Soos vooraf bespreek, kry die hotel se kombi my op die lughawe in Kayseri. Dit is reeds na elf in die aand en die afstand na Ürküp is veel verder as wat ek verwag het. In die kombi versteur ’n groep lawaaierige jong Pakistani’s - studente dalk - die monotone gedreun van die enjin. ’n Middeljarige vrou in ’n burka kyk kort-kort met duidelike misnoeë na die groepie. Ekself is geïrriteerd, veral deur die meisie sonder die hijab. Ek maak my styfgestopte rugsak regop op my skoot staan, leun met gevoude arms daarop en staar by die venster uit. In die maanlig herken ek die pad.
Tussen klipperige koppe staan vetplantagtige, taklose bome in verspreide groepies.
“Pa, watse snaakse bome is dit?” het ek gevra toe ons jare gelede die eerste keer hierdie pad gery het.
“Dis die halfmens-boom,” het Pa geantwoord.
“Lyk my hulle soek ‘n lift,” het Boeta gelag. “Stop Pa, dan laai ons hulle op.” Hy het omgedraai in sy sitplek en bo-oor die rugleuning teruggekyk. “Hulle kyk ons agterna, Pa. Shame…”
Ek soek tevergeefs na ’n bordjie om te sien hoe ver ons nog moet ry. Die Pakistanse meisie irriteer die shit uit my uit. Ek kyk op my horlosie. 12:10 pm.
Sestig kilometer noord van Prieska, op die Marydale-pad, het ons afgedraai na Koegas en ná kilometer of twee weer regs in ’n kronkelpad. Springputs het die uithangbord gelees. Ná ’n jaar waarin ons elke koshuis-uitnaweek die 265 kilometer tussen die skool en die plaas moes ry, het Boeta van skool verander. Ek, wat altyd moeilik in nuwe omstandighede aangepas het, het my skoolloopbaan in my ou skool voortgesit en vir jare nog die pad gery.
Dit is ná middernag toe ons by die Cave Hotel aankom. Soos dikwels die geval, is die hotel veel minder indrukwekkend as op die webwerf-foto’s. Tog vervul die vaal klipmure my met ‘n onverwagse nostalgie.
“Sedert ek julle laas gesien het, het ek klaviereksamen gespeel. En my kamermaats het my in die koshuis se gang leer two-step. En ons klas het Sound of Music in Bloemfontein gaan kyk. En …”
Dis eers toe ek universiteit toe is, dat daar ’n behoedsaamheid tussen my en die bome kom lê het; ’n bejammering in hulle agterna-kyk wat ek liewer wou ignoreer.
“Sal jy ooit regtig die aand in die orrel-oefenkamer agter jou kan sit,” het hulle in die verbyry gefluister. “Dit sal beter raak as jy vertel…”
Maar anderkant die klipkoppies het Springputs se velde gelê en ek wou vergeet, wou net nóg ’n naweek onbesorgde plááskind wees.
“Hot chocolat,” vra die oorvriendelike Turk, terwyl hy my tas na my kamer dra.
“No thank you.” Die reis was lank en uitputtend.
Ek wóú vertel, die las van alleen dra van my afgooi, maar voordat ek kon, het ons die Prieska-pad vir oulaas gery. Jare later het ek en Ma vir vriende op Grootdrink gaan kuier, maar ons het Griekwastad om gery. Vooraf so beplan. Vir ons het die pad terug Prieska toe net té ver geword. Ek het blý verlang.
Die nag is snerpend; die volgende oggend wit. Buite by die kombi sien ek het die Pakistanse meisie ’n hijab twee keer om haar kop gedraai. ’n Kort entjie buite die dorpie herken ek hulle. Daar, in die Göreme-vallei staan hulle – jarig.
“Ek het vertel… Ek wou net kom sê.”
In alle rigtings het hulle gekyk, peinsend, maar tevrede, oor die Noordste Karoo. Laatmiddag het duiwe vir oulaas oor die vallei gefladder - en naby Prieska het dwergvalkies in versamelneste gaan rus.