Die Griek

  • 3

Dit is nie asof ek doelbewus ’n kettingstorie met die vorige skryfding onder die titel “My eerste keer”, aan die gang wou sit nie, maar na ’n navraag of twee in daardie rigting, het my gedagtes onwillekeurig begin wandel ...

28 Desember 1986, ATKV Goudini-spa, Worcester. 28 grade in die skaduwee en ons afrikanermense lê die rante van die koueswembad vol. Aan die oorkant van die water loer ’n mooi donkerkopmeisie kort-kort hier na waar ek en my nig, Adele, op die handdoeke “tan”. Ek wonder tog of “tan” al ’n aanvaarde alternatiewe Afrikaanse woord is; daar is min tantes wat ek al hoor praat het van “sonbruin” of “tydelike gelaatsverkleuring” of iets dergeliks. ’n Bietjie gym, oefeninge en sport die twee laaste jare van skool, het ongesiens die stokkerige bleeksiel met ’n spier of twee op die regte plekke geklee, en hier aan die einde van my matriekjaar, was dit blykbaar meer van ’n trekpleister as wat ek besef het.

Ieder geval, die skamerigheid het ook meestal bo-toon gevoer en met ’n gesukkel en met meer geluk as wysheid, het ek uiteindelik darem na twee dae uitgevind dat die “girl” se naam Melanie is en hulle kuier hier op Goudini, al die pad van Velddrif af. Dis al; want ons sukkel mos om te praat – ons kyk net.

Die kampeertyd saam met Oom Koeg-hulle was, soos gewoonlik, baie lekker. My ouers sou eers op die namiddag van die Oujaarsdag by ons kom aansluit, min wetende egter, dat hierdie kampkuier op die punt was om lewensveranderende gevolge te hê ...

Teen die middeloggend op 31 Desember het ek en nig weer swembad se kant-toe gestaan. Olie’tjies aangesmeer en in die son gaan lê. My oë het soekend elke kort-kort geloer daar na die hekkie wat vanaf die rondawels af inkom. Maar vanoggend was Melanie nie daar nie. Nodeloos om te sê, maar ek was nogal teleurgesteld want gisteraand het ek tot laatnag ’n aanknopingsgesprek gelê en uitwerk, en as sy nie nou gou so afkom swembad toe nie, dan was die kans goed dat ek die ding gaan vergeet! Later het ek die refrain in my kop laat stil word en met my voete in die water gaan sit. Ek sak af die water in, spoel my koel en lig my net so weer tot op die rant van die dam. Met die sitslag, hoor ek ’n sagte maar vreemde Ingelse stem hier uit die dam ... “the water is devine”. Daarmee, begin ’n gesels en geswem en gesels en gelag en swem en gesels, ................ wat my van elke ander Afrikanermeisie se bestaan in ’n oogwink laat vergeet. Weer was hierdie afrikanerseun oombliklik verlief. Maar, hierdie een het nie vandag ’n trein om te haal nie. Nee, inteendeel, later vat sy my aan die hand rondawel toe en stel my aan haar Griekse pa voor. Sommer met die intrapslag word ek na die Oujaarsdans toe saamgenooi. Gesellige mense, die Grieke.

Net ter wille van die begrip en verstaan, moet ek noem dat as enigste kind en jongman sonder meisie, my ouers daaraan gewoond was dat ek redelik meer as gereeld by die huis is. Ook dat Oujaarsaand, soos enige ander groot vakansiedag, ek by die huis is. Sonder uitsondering ...

Terug by die woonwa, het ek vinnig gaan stort en my beste aangetrek. Net toe ek reg is om vort te wees, net toe, stop die Nissan van die Kaap in Goudini. Moeder was oorstelp om my te sien; sy het haar blou verlang in die week wat ek nie by die huis was nie. Ek daarenteen was bly hulle is veilig hier en moes nou die nuus oordra dat ek vir die aand wou “uitgaan”. Dit was die eerste van ’n paar gevegte wat ek en Moeder daai nag sou hê. Maar, die verliefdheid was soos ’n gespande draad tot by ’n Griekse rondawel aan die ander kant van Goudini, en geen naelstring sou vanaand sterk genoeg wees om hierdie jongman terug te hou nie!

