Die hand

  • 0

Die gorilla se hand het só vinnig en onverwags tussen die tralies deurgeglip om my selfoon te gryp dat ek nou nog nie kan verduidelik waar my refleks vandaan gekom het nie. Ek het ook nie eers die fokus van sy donker oë betyds gepeil om sy intensie te kon antisipeer nie. Dit was tydens my derde besoek aan die gorilla se slaapvertrek, met net die dik ystertralies tussen hom en my, dat ek hom wou afneem. Dit was sy gebied hierdie, alhoewel so kunsmatig, en so ver verwyder van die tropiese reënwoud in Ekwatoriaal-Guinee waar hy gou-gou saans volgens praktyk ’n tak-en-lowerbed op die grond sou saamslaan as hy ongestoord sy lewe in sy tuisgebied kon lei. Nou was daar ergernis jeens my in sy oë se stip kyk onder die ernstige frons.

As ek ’n gorilla sien – en ek sien nie baie nie, ek sien eintlik net een, naamlik hierdie mannetjie (ek voel genoop om eerder man te sê as die onvanpaste en belaglike mannetjie) in Johannesburg se munisipale dieretuin – dan dink ek per assosiasie ook aan twee mense: eerstens aan Dian Fossey, die primatoloog wat 18 jaar lank die grootste mensaap daar in Rwanda bestudeer het voordat sy aan die einde van 1985 in die nag in haar sinkhut hoog teen die berg vermoor is. (Een ongenadige kaphou met ’n panga skuins oor haar gesig.) Dit was sy wat op ’n keer gesê het: “Hoe meer jy oor die waardigheid van die gorilla agterkom, hoe meer wil jy mense vermy.” (Gegee die feit dat sy as kind liederlik deur haar pa in die steek gelaat is, kan mens haar argument dalk verstaan.)

Dan, tweedens, dink ek ook aan wyle Tsietsi Mashinini van Soweto. Hy was die briljante leier van die townshipskoliere in die 1976-skoleprotes. Hy moes vir sy lewe vlug, synde “the most wanted man in the country”, met ’n prys van R500 op sy kop. Via die Ivoorkus, Nigerië en Liberië het hy in Ekwatoriaal-Guinee aangekom. En by sy eerste aandete in daardie land as eregas aan huis van ’n weldoener het sy gasheer ’n skottel aan tafel laat bring wat spesiaal voorberei is vir die jong aktivis.

Eers ’n paar skeppe groente, en toe die gebakte hand van ’n gorilla (die linkerhand). Die anti-apartheid held, diep geskok oor wat hy as nog ’n vergryp beskou het, het om verskoning gevra en daardie aand niks geëet nie. In 1990 is hy dood nadat hy deur onbekende aanvallers vermink is. Verskriklik harde houe het hom teen sy kop getref.

Ek het iets vir die gorilla gesê en ’n foto van hom geneem waar hy reg by die tralies sit en my op en af bekyk het. Wat sien iemand wat my indringend deeglik met die oë ondersoek? Hy het die kameraflits geïgnoreer. Sy een hand (die regterhand) het die twee-en-’n-half sentimeter dik staaf van die traliewerk vasgevat. Die vorige dag, met my tweede besoek, het hy die strooi op die sementvloer met sy hande weggeveeg en vinnig ’n reeks staccato krete gemaak en toe met sy bakhande op sy bors tamboer geslaan, anders as tydens my eerste besoek saam met die opsiener wat daagliks kos vir hom bring. Toe het hy net in die groente en vrugte belanggestel.

Ek het na sy dik vingers gekyk wat aan die ystertraliewerk vashou, en stadig my hand nader aan syne beweeg totdat my kneukels aan die antrasietswart hand geraak het. Nie ’n koue hand nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top