Die Groot Garibaldi

  • 2

’n Blondine en ’n dwergie staan vroegoggend op ’n stasieperron en wag vir die sirkustrein. Die blondine verjaag die tjokkertjie kort-kort as hy dit te naby aan haar waag. Hulle al twee wil met die sirkusbaas praat oor ’n moontlike werk in die sirkus. Hulle wag al van vieruur af, terwyl die klaar opgerigte sirkustent groot en wit neffens die rangeerwerf op ’n stuk vlakte staan. Die bontgeskilderde trein kom so teen vyfuur die oggend in, maar die sirkusbaas en sy personeel slaap nog. Hulle wag.

Met daglig peul sirkuspersoneel by die passasierswaens uit. Die sirkusbaas stap ook op die perron uit. Hy is herkenbaar aan die uniform wat hy elke sirkusdag dra: ’n rooi swaelstertbaadjie, met ’n wit broek en hemp en swart stewels. Die dwergie skarrel agter die blondine aan na hom toe.

“Meneer, meneer!” roep die blondine uit. “Net ’n oomblikkie van u tyd, asseblief!”

“A, mejuffrou, jy kom of jy gestuur is … Die naam is Herbert von Braun. Ek kan sommer sien dat u hier is om my in ’n moeilike situasie uit te help,” sê hy, voordat sy nog ’n woord verder gesê het. Sy kyk verras op na hom. “Jy kan sommer vanmôre begin …”

Die dwergie wurm sy lyf om die blondine en staan kordaat tussen haar en die sirkusbaas, meneer Von Braun. “Ek is ook hier om te help, meneer,” sê hy en kyk vol selfvertroue op in die sirkusbaas se oë.

Die sirkusbaas maak sy rug styf en bekyk die dwergie. Dan buk hy vorentoe en sê: “Ons het genoeg van jou soort, seun!” Hy kom weer orent en neem die blondine om die skouers. Terwyl hulle wegwandel, staan die dwergie met geboë hoof, waar hulle hom gelos het.

“Haai, jy!” hoor hy ’n stem roep. Hy kyk beskaamd rond en dan sien hy die kop van ‘ n ander tjokkertjie bokant die vensterraam van die passasierswa langs hom uitsteek. “Wag vir my,” sê die vreemdeling en die kop verdwyn uit die vensterraam. Oomblikke later klap die passasierswa se deur oop en hy klouter teen die trappe af, tot op die perron.

Die dwergie is verstom. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy ’n regte sirkusnar sien. Hy’t hope foto’s van narre versamel en na televisievertonings gekyk en sy drome daarrondom gebou. Nou staan hy reg voor een.

“Toe, toe, wat gaap jy my so aan, jy’s net so kostelik soos ek,” sê die ander dwergie en steek ’n hand uit:” Shortie,” sê hy.

“Is jy ’n nar?” vra die dwergie, want dis al wat hyop daardie oomblik wil weet.

“Naam …?” sê Shortie en ignoreer die vraag.

“Petrus Gerhardus van Biljon,” sê die dwergie. “Maar jy kan my sommer Peet noem.”

“En jy wil ’n nar word met so ’n naam?” vra Shortie en kyk hom deurvorsend aan. “Toemaar,” sê hy toe Peet bloos, en hy sit ’n hand op sy skouer. “Peet, ek het ’n joppie vir jou.”

Peet kyk hom skeef aan. “Die sirkusbaas sê nee ...” antwoord hy weifelend.

“Ag hy! Weet jy hoeveel vertonings het ek al agter die blad? Van toe sy pa, die reus, nog die sirkus oorgeneem het. Ja, die reus!” Shortie wieg op sy voete. “Luister, ek kan sien jy is ’n goeie ou, iemand wat die sirkus in sy bloed het. Moenie dat Johnny Walker jou afsit nie. Kom trein toe, vanaand so teen vyfuur.” Sonder meer draai hy om en hardloop na die groepie sirkusmense toe wat naby die lokomotief om die sirkusbaas vergader het.

Aan die einde van ’n lang dag, om vyfuur, stap Peet langs die trein af, wat nou op ’n syspoor gerangeer is. Hy is vol vertwyfeling en het die hele dag gewonder of hy Shortie ernstig moet opneem.

“Kom, klim in,” hoor hy egter skielik Shortie van ’n kajuitvenster af sê.

Peet klim met ’n paar armoptrekke by die passasierswa in. Shortie staan in die kajuitdeur en nooi hom binne. Hy’s byna onherkenbaar gegrimeer. Hy dra ’n wye rooi pofbroek en oranje hemp. ’n Hewige rooi pruik is oor sy kop getrek.

“Trek aan,” sê hy vir Peet en beduie na ’n skelbont kostuum wat op die onderste sitplek van die tweemankajuit lê.

Peet skrik. “Ek was nog nooit ’n nar nie!” protesteer hy.

“Jy’t nie verniet hiernatoe gekom nie; trek aan!” beveel Shortie.