Ons tweetjies het eers besluit om Putt-Putt te gaan speel. Dis so halfpad op teen die heuwel na daarbo waar die musiek in die saal die Oujaarsaandpartytjie begin aanroep het. Die olyfvel skoonheid uit die land van Onassis was geklee in die nuutste Seepunt-uitgaanklere. Wit rompie, visnetkouse om daai pragtige beentjies, handskoene sonder punte en ’n boog in die hare; “to die for”.

Halfpad deur ons gholf, vang my oog die groepie mense wat stadig teen die bult opgestap kom. My mense. Moeder ingesluit en die donderweer op haar gesig raak al hoe donkerder toe sy die Eva-slang-voerder-seuntjie-steler, hier langs my sien. Ek weet nou nog nie waar my moed vandaan gekom het nie, maar toe die geselskap by ons kom, het ek haar kalm voorgestel ... “Belinda, these are my parents and ...” ek kan nie veel meer van die vroegaand onthou nie. Behalwe die een ding ... met die groetslag en my familiegeselskap se wegstap, groet die meisiekind almal vriendelik en veral vir Moeder, met ’n waai van die handskoenhand-sonder-punte en “ciao”. Nie “goodnight” of “buy” soos ons calvyne gewoond is nie; nee, “CIAO!”, soos die diep Kaapse “girls” maar groet.

Die wonderlike soetheid van ons gedeelde nagkus was die laaste soet wat ek 1986 sou proe. Terug by die woonwa het die klomp mense Moeder so opgewerk dat jy weerlig deur die goud in haar tand kon gelei. Moeder was skuins bemoerd. Hoe meer ek verduidelik dat ek tog voor middernag terug was om die wense met die aanbreek van die Nuwejaar te deel, hoe meer het Moeder se kwaadgeit geword. Tot sy by die punt van geen-omdraai verby is en woedend laat los ... “dink sy ek is ’n f@#%@# hond, dat sy vir my moet “CHOW” sê?!!”

Dit was die eerste van vele voormiddag en laatnag gevegte wat ek en Moeder oor die volgende 14 maande sou hê. Eienaardig genoeg, was dit bykans elke keer wat die kar se neus Kampsbaai toe gepunt het, of dat ek dit daarvandaan teruggebring het.

Pa het nie saambaklei nie; hy het soms maar net kom vra of ons nie asseblief wil gaan slaap nie ...

Hennie Fritz

Naskrif: Vir dié wat graag sou wou weet: Melanie het later die dag toe wel opgedaag en selfs haar ma se kwaai kyke, kon haar nie weer my oog laat trek nie. Die griekse meisie het ’n lewensmater uit haar mense gevind en ek ... ek het ware liefde in ’n Afrikaner olyfvel skoonheid gekry.

  • 3

Kommentaar

  • Jou briewe laat my aan my "los op die hoewe" dae dink. Dit is darem die eienaardigste ding en my kop is te plat om dit te verstaan. Hoe werk die vroutjiesmense se koppe. Ek was die jongste in ons gesin. Elke keer wanneer ek 'n dame huistoe gebring het, het my ma my gewoonlik gevra wat my intensies met die meisiekind is. Wanneer sy gedink het die kind is nie "reg" nie het sy dit vir my gesê.  Gewoonlik het die "verhouding" ook nie lank daarna nie skipbreuk gelei. Ek weet nie of dit hul sintuie is of wat nie maar sy was nooit verkeerd nie. Sy het my ook nooit voorgeskryf wie en wat ek mee moet uitgaan nie. Jy het mos die meisies gekry wat jy ma en rugby toe vat. Dan was daar ook hulle wat jy nie in die daglig iewers heen gevat het nie. Dan is daar ook die wat nooit voor by jou in die kar in die "drive inn" gesit het nie, daar was ook die meisietjinners wat jy  net Staatsdrukkers toe gevat het. Ek moet nou na al die jare erken dat my ma al die tyd reg was. Mens is mos maar geneig om nie te luister nie, totdat dit te laat is. Gelukkig was sy darem heel ingenome met my huidige vrou, met wie ek al  amper 28 jare getroud is. 

  • Oulik geskryf! As ma's tog maar net wil ontspan en sake sy natuurlike verloop laat gaan ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top