die gym, maar moenie alleen voel nie, ek is ook bang vir hulle.

  • Dus: Jy is jaloers op diegene met mooi boudjies en tieties, agv die impak van gravitasie op jou eie, en jy is nie in 'n verhouding met 'n man nie, want anders het jy besef dat 'n man wat beweer hy kyk nie, lieg. Just screams embittered woman of a certain age, doesn't it?

    Dankie ook vir jou lessie oor millenniërs, maar ek is volledig bewus van die ouderdomme vir daardie etiket. Laat ek jou reghelp, ounooi: Meeste persone jonger as 'n millenniër, gaan maar sukkel om 'n R1000-waterbottel te koop.

    Hoe dit ook al sy, hoop jy het vertroosting by jou trop katte gevind nav jou woke meltdown hier bo, ounooi.

  • @Henning, nee, dis nie my gym nie. Webvoet het seker die foto iewers afgelaai.

    Wat die gym eintlik nodig het, is gym-prefekte. Hulle moet daar tussen die masjiene rondbeweeg, en diegene wat sit of staan en ginnegaap, kwaai aankyk of vriendelik vra om te voertsek van die masjiene af.

    Eintlik het ons Virgin Active slim geraak en vir diegene wat ginnegaap, selfs 2 konferensiekamers gegee om te sit en tik op hulle selfone, maar dan kyk niemand vir die aandaghoere nie, dus is die konferensiekamers gewoonlik leeg.

  • Deplorable Covfefe

    Raakgevat. My moer word veral gekoer deur die kragape wat hulle handdoek op die een stuk toerusting sit, maar dan op heeltemal 'n ander een gaan oefen, as die plek vol is. Op my oudag is ek gelukkig kwaai dikvellig en sit ek maar net die handdoek op die grond neer. Kragaap se kind moet maar dan sy beurt afwag, al kan hy my maklik papslaan met net een hou.

    Ek sien ook uit na Offred, en sy moet haarself eintlik "Offended" noem uit hoofde van haar skril verontwaardiging, se verklaring oor waarom die uitrustings van dames in sulke plekke dikwels erg knap is, as dit nie oor aandagsoekery met die boudjies saam gaan nie.

    Daar is 'n satiriese meem op sosiale media van 'n vrou in die styfste oefenbroekie denkbaar, wat reg voor 'n kamera afbuk, droom-agterstewe in die kamera gedruk, terwyl die satiriese teks in die meem lui dat mans wat vir vrouens staar, sulke groot perverte is. Waarom dan nie net 'n los sweetpakbroek dra nie?

    Ek moet vinnig byvoeg, lafaard wat ek is, dat ek doodseker is dat Offended self 'n Sydney Sweeney-paar het, en dat haar argwaan gebore is uit die hordes hygende manne wat ongewens oor laasgenoemde paar kwyl.

  • Pieta van Deventer

    Wat ook al! Hel, dankie vir die genotvolste essaytjie wat ek in 'n lang tyd gelees het. Hierby wil ek die kommentators, of is dit kommentatore, ook bedank. Diegene wat so effe moerig klink...? Dalk 'n toontjie of wat raak getrap, of hoe? Anton B, jy mag maar weer 'n klippie in die skoen aanspreek. Ek is seker dat dit gaan net so lekker lees.

  • Ja nee - dis was lekker om 'n snapsie vermaak hier raak te loop. Die sweetband hoort mos net bokant die wenkbrou om die sweetjies uit die oë te hou. Nog nie 'n rugbyspeler gesien 'n sweetband bokant die haarlyn nie,. En waar is die dingetjie met die sweetband bokant die haarlyn dan nou? Sweerlik is daar ernstige beswaar namens die diep gekrenkte dingetjie ingedien oor die verbintenis met die gure.
    Vryheid van spraak is die domein van sekeres in die gemeenskap - sorry webvoet.

  • Gimmasiums is tjok en blok vol kieme. Grotes en mikroskopiese soorte kieme. Dis miljoen keer beter en veiliger om jou eie tuis gym te bou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top