Wie is Crito? Volgens my voorgangers was Crito die vriend van Sokrates wat wou hê Sokrates moes wegvlug en nie die gif moes drink soos die owerhede vereis het hy moes doen nie. Sokrates se antwoord was dat hy die wette van die land eerbiedig, en sou doen wat van hom verwag is.
Crito was die man wat geglo het mens moet jou lewe voorop stel, en wette verontagsaam as jou lewe daardeur gered kon word.
Volgens Aristoteles word die mens van alle ander spesies onderskei deur ons vermoë om rasioneel te argumenteer. Ons het egter hierdie vermoë deur die eeue heen gebruik om barbaarse dade te rasionaliseer. Om onmenslikheid te rasionaliseer.
Ons is ook die spesie wat in uiteenlopende situasies ons vermoë gebruik om op edele wyse te redeneer. Daar is soveel aanduidings dat hoe meer verfynd ons tegnologiese prestasies is, hoe dieper sink die beskawing in ’n afwaartse spiraal. Moet ons nie eerder optree asof dit nie die geval is nie? Deur rasionele diskoers, oop vir alle moontlike deelnemers? Dit is vir my die belangrikste – daarin lê geestesgesondheid.
Sekerlik kan daar gevra word aan wie Crito aanspreeklik is. Elke keer wat ’n mens ’n mening uitspreek, binne enige diskoers, kan jy alleen verantwoordbaar wees aan jouself. Jou gewete, soos dominee Dorette nou die dag nog gesê het, moet jou lei.
Wat sê my gewete van die kritiek wat ek op resensies lewer? Die antwoord daarop is tweërlei. Ek is besorg oor die gehalte van skryfwerk; ek is besorg oor die vlak waarop daar gepraat en geskryf word oor Afrikaanse boeke. My menings verskyn op ’n platform waar die publiek kan antwoord. Ek antwoord op opmerkings wat na my mening ’n gesprek aan die gang kan sit. Dit is verstommend, eintlik skokkend, hoe min mense wil toetree tot die gesprek, maar wel bereid is om op sosiale platforms beledigings te spu.
Binne ’n raamwerk van die Sokratiese gesprek sou mens seker van Crito kan vra of dit nie gevaarlik is om jou lesers die kans te gee om vrae te vra oor alles wat jy skryf nie? Hoekom sou ek hulle wil keer, sal my antwoord wees. Hoe kan mens ooit ’n volwasse diskoers voer as jy die enigste een is wat praat? Dit kan alleen gevaarlik wees as jy ander verhinder om jou op die vlak van ’n volwasse gesprek te ontmoet. Want dan ontneem jy hulle die kans om vir hulself te dink.
Ek het met die huidige formaat van die blog besluit om te maak soos my kollegas in Pretoria jare gelede by die koerante gedoen het vir hul rolprentgids: Punte uit tien. Ek het geweet dit gaan sommige van die resensente ontstel, maar dat diegene met ware kritiese nous se resensies sou verbeter. Dit is presies wat gebeur het. Maar die ander ideaal wat ek koester, is dat van hulle ’n slag onderaan die blog die gesprek verder sou voer. Dit het nog nie gebeur nie.
Tot verlede week. Ek het ’n resensent aangespreek oor sy taalgebruik, die toon van sy uitlatings, die verbetenheid waarmee hy die boek wou stuit, en die wyse waarop hy die bemarkingsonderdele van die publikasie (omslag, loktekste en so meer) gesien het as deel van bellettrie. Ek het toe nog nie die boek onder bespreking gesien of gelees nie - het nog steeds nie. Dis soos ek dit verkies.
Die opmerkings het ’n stortvloed kommentaar (in Crito-konteks) uitgelok. Vriende het laat weet dat ’n nog groter storm elders op LitNet aan die gang was oor ’n ander (positiewe) resensie van dieselfde boek.
Nog meer dinge het gebeur, op sosiale media, wat snaaks sou wees, was dit nie vir die feit dat dit ’n hele side-show geword het nie. My simpatie aan die getroffene.
Die algemene vlak van die gesprek oor die ander resensie was vir my op ’n uiters teleurstellende peil. As mens die verskillende kwetsende aanvalle ignoreer, is wel heelwat gesê oor ’n wye verskeidenheid literêre sake, en dít sou ’n vertrekpunt kon word vir ’n lang diskussie oor die soort regulasie wat nodig is op die internet, veral wat betref die aanvra van besprekings, en die plasing van unsolicited resensies. Regulering, reglementering, sensuur.
