Dag alle Grensvegters,
Ek het nie aan die grensoorlog deelgeneem nie, aangesien ek seker
heelwat ouer is as julle almal. Tog moes twee van my seuns aan hierdie
sinnelose oorlog deelneem. Boer in Beton se brief het my wel geraak.
Ek wens soms dat die manne wat in daardie situasie was, meer kon deel
aangesien die stilte (selfs van my seuns) poog om hierdie aaklige
geskiedenis onder die mat te vee.
Of Boer in Beton nou 'n bietjie aangedik het of nie, kan ek nie sê
nie. Die verhaal het my geraak. Julle besef nie hoe bekommerd ons as
ouers was oor ons jongmanne wat in hierdie oorlog betrokke was nie.
Julle verstaan blykbaar nie hoe ons as ouers, ons seuns sien terugkom
het met Post-Traumatiese Stres en ander sielkundige probleme juis
jeens daardie oorlog nie. Alle wit Suid-Afrikaners met kinders op
die grens, was pal in 'n staat van paniek. Ons het gewag vir die nuus
om te hoor of een van ons geliefde kinders gesterf het. Dit is vir 'n
ouer die ergste ding om deur te maak.
Ek wil nes Duitswester ook aan die vloek gaan, maar ek wil Duitswester
ook aanspreek oor sy mening dat dit verby is en begrawe moet word. Ek
dink dit is braaf van manne soos Boer in Beton om hulle ervaringe neer
te skryf. Dalk is dit die regte uitlaatklep om anoniem sy ervaringe te
deel. Dit is nie nodig om uit te vaar teen die skrywer wat bloot sy
gedagtes en sy unieke ondervindinge te deel ten einde om sy eie pyn te
heel nie.
Kobus de Klerk se kommentaar is die mees gebalanseerde op die hele
debat, en alhoewel ek glad nie 'n KdK fan is nie, is ek verbaas dat
julle so te velde trek teenoor hom. Ek weet nie of Kobus ook betrokke
was in die oorlog nie, maar hy is honderd persent korrek dat almal se
ervaringe nie dieselfde kon wees nie.
Alhoewel ons as ouers baie bekommerd was oor julle jong manne op die
grens, was daar tog altyd 'n algehele trots en ondersteuning op wat
julle probeer bereik het. Ongeag of die oorlog geregverdig was of nie,
was ons trots op ons troepe.
Hoekom julle nou onderling baklei oor julle verskillende ervaringe en
ander se pyn en hartseer probeer afskiet, gaan my verstand te bowe.
Johan


Kommentaar
Johan
Dag Johan,
my stuiwer lyk so,
Angola het nie "opgegee" nie. Na 'n verandering van regering in Portugal het die nuwe regering besluit om alle kolonies onmiddellik onafhanklik te maak en het dus ook hul soldate onttrek. Die gevolg in Angola en Mosambiek was die onmiddellike ineenstorting van orde en die uitbars van vrye, ongestrafde aanvalle op blankes. Ek het baie van die Angola-vlugtelinge in Suidwes ontmoet.
Al wat vandag nog 'n dun lagie van orde in "Namibia" handhaaf is die reuse bedrae geld wat Duitsland daarin pomp.
Die enorme, onnosele, belaglike, fatale ego-aangedrewe flater wat Suid-Afrika aangejaag het was om die Noordelike grens vanaf Oshivello op die Noordgrens van Etosha verder Noord te skuif. Daardie stukkie idiosie het die Vambo-stamme 'n greep op Suidwes gegee. Dit is die rede hoekom Suidwes vandag 'n Vambo-kolonie is.
Die eerste Vambo het in die 1940's as trekarbeider onder die Suid-Afrikaanse okkupasie-wette se SWANLA Suid van Oshivello gaan werk soek, dit was die begin van die einde. Deur die geheiligde en kortsigtige ekonomiese motiverings van die okkupeerder het hulle vinniger en vinniger ingestroom en teen die tyd dat Suid-Afrika besluit het om sy brouwerk te los en weg te stap was die nuwe kolonialisasie deur en deur voltrek.
'n Koue feit van toepassing hierop net soos op alle ande konfrontasies waar die VVO betrokke was, is dat die redes vir konflik geensins opgelos is nie, die konflik is slegs onderbreek. Dit verseker dat geweld weer sal opvlam, dit verseker dat daar weer oorlog sal wees.
Slegs 'n klein bietjie fokus is nodig om te sien hoe verskil die VVO se storie tussen wit en swart in Afrika en Jood en Arabier in die Midde-Ooste.
Vir beide die Afrikaner en die Jood is daar 'n spesiale gebod, "vertrou op G_d en hou jou buskruit droog"
Wees gegroet
Duitswester