Die hart op die tong

  • 3

Die week in woorde

Die naweek oor tee en ’n rice crispies koekie (vir my) en koffie en koerant (vir hom) vertel Loftus Marais vir my van ’n boekie wat hy in ’n tweedehandse winkel raakgeloop het. Die korrekte woorde deur HJJM van der Merwe is blykbaar nie ’n woordeboek nie en "... daarom sal u nie alle Afrikaanse woorde hierin vind nie. Sommige woorde en uitdrukkings wat probleme veroorsaak is hier opgeneem."

Watter woorde sou dit wees wat probleme veroorsaak? Hier in die omgewing van Valentynsdag is hart die voor die hand liggende antwoord. Buiten hartaanvalle en hartseer, dwaasheid en algemene chaos is daar ook die bykomende kwessie van waar om die hart te dra. Volgens Van der Merwe is dit glad nie so eenvoudig soos die algemeen-aanvaarde mou nie.

hartJou hart op iets sit: iets begeer – volkome korrek. Jy kan egter nie jou hart op die mou dra, soos in Engels nie – in Afrikaans dra ons die hart op die tong. (Kyk ook mou.)

Die digkuns wil hom reg bewys.

By nadere studie is dit duidelik dat die Engelse nie van altyd af hul harte op die mou gedra het nie. Lees en leer:

Beshrew that heart that makes my heart to groan
For that deep wound it gives my friend and me;
Is't not enough to torture me alone,
But slave to slavery my sweet'st friend must be?

Shakespeare se hart kon, as mens so na die sonnette kyk, nêrens anders as op sy Elizabethaanse kraag gesit het nie. Styf en stewig, maar kompleet met frille.

Vandag sit die Engelse harte wel op hul moue: die moue van hul sokkerspanne se truie. Dink byvoorbeeld aan hul huidige poet laureate se gedig "Achilles" vir sokkerheld David Beckham, of Phillip Larkin se voetbalgedig "Träumerei".

Die Pole se harte sit ook op hul moue, maar wel op ’n meer subtiele wyse. Iets soos hartvormige knope wat die moue mooi toehou, funksionele objekte wat nie net daar sit om te versier nie. Ek dink aan Szymborska, "There is much I owe/ to those I do not love", wat so netjies oor die vreemde weë van die hart skryf deur juis nie daaroor te skryf nie.

Amerikaanse harte hang dikwels aan die wasgoedlyn: dink maar aan Plath en Sexton of meer onlangs dalk aan Billy Collins, wat sommer vir ons Emily Dickinson se klere aan die wasgoeddraad ophang.

Kanadese dra hul harte soos spiese in hul hande, as Elizabeth Bachinsky te glo is: "And now all the neighbourhood students are drinking/ expensive-ish beer on their balconies thinking of the javelin/ toss love can be (at any age, but especially) when you're/ young and wearing carefully purchased footwear and/ accessories." (Of sit die hart juis in die versigtig-uitgesoekte skoene en bybehore?)

Uit Uys Krige se vertalings van die Spanjaarde lei ek af dat hulle hul harte op die oor dra – Luis Cernudaskryf in "As die mens sou kon sê wat hy liefhet":

Vryheid ken ek nie, behalwe die vryheid
om in iemand vasgeval te wees, iemand
wie se naam ek nie sonder ’n siddering kan hoor nie.

En so kan mens aangaan. Afhangende van wat jy lees, sou mens kon beweer dat Midde-Oosterse harte op stywe stoeipakkies aangebring word of aan ’n toutjie vasgemaak word en soos ’n heliumballon bo die kop sweef, en dat Russiese harte op die wange gedra word, en op ’n druppel na soos sneeuvlokke of trane lyk.

Maar in Afrikaans dra ons die hart op die tong: ons stuur met ons tonge ons harte die lug in soos rooiborsduiwe, ons breek spieëls met ons tonge tussen onse en homme, ons vaar met ons tonge oor riviere (die diepste woorde wat ons ken, om by haar uit te kom) en ons tower met ons tonge berggansvere op om ons boodskappe oor te dra (indien dit teen dié tyd nog nie duidelik is nie).

