Die groene bewaringsding

  • 2

Die ander dag in die supermark stel ’n jong kassiere voor dat ’n ouerige dame haar eie inkopiesakke moet saambring. Want, het sy uitgebrei, die plastieksakke is volgens haar en baie ander slim mense glad nie goed vir die omgewing nie.

Die tante vra toe om verskoning, maar verduidelik tog; "Ons het nie hierdie groendinge doer in my jeug gehad nie."

Die kassier se reaksie was : "Ja, Dit is óns probleem vandag. Jou geslag het nie genoeg omgee om ons omgewing vir toekomstige geslagte te bewaar nie."

Sy was reg – ons geslag het nie die groending op sy dag raakgesien en aangespreek nie.

In die ou dae het ons omruilbare melkbottels, koeldrankbottels en bierbottels by die winkel gekry en die “empties” weer teruggeneem. Die winkel het hulle dan na die fabriek teruggestuur. Daar was dit gewas en gesteriliseer en hervul, sodat dit weer gebruik kon word – dieselfde bottels oor en oor. So hulle is reg, ons het nie herwin nie. Ons het met vulpenne en ink een pen jare lank laat skryf. Die koop van ’n nuwe pen na die leë weggegooi was, was nooit ’n opsie nie. Die skeermeslemmetjies in ’n skeermes is vervang, pleks van die hele skeermes weg te gooi.

Maar ons het nie erg aan die groending in die ou dae gehad nie.

Ons trappe het met beenkrag gewerk, want ons het nie ’n roltrap in elke winkelsentrum gehad nie. Eintlik was daar bitter min winkelsentrums. Baie van ons kon na die kruidenierswarewinkel toe stap, of die bus neem en ons enkele motor moes nie elke keer uit die garage gehaal word net omdat ons twee strate verder moes ry nie. Ek onthou nog Ma-hulle se mense het die tram of ’n bus stad toe gery of hospitaal toe gestap. Treinry was algemeen en geen skandehaan het daaroor gekraai nie.

Maar sy was reg. Ons het nie die groending in ons gedagtes gehad nie.

In daardie vergange dae het ons die baba se lapdoeke gewas, omdat daar nie die weggooi-soort bestaan het nie. En later jare met die koms daarvan, was dit net beskore vir dié wat dit wel kon bekostig. Dit was dan ook net ’n snaakse om te gebruik wanneer daar by iemand gaan kuier word. Ons klere het op ’n lyn in die agterplaas droog geword en nie in ’n energie-vreter masjien wat 220 volts moes brand nie – wind en sonkrag het ons klere gedroog. Ons kinders het baie keer familie-klere na mekaar van broers of susters of neefs ens. aangestuur, en nie altyd splinternuwe klere gaan koop nie.

Maar dat die jong dame reg is, is gewis. Ons het nie die groending in onse dae geken nie.

Terug in die sewentigs het ons ’n enkele TV of radio in die huis gehad- nie ’n TV in elke kamer. Die TV was ook net saans vir ’n ruk aan en nie die meeste van die dag nie. In die kombuis, het ons met die hand gemeng en geroer want ons het nie ’n elektriese masjien vir elke denkbare aksie gehad nie. Wanneer ons ’n brose item per pos wou aanstuur en moes verpak, het ons gesnipperde ou koerante gebruik, nie Styrofoam of “plastic bubble wrap” nie. Ons grassnyers het nie met Eskomkrag gewerk nie. Die grassnyer was ’n stoot grassnyer wat met spierkrag gewerk het. Later het ons wel die muskiet-enjins petrol gevoer om die gras netjies te hou, maar die rantesny was steeds ’n skaapskêr se werk. Ons het oefening deur handewerk, speel en sport gekry en ook deur met die fiets skooltoe en na maats toe te ry. Die moeders het nie ’n 24-uur taxi-diens bedryf nie. Eienaardig genoeg, was dit nooit nodig om na ’n gesondheids-klub toe te gaan sodat ons op elektriese loopbande en in sauna oonde kon sweet aftap nie.

Maar sy is reg. Ons het nie die groending bedink nie.

Ons het water uit ’n fontein of ’n kraan gedrink. Die mode- en smaakgier om ’n plastiekbottel drinkwater in te vlieg uit ’n ander land, was ondenkbaar. Ons het ook aanvaar dat baie kossoorte seisoenaal en selfs streekgebonde was en het nie verwag dat dit per vliegtuig duisende myle regoor die wêreld of in koeltrokke kruis en dwars oor SA rondgestuur moet word nie. Eintlik het ons aanvaar dat gekookte kos nie uit ’n pakkie, blik of kleefplastiek kom nie en ons kon selfs ons eie groente was en ons eie slaai kap. Die enkele Wimpy, Golden Egg of “steakhouse” was net besoek na ’n baie lang gewag. Met ’n verjaardag of so iets het ons by die hotel of “steakhouse” gaan aansit. Uit-die-huis-uit-eet was beperk tot ’n vakansierit of piekniek onder ’n doringboom oppad deur die Karoo.

Maar ons het nie die groending verstaan nie.

Ons het een elektriese punt in ’n kamer gehad, met ook nie ’n volle kragbank van propstukke om ’n magdom toestelle aan te koppel nie. En, ons het ook nie ’n gerekenariseerde “gadget” vir tuin natmaak en motorhuisdeure en hekke nodig gehad nie. Daar was nie seine om te ontvang en dan 2 000 myl verder terug te straal van en na satelliete én dit net om die naaste pizza plek te vind nie. Goeiste tot onlangs was ons nie seker wat pizza was nie; nou kies voorskoolse kleintjies al sushi vanaf ’n rolband vir ete.

Ons verkwistende ou mense kan maar net treur oor die groending wat ons van vergeet het en verder vertrou dat die huidige geslag se slimmighede groenigheid wel sal meebring.

Wie weet?

  • 2

Kommentaar

  • Aan die een kant lekker ou dae. Die jongklomp was buite bedrywig  met kattekwaad, vandag is hulle in selfopgelegde ballingskap voor die rekenaar vasgekluisenaar. Maar and die ander kant, is ek dankbaar vir die moderne geriewe en tegnologie, en verlang glad nie terug na die sukkel-tegnologie van die verlede nie, veral tussen Standerton en Volksrus met gestrande motor sonder enige selfoon. 

    Jaco Fourie

  • Beste Hennie

    Baie goeie brief!

    Vanaf die vroeë sestigs tot nou toe, het die mens verander van ’n gebruikerswese na ’n verbruikerswese en weggooiwese!Alles wat gebruik word, laat ’n ontsettende koolstofspoor en niks word ontsien om die menslike vraatsug en hebsug te versadig nie.Ongelukkig sus vandag se mense hulle gewetens met sulke klein goedjies soos inkopiesakke, maar in dieselfde asem word die omgewing omgedolwe, water besoedel,d iere mishandel (al die dinge waarvan ons reeds weet), alles in die naam van "ontwikkeling"!

    Dis ’n baie hartseer verhaal, maar die mens is besig om sy blyplek stelselmatig te vernietig. Ek sien dit ook as ’n siklus. Die mens se tyd op aarde is besig om uit te loop. Die natuur gaan weer terugneem wat aan hom behoort.

    Groete

    Perdebytjie 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top