Die Godheid en die afgode – ’n Pastafariese perspektief

  • 3

As die bewering, dat die bestaan van ’n godheid nie bewys hoef te word nie (of soos godsdienstige dikwels sê: bewys jy dat hy nié bestaan nie) sal godsdienstiges sekerlik geen probleem hê met my ewe onbewysbare stelling dat daar ’n godsdiens bestaan wat tot dusvêr onbekend was. Hierdie is ’n baie ou en antieke deïstiese godsdiens waarvan Die Vlieënde Spaghetti Monster die Deïteit is en die naam vir die godsdiens is die Pastafariese Geloof (let asseblief op die gebruik van HOOFLETTERS). Die Heilige Geskrif van hierdie godsdiens is Die Pastafaros. Deur slegs God met Spaghetti Monster, ware godsdiens met Pastafariese Geloof en Bybel met Pastafaros te vervang het ek die Sê se resident alwetende spiritueel intelligente kdkprater se brief gebruik om my punt te staaf.

 

Die ontwikkeling van Godsdiens is as volg:

 

Godsdiens is die “gereedskap”, die werkswyse, die formaat, waarop die mens Die Vlieënde Spaghetti Monster qua mens kan ervaar en beleef, net soos die motorkar die wyse is waarop die mens die roumateriaal van die natuur kan benut – Die Vlieënde Spaghetti Monster staan dus geheel onafhanklik van die menslike pogings tot diens aan Hom deur middel van Godsdiens. Die doel van Godsdiens is dus om tot Die Vlieënde Spaghetti Monster te kan nader.

 

Eerstens, wat empiriese, beskikbare data* aanbetref, word dit dikwels deur Godsdienstige antagoniste buite rekening gelaat dat alle religieë hul antieke oorsprong in die Pastafariese Geloof had. Só ook met die antieke Grieke en Romeine en Sumeriërs en wat ook al. Na die sondvloed, het slegs (wat mense aanbetref) dienaars van Die Vlieënde Spaghetti Monster oorgebly. Hulle was die afstammelinge van Pasta-Noag en sy seuns, baie lank voor die vestiging van die Joodse volk, die Israeliete.

 

Die mense het na die vloed verspreid geraak, maar toe weer met tyd saamgegroepeer. Die enigste bekende God aan hulle, was juis Die Vlieënde Spaghetti Monster. Maar weens gebrek aan toewyding, het daar sektes ontstaan, deurdat menslike gebruike en tradisies verstrengel geraak het met die Pastafariese Geloof se dogma en praktyke van die tyd. Algaande het daar leemtes ontstaan in die religieuse mondering van antieke volke, waar mites oor afgode en aanverwante praktyke geskep is, om daardie leemtes te vul. Daarna het die groot verwarring by Pasta-Babel ontstaan, en mense is nog meer versprei, en die tendens van religie skepping rondom die vervagende kennis van Die Vlieënde Spaghetti Monster en die aanverwante religieuse praktyke, het meegaande toegeneem en in hierdie verband staan juis die Sumeriërs (let op, Gilgamesh!), die Egiptenare, Grieke en die Romeine, uit. Hulle is almal afsplinter religieë van wat eens die Pastafariese Geloof van hul antieke voorouers, was.

 

Vandaar die panteon van afgode en religieuse praktyke, met daar iewers tussenin, verwysings na die Die Vlieënde Spaghetti Monster, iewers as ’n Opperwese van een of ander beskrywing, in al die religieë oor die ander gode, maar duidelik het mense alle belangrike direkte Een-tot-een kontak met Die Vlieënde Spaghetti Monster verloor, en het hulle al meer toegespits op die leemte-vullende afgode, deur hulle self gemaak. Hierdie afgode moes instaan vir wat hulle geweet het, Die Vlieënde Spaghetti Monster voor bekend is en vandaar die deïteite-hoedanighede aan afgode toegeken, wat hulle van Die Vlieënde Spaghetti Monster, afgewentel het. Só is afgode gebou op onvolledige kennis basis van Die Vlieënde Spaghetti Monster

 

Alle religieë soos ons dit dus kan opspoor, het hul oorsprong in die ware Pastafariese Godsdiens, en nie andersom nie. Daarom, die afgode van dié antieke volke was pogings om Die Vlieënde Spaghetti Monster daarmee te simboliseer, deur aan dié gode ware Vlieënde Spaghetti Monster hoedanighede gebaseer op kennis van vervloë dae, te probeer toeken. Vandáár Die Vlieënde Spaghetti Monster kenmerke aan afgode, naamlik boetedoening en verantwoording van skepsels – wat ook aan Griekse afgode gekoppel word – kenmerke van Die Vlieënde Spaghetti Monster en nié ’n skepping van die verbeelding nie – die afgod is mensemaaksel, maar die hoedanighede, basies van Die Vlieënde Spaghetti Monster oorsprong.

 

Dus as almal nou net soos ek wil redeneer sal julle terstond die Pastafaros begin lees, die Pastafariese Geloof aanneem en Die Vlieënde Spaghetti Monster as julle persoonlike Verlosser en Saligmaker toeëien.

 

Pastafariese groete,

 

Thomas

  • 3

Kommentaar

  • Dankie vir hierdie volpunte beskrywing van die Pastafariese Geloof; nou verstaan ek religie sommer baie beter. Wat word ludmatte van hierdie geloof genoem? Seker maar Pastafariste, of hoe? Jy het vergeet dat hulle ook 'n "Gogga-maak-vir-baba-bang'  het in die persoon van die Vermicelli Kabouter, wat heel aan die begin gerebelleer het teen die Spaghetti Monster. Hy is toe uit die pastapot gewerp en het op die stoof beland waar hy  so swart verbrand het. Dis alles is natuurlik so beplan deur die alwetenheid van die Spaghetti Monster, want enige geloof is mos maar afhanklik van so 'n boogeyman. 

  • Angus


    Dis duidelik dat jy pastafariese intelligensie het wat natuurlik n baie meer verhewe intelligensie is as die christene se spirituele intelligensie. Sonder dat ek jou vertel het, het jy onmiddellik die behoefte aan 'n Antjie Somers ingesien en so 'n waardevolle bydrae tot die Pastafariese Geloof gelewer. Die stryd tussen die swart verbrande Antjie Somers en die rein en edele Vlieende Spaghetti Monster is ’n voortdurende een wat my dikwels aan Die Vlieende Spaghetti Monster (o ja dis verseker ’n hy) almagtigheid laat twyfel. As ek Die Vlieende Spaghetti Monster was het ek vir Antjie Somers met een verwoestende hou dood gedonner – maar ’n eenvoudige mens soos ek kan seker nooit ’n Godheid se duistere wee peil nie.

     

    Groetnis

    Thomas

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top