Ons tonge is waaghalsig en wulps en staan terug vir niks. Ek vier vandag ons Afrikaanse tonge en moedig almal aan om hul tonge te laat klap. Ek lê jul elkeen ’n hartvormige sjokolade op die punt van die tong, een wat onmiddellik sal smelt en soetjies afglip tot in die maag, waar dit (hopelik) vir ons almal minder probleme sal veroorsaak.

Hartlike groete tot volgende keer.

 

Met ander (se) woorde

Maak seker jy vergewis jou van etlike probleme wat die woord hart kan veroorsaak:

hartJou hart op iets sit: iets begeer – volkome korrek. Jy kan egter nie jou hart op die mou dra, soos in Engels nie – in Afrikaans dra ons die hart op die tong. (Kyk ook mou.) Iets ter harte neem – volkome korrek in die betekenis: jou daaraan steur (ook so in Ndl), en as jy dit jou aantrek, is dit ook nog goeie Afrikaans, want dit staan nie onder invloed van Eng to take something to heart, soos soms beweer word nie.
(HJJM van der Merwe, Die korrekte woord)

 

Voorgeskrewe leesstof

154 harte op Elizabethaanse krae

11 harte op die moue van die sokkertruie

Een Poolse hartknoop om die mou toe te hou

Een gedig wat heelwat harte aan die wasgoedlyn hang

’n Boek met ’n donker hart wat soos ’n spies in die hand gehou kan word



Poësie in die nuus

Die US Woordfees, wat vroeg volgende maand op Stellenbosch plaasvind, het ‘n klomp lekker goed op die program vir mense wat ekstra-baie van poësie hou.

Neethlingshof Slenterfees
In samewerking met kykNET en BOS Ice Tea
’n Interaktiewe vars kunstefees-in-die-kleine met iets vir almal ­– fynproewers, wynliefhebbers, buitemense en gesinne. Na verlede jaar se sukses doen ons vanjaar die groen ding en fokus op biodiversiteit, met ? ander formaat: slenterfeesgangers kuier op hul eie tyd en loer in by enige of alles van die volgende – en by nog ? paar verrassings:
-     braaipraatjies met Jan Braai – en dalk maak Jack Parow en sy braaisous ook ? draai 
-     voëlkyksessie saam met Groen-aanbieder Dave Pepler 
-     voorlesing van groen gedigte deur Bibi Slippers, LitNet se poësieredakteur 
-     die gewilde trekkerrit met trekklavierklanke 
-     groepsuitstalling van die Botaniese Kunsvereniging van Suid-Afrika 
-     wynproe, met groen geregte 
-     kinderspeletjies met Bazoo die bergskilpad 
-    skemerkonsert met Romanz & Die Gugulethu Tenore* 
*Die Slenterfees sluit ’n wynproe en peuselhappies in, asook toegang na die skemerkonsert met Romanz en die Gugulethu Tenore. Sien kykNET Piekniekkonserte se program onder vir meer besonderhede.
4 Maart 12:00 | Neethlingshof | 300min | R160 (kinders O/12 Gratis)

Pirouette

In Aniel Botha se debuutdigbundel Pirouette word balletterminologie en die hospitaal-milieu van eetversteurings saamgebind in ’n helder besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling. Joan Hambidge gesels met die digter oor dié bundel waarmee ’n bevrydende sprong na heling gegee word.
7 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Joan Hambidge: Lot se vrou
Uitgewer Etienne Bloemhof gesels met Joan Hambidge, een van die bekendste literêre figure in Afrikaans. Lot se vrou is ? bundel ‘woordverse’ waarin die idee nie ondergeskik gestel word aan die woord nie. Selde nog het Hambidge die ‘gevaarlike woord’ so onverskrokke gehanteer soos in hierdie bundel, wat beskou word as van haar rykste werk tot op hede.
7 Maart 16:00 | Boektent | 50min | Gratis

