
Foto: Canva
Die grootste skrik
Uit die bloute
het hy na jare
'n briefie vir my gestuur
waarin hy pleit
ek moet kom kyk
hoeveel pyn hy verduur
Toe ek daardie middag
voor sy siekbed staan
het hy begin huil
soos ek nooit kon raai
hy eendag sou huil
Ek het 'n knop in my keel gekry
Deur al die trane
het hy verskoning gevra
omdat hy nooit daar was
vir my as 'n pa
omdat hy lank terug
in my babadae
sy rug gedraai het
op my en my ma
Ek het aandagtig geluister
hoe hy sy hart uitstort
In 'n stadium het ek
so kwaad geword
dat ek op die punt was
om met hom te baklei
maar iets het my gehelp
om net kalm te bly
en geduldig te wag
tot ek 'n spreekbeurt kry
Maar toe – ewe skielik –
hou hy op met snik
en nes in 'n droom
gee sy liggaam een ruk
Nog nooit in my lewe
het ek so groot geskrik.