’n Paar minute later is Peet uitgedos in ’n blou pofbroek, rooi hemp, oranje skoene en ’n wit Afropruik.   

“Sit!” beveel Shortie weer. Hy haal ’n leertassie uit en slaan die flap oop. Binne is vier botteltjies met rooi, blou, groen en swart rome. Hy neem ’n spons en doop dit eers in die rooi room vir die mond. Toe hy klaar is met die gesig, kyk Peet in die spieël. Hy kry ’n draaigevoel op sy maag. Die gedagte tref hom: hy is seker veronderstel om vanaand in die sirkus te gaan optree! Hy syg neer op die bank en slaan sy oë op.

“Ek verstaan nie – wat is ek veronderstel om te doen?” vra hy.

“Dit is maklik … as ek sê ‘Aksie!’ dan draf jy net in die arena uit, stop in die middel van die kalklig en begin om jou spiere te bult – jy weet, soos liggaamsbouers doen. Maar jy hou jou rug na my gekeer; jy sal sien wat gebeur dan,” sê Shortie. “Kom!”

Die sirkus is volgepak. Die dorpenaars aanskou ’n vertoning van Madam Fifi met haar poedeltjies. Shortie is saam met haar in die arena. Hy help hoepels uithou vir die hondjies om deur te spring en as Madam haar rug draai, trek hy gesigte agter haar rug en hardloop kamma vir die hondjies weg. Peet staan by die artieste se ingang en sy keel is droog. Hoe lank nog? wonder hy. Applous volg en dan trippel Madam en die hondjies verby hom en staan Shortie voor hom en roep: “Aksie!”

Peet staan op wankelrige bene in die middel van die arena. Die gehoor giggel afwagtend. Hy haal diep asem en dan doen hy die Tarzan-houding met volle biseps gespanne. Hy hou die pose vir ’n paar sekondes en dan verander hy na die volle vooraansig van laterale abdominale spiere en skouers met vuiste en duime agter sy heupe ingehaak. Die gehoor bars uit van die lag. Peet glimlag breed. Dit werk sowaar, dink hy. Die gehoor lag al harder. Maar die volgende oomblik tref iemand hom soos ’n donderslag van agter en hy val voorentoe op sy maag, terwyl die gehoor skater.

Tyd vir herstel is daar nie. Hy lê op sy maag en wonder wat aangaan, maar dan word hy aan een voet agteruit gesleep, sy kop dobberend. Dit kan nie waar wees nie – die skande! dink hy. In die sleepproses draai hy sy kop en kry ’n beeld van Shortie se rooi pruik wat in die kalklig gloei.

“Haai!” skree hy.

Shortie los sy voet en spring op sy rug. Die lug ontplof uit sy longe en deur sy bibberende lippe en hy krul ineen. Die man is mal. Dit was al die tyd ’n lokval van ’n psigopaat, flits dit deur sy brein. Hy trek sy bene in en staan hande-viervoet met Shortie op sy rug soos ’n cowboy. Hy’s winduit en verskrik. Met Shortie steeds op sy rug, kruip hy na die ring van die arena toe.

Die skare jil van die lag.

“Wat de hel doen jy?” vra hy hygend. “Los my!”

“Jy wil mos ’n nar wees; wel hier is jou kans,” sê Shortie.

Peet skraap al sy krag en moed bymekaar en beur orent, sodat Shortie op sy sitvlak agter hom beland. Hy strompel na die ring toe. By die ring trek Shortie hom ’n vuil streep: gryp hom om die keel en buig sy liggaam agteroor. Beide verloor hul balans en val.

Shortie maak die fout om terug te staan. Peet is woedend. Hy trek los en skop Shortie tussen die bene, sodat hy stadig op die grond neersyg. Dan val hy aan. Hy glip om die hurkende Shortie, kry hom om die nek beet en sleep hom terug na die middel van die arena toe. Hy volg snel op met grepe wat hy op WWW Raw gesien het. ’n Nelson, om Shortie se nek te buig. ’n Dubbele Nelson, om sy kop die grond in te boor. ’n Driekwart-Nelson, om hom te draai en op die grond neer te pen.

Die skare is nou op hul voete en moedig Peet, die underdog, aan. Die geraas is oorverdowend.

Beide is uitgeput van die tien minute se geworstel. Shortie is die eerste wat wegbreek. Hy kruip oor die arena na die ingang toe, gevolg deur die geboe van die skare.

Peet is nog veglustig en wil die geveg voortsit.

‘Los my uit en vat die applous,” sê Shortie uitasem, toe Peet ’n skop na sy agterstewe mik.

Die gehoor staan en klap hande en fluit. Peet se natuurlike instink neem oor en hy hardloop uitgelate na die skare toe en al met die sirkel langs in die rondte.

En op sy podium staan Herbert von Braun, bygenaamd Johnny Walker – sirkusbaas, seremoniemeester vir die aand en aartsopportunis. Hy het herstel van sy argwaan en verbasing en roggel bulderend oor die mikrofoon: “Dames en here, applous, applous vir die dapper, die Grrrooot Garibaldi!”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top