Die soeke na die deugsame lewe was vir Sokrates gegrond op aanspreeklikheid, en op geloof in mense se rasionele vermoë. Vir baie van die mense wat deelgeneem het aan die groot storm oor die positiewe bespreking, bly die rasionele diskoers ’n ideaal wat nog nie heeltemal verwesenlik is nie. Aanspreeklikheid? Nie op die laer vlakke van die gesprek nie; moontlik wel, soos gesê, op sommige van die hoër pieke van diskoers.
As mense iets wil kanoniseer, moet hulle die kans kry om dit te verdedig. Eweneens moet resensente verantwoordiging kan doen vir hul uitsprake, nes kritici op akademiese vlak onderwerp word aan beoordeling deur hul eweknieë. Hekwagters – selfaangestel of verkose – moet verantwoording kan doen vir hul uitsprake. Pogings om sulke gesprekke te smoor, dien nie die literêre saak nie. So eenvoudig soos dit.
Niemand kan gedwing word om toe te tree tot internetgesprekke nie. Vandag, met die verkope van boeke wat afneem en Afrikaans wat op soveel fronte onder beleg is, is dit ’n luukse om te probeer sorg dat Afrikaanse boekresensies ’n volwasse, florerende intellektuele lewe weerspieël. Ek glo daarin, en as ek kan sorg dat Afrikaanse boeke nog op almal se radar bly, sal ek voortgaan daarmee.
Plato het lank probeer om die ondersoekende gesprek te beoefen waarvoor Sokrates gepleit het. Later het hy dit laat vaar, en skryf in Die Republiek dat heersers leuens mag vertel indien daardie leuens sterker bande van identiteit en eenheid tussen lede van ’n samelewing sal skep. Sulke leuens is nie net aanvaarbaar nie, skryf hy, hulle moet ook as “edel” beskou word.
Volgens Plato was een van die argumente wat Crito teenoor Sokrates oor sy komende dood geopper het, dat dit sleg op sy vriende en ondersteuners sou reflekteer as hy die gif drink sonder om in opstand te kom teen ’n onregverdige straf.
Die Crito van vandag stem met die Crito van antieke tye saam. Dit sal baie sleg reflekteer op ons wat boeke koester, as ons nie in gesprek tree, as volwassenes in die Sokratiese sin, oor die manier waarop ons resensente respek betoon vir Afrikaanse boeke nie. Ons kan dié vorm van onregverdigheid nie, soos Sokrates, sonder meer aanvaar nie.


Kommentaar
👍
Jou selfregverdigende relaas is deurspek met skynheiligheid en weersprekings. Jy beroep jou op hoë ideale soos rasionele diskoers en aanspreeklikheid, maar jou eie optrede ondermyn hierdie waardes op elke punt.
Jy praat van die belangrikheid van 'n oop gesprek, maar verwyder dan my vorige kommentaar wat juis die kwessies van jou anonimiteit en gebrek aan deursigtigheid aanspreek. Is dit dan jou idee van 'n volwasse diskoers? Om stemme wat jou kritiseer stil te maak terwyl jy aanhou om van die Sokratiese gesprek te praat? Dit is pure skynheiligheid.
Jy rasionaliseer jou gebruik van 'n skuilnaam deur te sê dat 'n mens slegs aan jouself verantwoordbaar is. Maar hoe kan jy dan van ander kritici verwag om aanspreeklik te wees as jy self agter 'n masker van anonimiteit skuil? Hierdie dubbele standaarde ondermyn jou geloofwaardigheid totaal en al.
Wat meer is, jy spreek glad nie die kwessie aan dat jy moontlik verborge belange en verbintenisse met sekere rolspelers in die bedryf het nie. Is dit dalk die ware rede vir jou anonimiteit? Sodat jy jou mag kan misbruik om hulle te bevoordeel sonder om self verantwoording te doen? Jou stilswye hieroor is veelseggend.
Die hele konsep dat jy jouself as die hekwagter van alle Afrikaanse boekresensies aangestel het, is lagwekkend en bisar. Waar ter wêreld word resensies self geresenseer? Het Afrikaanse lesers dan nie die vermoë om self te besluit oor die meriete van 'n resensie nie? Jou houding is arrogant en neerbuigend.
Jy haal vir Plato aan oor sogenaamde "edel leuens", maar dit is niks meer as 'n gerieflike uitweg om jou eie oneerlikheid te regverdig nie. As jy werklik die waarheid en integriteit van die literêre gesprek op die hart dra, hoekom skuil jy dan agter hierdie rookskerm van halwe waarhede en rasionalisasies?