Inheems met Antjie Krog
'n Hoogtepunt op ons skrywersprogram! Die internasionaal-bekende Antjie Krog laat Afrikaanse tekste klink saam met inheemse sustertale: Kwedam, Xhosa en Sesotho. Voordragkunstenaars word gekomplementeer deur die klanke van inheemse instrumente. 
7 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R60

Mongane Wally Serote
Presented by the US Discussion Forum for the Humanities and Social Sciences
Multi-award winning poet, novelist and essayist Mongane Wally Serote in conversation with Leon de Kock on a lifetime in the world of literature. Serote reflects on his life journey that stretches from the Black Consciousness Movement, his student days at Columbia University and his days as an Umkontho we Sizwe cadre in Botswana. Meet this living treasure with the deep voice and huge heart. 
7 March 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Nuwe stemme 5
Die inskrywings vir Nuwe stemme 5 sluit binnekort. Kom luister na digters wat in dié bekende Tafelberg-reeks gedebuteer het, soos Melt Myburgh, Fourie Botha, Danie Marais, Toast Coetzer en Bibi Slippers. Heilna du Plooy en Loftus Marais, die samestellers van die nuwe bloemlesing, gesels ook oor die opwindende projek wat voorlê.
7 Maart 18:00 | Boektent | 50min | Gratis

Om die droogte groen te skryf
Aangebied deur Protea Boekhuis
Met Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Elias P. Nel, Melt Myburgh en Lené Malan
Die noordweste van ons land is ’n ongenaakbare, droë wêreld, maar dit lewer van Afrikaans se mooiste skryfwerk op. Hoekom? Daniel Hugo, self ’n samesteller van ’n digbundel oor die dorre Namibië, gesels hieroor met ’n paneel skrywers wat goed vertroud is met die konsep “droogte”.
8 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Ons is nuut hier!
Ronelda Kamfer en Margot Luyt stel vars nuwe talent voor wat hulle besig hou met 'n ou kunsvorm: die digkuns. Kom kyk watter groot groen eikebome groei uit klein akkertjies. Opkomende jong stemme soos Pieter Odendaal, Nathan Trantraal, Liesl Kruger en Hendrik van Niekerk demonstreer hoe hulle nuwe groeikrag aan die poësie gee. 'n Onvergeetlike ervaring!
8 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Die groen in die gedig
Wat is ekokritiek? Hoe lyk ’n ekogedig? Wat het Darwin en DNA hiermee te doen? En hoe lyk ’n wurmtegniek? Digter en akademikus Susan Smith gesels oor die groen in die gedig aan die hand van enkele Afrikaanse en internasionale verse en ruim sommer ’n paar wanpersepsies uit die weg. ’n Móét vir alle poësie-aanhangers.
9 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Ons geliefde digters
Ondersteun deur Leserskring; in samewerking met RSG en By 
Leserskring stel vyf van Afrikaans se gewildste digters voor by die Woordfees: Danie Marais, Ronelda Kamfer, Daniel Hugo, Diana Ferrus en Joan Hambidge. Dié woordkunstenaars lees verse voor wat bewys waarom hulle so bemind geraak het by die Suid-Afrikaanse publiek. As spesiale toegif sluit Leonard Nolens, die grootste lewende Vlaamse digter, by hulle aan.
10 Maart | 11:00 | Boektent | 80min | R50

En soe kap ôs an!
Ietsie ouds, ietsie nuuts en ietsie tussenin! 'n Aantal opkomende digters: Joanne Bate en die kletsrym-sensasie Kaapse Woordenaar kappit an saam met gevestigde woordkunstenaars Monty Isaacs en Willem Fransman Jnr. Maak jou reg vir 'n hutspot van humoristiese Kaapse en Xhosa-verse, asook 'n goeie konkoksie kletsrym.
10 Maart 12:00 | Sasol Kunsmuseum | 50min | Gratis

