Toe hulle geroep word om te kom aansit
het die tiranne hulle nadergehaas
met hulle geleentheidsgesellinne,
dit was lieflik om die vrouens te sien verbykom
soos wespe met groot buuste
gevolg deur daardie bleek
en ongelukkige openbare tiers.
Die plaaswerker op die land
het sy powere broodrantsoen geëet,
hy was alleen en dit was laat,
hy was omring van koring,
maar hy het nie meer brood gehad nie,
hy het dit met stugge tande geëet
en dit met stroewe oë bekyk.
In die blou uur van die middagmaal,
die eindelose uur van die braaiboud,
laat los die digter sy lier,
neem sy mes, sy vurk op
en sit sy glas op die tafel,
en die vissermanne kom na
die klein see van die sopkom.
Aartappels wat aanbrand, protesteer
te midde van die tonge van olie.
Dis ’n goue skaaplam op die kole
en ’n ui word ontklee.
Dit is treurig om in formele drag te eet,
dis om in ’n doodskis te eet;
om egter in kloosters te eet
is om onder die grond te eet.
Om alleen te eet is baie bitter,
maar om nie te eet nie is so intens,
is leeg, is groen, het dorings,
hang soos ’n ketting van vishoeke
vasgehaak aan die hart,
en klou-klou aan jou binnekant.
Honger voel soos knypers,
soos die etery van krappe,
dit brand, brand sonder vuur.
Honger is ’n koue vuur.
Laat ons gou gaan aansit om te eet
saam met hulle almal wat nie geëet het nie,
kom ons gooi groot tafeldoeke oop,
sit sout in die mere van die wêreld,
met bakkerye vir die ganse planeet,
tafels met aarbeie in die sneeu,
en ’n bord soos die maan
waaruit almal kan eet.
Vir die huidige vra ek niks meer nie
as die geregtigheid van ’n maaltyd.
(Oorspronklike gedig deur Pablo Neruda, Estravagario, 1958. Vertaal deur Waldemar Gouws.)