Nee, Crito, jou woorde oortuig nie. Jou retoriek van rasionele diskoers en aanspreeklikheid word geloënstraf deur jou eie optrede. As jy werklik in hierdie waardes glo, tree dan uit die skadu's. Wys jou ware gelaat, verklaar jou belange en laat jou dade ooreenstem met jou woorde.
Maar tot dan bly jy niks meer as 'n skynheilige despoot nie, 'n anonieme mag wat oor ons letterkundige landskap toring terwyl jy weier om self verantwoording te doen. En dit, Crito, is 'n groter wandaad teen die letterkundige gesprek as enige tekortkoming in 'n boekresensie ooit kan wees.
“Jy′t my reggehelp en gesê, as gevolg van die samelewing is die kuns mos gebonde” – Anton Goosen
Ek dink as sekere van die fasette van die elektroniese aanlyn landskap van die Afrikaanse literatuur beskryf kan word in terme van ‘eienaarskap’ en/of ‘nismark[te]’ dan is dit nie vergesog om te dink dat dit neig na 'n ‘vorm van besigheid’ nie. Die daadwerklike gevolgtrekking is dat as hierdie konsepte bestaan, dan is daar uit die aard van die saak ook “monopolieë” wat dan die diskoers van die rigting waarin die literatuur moet beweeg bepaal en ook die status quo in plek hou.
Die Republiek verduidelik ook dat elke klas moet uitvoering gee aan dit waarin hy opgelei is. Die filosowe is in beheer van die staat. Die soldate het op hulle beurt weer 'n spesifieke rol. Die digters en kunstenaars weer 'n ander rol, én niemand moet met mekaar is ‘pligte’ kom inmeng nie. Die eeu-ou vraag is dus kan iemand soos Donald Trump, wat 'n besigheidsman is, hom dan kom bemoei met die regering van 'n staat? En miskien nader aan die huis, kan die ingenieur en prokureur hulleself bemoei met die gedig wat weghol vir teorieë en filosofieë. Die filosowe in Die Republiek het juis só geargumenteer omdat hulle geglo het dat húlle die beste kandidate is om die staat te beheer. Aristokrasie het in sy suiwerste vorm ten doel dat die staat beheer word deur die kundigste. Die probleem is egter dat 'n oligargie óók maar ʼn korrupte vorm van aristokrasie is.
Reglementering en regulering is seker altyd nodig. Kyk wat het Trump in sy vorige ampstermyn reggekry met deregulering. Skandelik. Maar 'n mens sal hoop dat reglemente van toepassing sal wees op beide ou Riku en ou Tom (ook op vertalers van die hoër- en die laerklas, wat blyk om nie te wees nie) – en dan gevolglik word die leuen, die waarheid – wat dan as “edel” verkondig word, soos jy sê, óf het ek dit verkeerd? Dis dieselfde ou Riku en ou Tom wat so lekker saampraat praat daar by die Kalfiefees. Die vraag bly dus steeds: Is die Dreyer: Haägen Dazs-vers (wat mens van die grond af lig en wil laat sterre tel in 'n heelal waar tyd vir 'n oomblik stilstaan) en die Latti: “satan is ʼn mite”-vers (waarin die konsep van die bundel so vars is dat dit júís die konsep is wat die tyd laat stilstaan) nie uitvloeisels van dieselfde ding nie?
Ek sê: “Weg met Trump!”
Dankie, Crito. Persoonlik hou ek van jou puntetellings. Ek het al goed gescore en ek het al swak gescore. Beide was geregverdig.
Iemand by korrektiewe dienste wat verantwoordelik is vir programme en die biblioteek by 'n gevangenis, nader my gereeld oor raad (en skenking van boeke!). Ek kon daardie skrywe hoe jy punte toeken, vir hom wys, en hy het dit deeglik gebruik om die ouens se boekwaardering-projek te beoordeel.
Ek wil net graag weet waarom daar soveel kriptiese verwysing is? Noem dinge asseblief by die naam. Ek wil nie dié resensie en die ander resensie en gelewerde kwetsende kommentaar gaan soek en wonder of dit nou dié is waaroor die polemiek gaan nie. Vertel ons waarna verwys word, asb.
Hoe pateties. Dit lees soos die laaste stuiptrekkings van 'n uitgediende diktator wat homself probeer regverdig omdat hy weet al die vyande wat hy deur die jare gemaak het staan en wag. Om Sokrates in te sleep en homself te probeer verduidelik binne die konteks van die Griekse filosowe is om voor te gee hy doen hulle werk hier tussen ons. Die punt is hy is nie Crito, Sokrates se vriend nie, hy is 'n trol, wat nou voorgee hy is gesalf om hierdie rol te speel om hom uit sy penarie te probeer praat.
