Die hede vra 'n gebalanseerde uitkyk op die verlede

  • 0

Max du Preez het dit weer gedoen. Sy artikel in Die Burger[1], waarin hy Dan Roodt se anekdotiese statistiek dat 35 persent van alle Boerevroue in konsentrasiekampe gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog verkrag is, in twyfel trek, het ’n storm ontketen.

 

Max is meer as bevoeg om homself te verdedig en ek stem heelhartig saam met die meeste van die punte wat hy maak. Ek weet egter nie of die feit dat die Britte se afwesigheid van bedoeling om die Boerevroue te laat sterf in die konsentrasiekampe beteken dat hulle nie aandadig was in ’n volksmoord nie. Ek vermoed dat nie net hulle nalatigheid in die behandeling van Boerevroue nie, maar ook die veel erger behandeling van swart mense in die konsentrasiekampe, so grof was dat hulle in elk geval skuldig staan aan volksmoord. Die klag word veral meer pertinent as mens dit sien saam met hulle ander misdrywe deur die res van die Empire.

Dit beteken egter nie dat 35 persent van alle Boerevroue verkrag is nie. Die verkragting van Boerevroue in die kampe, hoewel ek seker is dat dit nie heeltemal afwesig is nie, kan ek eenvoudig nie sien hoe so ’n ernstige vergryp verswyg sou gebly het binne die opwelling van Afrikaner-nasionalisme in die dertigs en veertigs nie, gegee die stories van glas in die meel, soos Max tereg uitwys. Kan enige rasionele persoon hom indink dat die verkragting van vroue verswyg sou gewees het in wat ’n propagandistiese kragtoer sou wees? Geen rasionele persoon behoort Dan Roodt te vertrou oor sy weergawe van die gebeure van meer as een honderd jaar terug nie.

Kyk gerus hoe hy Max du Preez se woorde op laakbare wyse verdraai om sy standpunt te pas. Op sy webwerf raak hy die volgende kwyt[2]:

Of soos Du Preez dit self stel, dit was bietjie (my kursivering – JP) nalatig en ongevoelig van die Britte om 27 000 vroue en veral kinders te laat doodgaan.

Wat Max gesê het was:

Die Britse militêre owerhede ís egter skuldig aan groteske (weer eens my kursivering – JP) nalatigheid en ongevoeligheid.

Óf Roodt is oneerlik óf hy verstaan nie wat die woord groteske beteken nie.

Die interessante aspek van die jongste moddergooiery in Afrikaanse geledere is egter nie dat Roodt statistieke en feite verdraai om sy nuutste sensasionele storie te pas nie – dié weet ons al lankal. Wat interessant is, is dat Max du Preez se opmerkings (en ek kan nie sien hoe dit in enige rasionele inspeksie as anti-Afrikaner gesien kan word nie) een honderd jaar na die afloop van die oorlog soveel emosionele reaksie kan uitlok.

Dit is duidelik dat die oorlog nou nog ’n integrale deel van die Afrikaner-psige is. Dat die wonde van die Britse onreg nou nog gevoel word meer as ’n eeu na die onregpleging. Die Afrikaner is duidelik nog steeds nie reg vir ’n eerlike, oop gesprek oor die meriete van die mites en legendes wat uit die oorlog ontstaan het nie. Niemand wat deel was van die Anglo-Boereoorlog leef meer nie en mens kan vermoed dat slegs enkeles wat werklik enigsins ervarings kon gehad het van die Suid-Afrikaanse Oorlog, nog lewend was toe die ANC die bewind oorgeneem het in 1994.

Ironies genoeg is dit juis dié wat die luidste kla oor die Britse vergrype en wat Max du Preez ’n Boere-necklace wil gee, wat die grootste onsensitiwiteit aan die dag lê in gesprekke oor apartheid en die gevolge daarvan. Joseph Secreve, wat so onlangs as ses maande terug nog tot groot vermaak van my vriende probeer vasstel het of ek ’n Maoïs of Trotskis (sic) is omdat ek die ANC as nie net boosaardig wou sien nie, raak nou die volgende kwyt oor armblankes:

Baie arm blankes wat woon in wyke soos Jan Hofmeyer, Newclare, Pretoria-Wes en Vereeniging (waar Afrikaans nog die voertaal is), het in baie gevalle hul armoede nog direk te danke aan die gevolge van die ABO en die “Dutch speakers need not apply”-diskriminasiemaatreëls wat teen hulle en hul voorouers in die stede gegeld het.[3]

Dit uit dieselfde kamp wat tot nou die effek van apartheid en kolonialisme op die stand van swart mense ontken.

Hier is die interessantheid: die hoofstroom-Afrikanerdenke is vasgevang in ’n skynheiligheid wat ek toenemend vermoed daar geen medisyne voor is nie – die tipe denke wat John Steinbeck so uitstekend gedissekteer het in sy boek America and Americans. Steinbeck skryf dat wit mense in Amerika nog altyd van swart mense verwag het om beter as hulle op te tree. Om die onregte wat teen hulle gepleeg word, met goeie maniere te hanteer en nie opstandig te raak oor hulle minderwaardige skole nie. Om nie met geweld te reageer as swart mense deur die Ku Klux Klan aangerand en vermoor word nie. Steinbeck het geskryf oor wit Amerikaners in die sestigs, maar sy woorde kan net sowel geld vir wit denke in Suid-Afrika vandag.

