
Foto: Canva
Die griewe van verdriet
Die dae ná jou vertrek sleep in ’n vaevuur verby.
’n Groepie treurendes sit op die Blaar se stoep.
Die kwik sidder digby 40 grade.
Oom X van die woonstelle is huis toe.
Die wat ligter rou, lug troetelgriewe oor verdriet.
Ek sê weet julle Breyten Breytenbach is ook huis toe.
Ta Mona sê, nee, sy ken nie die kêrel nie.
“Maar wee’ jy, ek hóú nie van bobotie en begrafnisrys nie.”
Driftiger met die oorleun. “Wat vréét die mense so?
“Laat hulle KFC toe. Wie piekel nog te voet oor berge, hû?”
Ek klap Blomskryf toe.
Vandag word hier nie voorgelees nie.
Die ooms praat rugby.
“Maak van my geen ophef nie, skink ’n knertsie
by ’n Bosveldvuur,” sê oom Paul,
die David Baldacci-krimi vergete op sy skoot.
Ta Sarie Lochner snuif delikaat, klad ’n pêrel sweet.
Dink na: “Dalk sal jou ma onthou, Celesté.
Die jaar toe Van Wyk Louw huis toe is,
was hier groot rugby in die land.”
Kommentaar
Goed geskryf, Celeste!
Dankie vir 'n fyn-bedinkte gedig!
Nog!!!!!!!
Mooiste poësie. Geniet dit elke keer.
Sien altyd uit na meer. Jy skryf regtig so, so goed.
Sjoe, dit praat weereens met my want dis my wêreld ook...
Dankie, LitNet, vir die plasing. Ena, Petrovna, Barbara, Toeks en An, ek waardeer die lees en die terugvoer. Aanmoediging vir ’n ou digter is kosbaar en beduidend.