Die God-boek en kwessies daaromheen - Deel 1

  • 0

Ene Francois Verster lewer by wyse van ’n artikel kommentaar oor die kontroversiële boek God, gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, waarin gelowiges soos Fritz Gaum en ongelowiges soos die ateïstiese George Claassen hul uiteenlopende, onversoenbare menings gee.

Een of twee aspekte wat Verster aanraak, verg meer kommentaar.

Verster sê: “Die kwessie van bevraagtekening lê diep genestel in die boesem van hierdie boek. Vir die gelowiges mag dít ’n adder wees dáár, maar vir die Claassens draai die ganse heelal daarom heen: die ‘intellektuele uitgangspunt’ is om vrae te vra. Voeg daarby die ‘filosofiese ingesteldheid’, nl. om jouself bloot te stel om verkeerd bewys te kan word, en jy kyk uit hulle perspektief na die lewe, die oorsprong én einde daarvan. As daar ’n einde is - want hieroor weet ons min, dalk minder as oor ons eie begin, waaroor ons sedert Darwin wel veel meer kennis opgestapel het, maar steeds baie onseker is.”

Dit is so dat dit vanuit ’n geloofsoogpunt geen probleem is om vrae te mag vra, nie – tewens, dit is aan te beveel. Vrae word gevra met die doel om ingelig te word, kennis te bekom en om te leer – daar is dus die gesindheid van objektiwiteit en ontvanklikheid ter sprake wanneer die vraagsteller sy vrae stel. Die Woord moedig dit aan en beskou die gebrek aan kennis, veral omtrent sake Gods, as ’n ernstige bedreiging en word beskou as ’n situasie wat uiteindelik tot die onkundiges se ondergang sal lei (Jesaja 1:3; 5:13; Hosea 4:6).

Maar om wéér vrae te stel wat al in die verlede tot satwordens toe gevra is, én bevredigend en oortuigend beantwoord is, is maar net nie meer deel van die realistiese proses, nie, want verkeerd bewys word daaroor, is óók nie meer ’n opsie, nie. Ek verwys na die sake Gods – verál die kwessie oor God se bestaan – waaroor ’n sogenaamde filosofiese ingesteldheid glad nie meer dienende ’n rol kan speel, nie.

Die Woord maak dit báie duidelik dat indringende kwelvrae oor die bestaan en rol van God al meer as drie duisend jaar gelede gevra én uitgesorteer, is. Die rol van ongeloof (agnostisisme) teenoor geloof, is een van die sentrale temas in die Woord en speel al ’n rol vir meer as vyfduisend jaar, sedert mense hulle dinge begin boekstaaf, het. Agnostici se aanspraak dat hulle kwansuis nou eers vir hulleself begin "dink" en kwansuis tot die gevolgtrekkinge gekom het dat God kamstig nie "bestaan", nie, is dus selfbedrog. Die kwessie is lánk gelede al aangespreek, uitgesorteer en afgemaak. Vandaar dat daar vandag so min agnostici teenoor gelowiges wêreldwyd, is. Trouens, wetenskaplike studies, soos die The Cognition Religion and Theology Project van die Oxford Universiteit, bewys dat die mens ’n natuurlike propensiteit tot Godsdiens en God, het en is maar net bevestiging van wat duisende jare gelede reeds uitgesorteer, is.

Daarom is dit stuitig vir agnostici om weer só vêr terug te val, te regresseer en daardeur te wys dat hulle nie in staat is om voort te beweeg, te progresseer, soos die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking, nie. Daar is dus géén regverdiging meer om die kwessie van sogenaamde "filosofiese ingesteldheid" met betrekking tot die bestaan en funksie van God wéér te wil ophaal, nie. Die progressiewe wêreldbevolking is lankal daarby verby en beweeg voort, op pad na ’n méér dinamiese en noue en hegte verbintenis met God.

Filosofiese ingesteldheid speel egter nog ’n rol by die bloedjong hedendaagse wetenskappe, soos veral natuurwetenskappe wat nog in sy infantiele skoentjies van ontwikkeling staan, en dwalende koers inslaan in enige rigting, soos byvoorbeeld in sy darwinistiese formaat, want dáár is meer leemtes wat met meestal wilde aannames en hipotese gevul poog te word, as kennis.

Maar om dít te wil toepas op die Geesteswetenskappe in verband met sake Gods soos ons, byvoorbeeld, in die Bybel teëkom, is gewoon outyds en totaal uit pas, uit – dit is al duisende jare gelede uitgesorteer. Ek sou reken dat ten minste 90% gelowiges dit is sónder die bystand van enige teoloë. Teoloë, oor die algemeen (daar is altyd uitsonderings) ploeter vir die groot part maar op hulle eie aan en raak self in die proses net meer en meer verward en dra die verwarring oor aan niksvermoedende studente. Kyk maar na hulle akademiese dissertasies om die verwarringe en weersprekinge in aksie te sien. Dit is nou werklik ’n spul waarsonder die wêreldgemeenskap kan klaarkom en nog báie geld ook sal spaar op peperduur leerskole by universiteite. Ek praat nie van teologiese opleidingskole van bona fide kerke nie, ek verwys na die sinnelose spul by die universiteite wat net hul eie agenda dien – want dáár kry jy ateïs en "gelowige" wat skouer aan skouer saam in die klas sit en later hul doktorale dissertasies inhandig by dieselfde promoters en studieleiers en beide vereer word met ’n glansryke doktorsgraad en joppie  met ’n stewige salaris – waar die een God in die klas probeer afmaak as blote mite en die ander God probeer promoveer by dieselfde universiteit in dieselfde teologiese fakulteit. Dit het in ’n onhoudbare sirkus ontaard.

Vervolg …

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top