Dié tipe denke vergestalt hom in verskeie vorme. Dit is nie net moontlik nie, dit is betreurenswaardig, dat daar arm Afrikaners is wat agterweë gelaat is deur geskiedkundige onreg. Tog word nie net die onreg van apartheid en kolonialisme deur hierdie regse faksie ontken nie, die effek daarvan word ook openlik toegeskryf aan hulle ras. Arm Afrikaners is die resultaat van geskiedkundige onreg. Arm swart en bruin mense is die noodsaaklike gevolg van hul velkleur. Enige teenstand teen die Nasionaal-Sosialistiese denke word begroet met die wit ekwivalent van Thabo Mbeki se rassismekreet. Dat dié wat ook geskiedkundige redes sien in die posisie van swart mense vandag naïef is en hulle oë gesluit hou vir die werklikheid. Of dat dié wat enigsins iets positiefs in die land sien, meelopers van die regering is.

Kolonialisme was ’n onding waar dit Afrikaners negatief geraak het en waarvan die effek vandag nog gevoel kan word, maar enige opinie dat swart mense vandag, slegs dertien jaar na die einde van apartheid, steeds benadeel is, word summier van die tafel gevee deur óf Afrikaner regstellende aksie ná die NP se bewindsoorname in 1948 te ontken óf te probeer voorgee dat apartheid in wese goed was vir swart mense. Hulle verwag dat swart mense moet dankbaar wees vir die substandaardskole wat, in Verwoerd se eie woorde, hulle moes voorberei op knegskap vir wit mense. Steinbeck het dit so goed verstaan.

Die onderliggende probleem is dat die hoofstroom-Afrikanerdenke in wese dualisties van aard is. Swart en Wit, Goed en Sleg, met geen nuanse en grys areas toegelaat nie. Óf jy is in geheel teen die regering óf jy is vir hulle. Spreek ’n opinie uit wat die regering prys vir sy besluit om 4x4’s van die strande te jaag en in die hoofstroomdenke word jy onmiddellik as ondersteuner van hulle Vigs-beleid getipeer. Hierdie denke is ook nie uniek aan Suid-Afrika nie. George W Bush se gunsteling-uitsprake van: “Jy is óf met ons óf teen ons” is nou reeds oorbekend. Die keuse tussen twee vals positiewes. Dis ook ’n oorbekende verkoopstegniek.

Ek glo vas – en hier sluit ek aan by ’n artikel oor Afrikanerdenke so twee jaar terug – dat hierdie denke in wese die ondergang van, kom ons noem dit meer ernstige publikasies is. Die dood van Insig is geen verrassing nie. Die tydskrif is al meer as twee jaar lank in die waakeenheid. Daar kan baie faktore wees wat ook meegehelp het, maar die onvermoë van Afrikaner-hoofstroomdenke om enigiets meer as dualistiese denke te hanteer is die grondliggende rede. Kyk gerus hoe skryf Anton Barnard oor hoe die tydskrif moet lyk wat Insig vervang:

Insig se welverdiende afsterwe is egter goeie nuus. Dit skep myns insiens ’n leemte in die mark vir ’n Afrorealistiese alternatief, ’n publikasie wat verstaan dat sy teikengehoor eerder “De La Rey” as “Nkosi” wil sing, maar nog steeds nie gemorskos soos Huisgenoot wil verteer nie. Sou dit nie fantasties wees as só ’n publikasie nie aan dieselfde Naspers-ideologie as Insig moes gehoorsaam wees nie?[4]

Geen sprake van ’n meer gebalanseerde publikasie nie. Nee, die nuwe publikasie moet weet dat Afrikaners nou "De la Rey" sing. Nie ’n publikasie wat aanvaar dat daar ook Afrikaners is wat nie "De La Rey" sing nie, een wat die anderkant van die dualistiese gaping dien. Die Afrorealistiese alternatief. Die Afrorealistiese alternatief wat swart mense as inherent minderwaardig afmaak. Afrorealisme gevoed, so vermoed hulle, uit hulle Eurosentriese lewensbeskouing, behalwe natuurlik dat Europa vandag gewalg word deur dié tipe denke. Dan Roodt se geliefde Franse het weer eens by die stembus hulle walging in die tipe van denke deur Le Pen uitgespreek.

Insig sou dalk interessant kon skryf oor die pas afgelope Krieketwêreldbeker. Hulle sou kon wonder hoe dit is dat die regering se “inmenging” verantwoordelik is vir die nederlaag teen Australië, maar nie die oorwinning teen Engeland en daardie hanskakie Pietersen nie. Hulle sou kon wonder hoe dit is dat geen van die spanne – selfs dié met geen kwotabeleid nie – die mas teen Australië kon opkom nie. Hulle sou kon wonder hoe die toernooigunstelinge Nieu-Seeland nog minder lopies as Suid-Afrika teen Australië aangeteken het of hoekom Sambit Bal, redaksielid van cricinfo.com, gesê het dat Suid-Afrika en Sri Lanka die enigste spanne was wat enigsins weerstand gebied het teen die Australiaanse aanslag.

In stede daarvan is al wat ons kry, eenoogige vingerwysery sonder nuanse. Afrikaans vandag duld geen subtiliteit nie.

[2] http://www.praag.org/mambo/index.php?option=com_content
&task=view&id=410&Itemid=37
(toegang verkry 1 Mei 2007, skermgryp beskikbaar op aanvraag)

[4] Die dissonansie tussen Insig en die Afrikaners (toegang verkry op 1 Mei 2007)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top