Oop mikrofoon
Valiant Swart is die gasheer vir opkomende, ongepubliseerde skrywers wat hul stemme wil laat hoor by die Woordfees. Elke deelnemer kry vyf minute om sy of haar staal te wys. Om deel te neem: stuur voor 1 Maart 2012 'n e-pos aan Melt Myburgh by woord@sun.ac.za. Wie weet, miskien is daar 'n uitgewer op die uitkyk vir groen koring op die land.
10 Maart 15:00 | Erfurthuis | 90min | Gratis

Op my bedkassie

Ek moet tydens die Woordfees ’n klomp “groen” gedigte voorlees en is deesdae permanent op jag na dié skugter spesie.

Ek het tot dusver agt groen post-it notes in my Groot Verseboek (my gunsteling sover by "Die laaisel van die sonbesie" deur George Weideman, ’n oulike velsie waalin die splekel nie ’n "r" kan sê nie - dit kom iedel maal as "l" uit.) Ook oulike voëlgedigte (seker groen genoeg; hulle sit immers in bome?) in die sterre sê 'tsau' (Antjie Krog) raakgeloop, en ek werk op die oomblik deur groenstaar (Marlene van Niekerk, wat op grond van die titel kwalifiseer as ‘n "groen" bundel) en Diorama (Johann Lodewyk Marais) waarin al wat fauna en flora is, opgedig word.

As iemand weet van ander groen gedigte wat die aandag van my (bruin) oë verdien, laat weet tog. Ek wil asseblief nie ’n groot groen gees uitlaat nie.

Ek het ook die naweek René Bohnen se nuwe bundel, in die niks al om, onder oë gehad, en baie lekker daaraan gelees. Ek sal binnekort in meer besonderhede rapporteer, aan die hand van ’n onderhoud met René. 

 

Wen

Daar is reeds ’n handvol inskrywings vir die poësie-kompetisie wat tans op LitNet aan die gang is. Klik hier vir die kompetisie-besonderhede. Klik hier om die inskrywings te lees.

Gedigte op LitNet

Volg hierdie skakel vir die nuwe gedigte wat vandeesweek op LitNet gepubliseer is.

 

  • 3

Kommentaar

  • De Waal Venter

    Hallo Bibi.

    Ek neem aan jy ken die bundel "Groen" saamgestel deur Johann Lodewyk Marais? Ek het self 'n gedig daarin met die titel "Bobbejaan klim die berg".

    "Groen" HAUM-Literêr. Eerste uitgawe, eerste druk 90/3
    ISBN 0 7986 3043 4

    Groetnis

    De Waal Venter

  • Bibi Slippers

    Beste De Waal

     
    Dankie vir die laat weet! 
     
    Ek weet van die bundel, en ook sy half-suster "Ons klein silwerige planeet," maar dis helaas op die oomblik voorgeskrewe werk vir die Afrikaans/Nederlands-studente by die universiteit waar ek my M-graad doen, so beide is slegs op die kort-leen rak.  Ek sal maar 'n uur daar moet gaan sit om jou bobbejaan agter die berg te gaan haal 🙂
     
    Mooi loop.
    Bibi
  • De Waal Venter

    Hallo Bibi

    Van harte gepraat: om ons almal se geheues te verfris – die oorsprong van die uitdrukking "’n riem onder die hart".

    In die Middeleeue het die mense geglo dat jou dapperheid in jou hart sit. En as jy bang word, sak jou hart af. "My hart het tot in my skoene gesak." Die woord "riem" het in daardie tyd "band" of "gordel" beteken. (Ons het dit hier in Suid-Afrika die betekenis gegee van 'n stuk beesvel waarmee jy goed vasbind).

    Toe kry die Middeleeuse soldate 'n plan. Hulle bind daardie gordel styf net so onder hulle hart sodat dit nie kan afsak nie. Dan bly hulle dapper. Maklik 🙂 Dis vir my 'n riem onder die hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top