Die skrif is ongelukkig nou aan die muur.
“The moving finger writes; and, having writ, moves on: nor all thy piety nor wit shall lure it back to cancel half a line, nor all thy tears wash out a word of it."
Dis tyd dat al hierdie oor en weer moddergooiery stop. Julle doen niemand 'n guns nie. Die leserspubliek en skrywers het volwasse, doelgerigte diskoers nodig. Magtig, kry 'n datum en boek 'n venue met koekies en tee en begin praat.
Suiwer teoreties is die konsep van resensering van resensies goed, want die standaard van resensies van Afrikaanse boeke is soms verdag en iémand moet dit aan die kaak stel.
My probleem is egter dat Crito erken hy lees nie noodwendig self die boeke waarvan hy resensies kritiseer nie. As dosent in Letterkunde sal my beoordelingstabel tipies baie meer punte toeken vir begrip en evaluering van die betrokke teks as aan die struktuur en beplanning van die bespreking (wat natuurlik ook punte tel). Ek het die afgelope weke gesien dat resensente wat slegs 'n baie beperkte begrip van 'n meerduidige teks tentoongestel het, verbasend hoë punte kry. Dalk omdat hulle by Crito se templaat gehou het. Terwyl verantwoordbare inskatting van die teks en sy literêre waarde tog die doel van 'n resensie is. Ook die omgekeerde het ek bespeur. Geen kritikus kan geloofwaardige kritiek lewer op 'n teks wat hy nie self deeglik bestudeer het nie.
“Memory's truth, because memory has its own special kind. It selects, eliminates, alters, exaggerates, minimizes, glorifies, and vilifies also; but in the end it creates its own reality, its heterogeneous but usually coherent version of events; and no sane human being ever trusts someone else's version more than his own.”
― Salman Rushdie, Midnight’s Children
Wat Hendie sê.
Lank lewe Crito, en vorige Crito’s en volgende Crito’s en skrywers en digters, literatore en resensente met tawwe(r) tone.
Dankie, LitNet, vir die gespreksplatform.
Sokrates aan Krito: "Veral ten opsigte van wat regverdig en onregverdig is en skandelik en adellik en goed en kwaad; dit waaroor ons ondersoekende gesprek juis nou gaan, naamlik of ons liewer die mening van die publiek moet volg en dit moet vrees, of dié van die enkeling, wat 'n kundige is teenoor wie ons meer respek en eerbied moet betoon as al die ander saam? Volg ons sy advies nié, verwoes en benadeel ons die deel van ons wat, soos ons saamgestem het, beter word deur regverdigheid en vernietig word deur onregverdigheid. Of is dit nie so nie?
Krito: Ek veral, glo daaraan, Sokrates."
Plato, Krito: 48c-d.
Herkules, ek onthou die gesprek tussen Sokrates en Krito asof dit gister was. Die volgende oomblik daag Koos op en sê: "Dis tog so eenvoudig, dis jy, alleenlik jy, en die groter sorge gaan vanself verby. Niks om te verhaal nie, net die vrede bly. Niks om te betaal nie, en skielik is jy vry."
Ek, 'n algehele leek op hierdie gebied, het 'n eier te lê.
'n Ruk gelede het ‘n skrywer my hier gevra of ek sy boek gelees het. Ek het nie, omdat die ‘resensie’ eintlik ‘n kort opsomming met ‘kommentaar’ en al oor die inhoud daarvan was. In hierdie geval het die resensent my, ten koste van die skrywer, geld gespaar. Hoeveel boeke word nie verkoop nie as gevolg van resensies en wat van die moerigheid van die skrywers teenoor diesulkes?
Ek het destyds gaan opsoek oor hierdie dinge en ek haal aan:
"Die boekresensent speel 'n belangrike rol in die kommunikasieproses tussen skrywer en leser omdat die resensent 'n eerste of vroeë oordeel oor 'n nuwe werk lewer en sodoende lesers se keuse van leesstof kan beïnvloed. 'n Ondersoek het aangetoon dat lesers bepaalde verwagtinge omtrent die rol van die resensent en ook die struktuur van die resensie het. Dit sluit in dat die resensent moet aandui waaroor die werk handel, interpretasieprobleme uit die weg moet ruim, die waarskynlike lesers van 'n boek moet identifiseer en 'n korrekte en gemotiveerde evaluering moet gee. Daarbenewens verwag resensielesers onder meer dat die resensent objektief en billik moet wees en nuwe werke nie met vooringenome standpunte moet benader nie.
Ten opsigte van die struktuur van die resensie is onder meer die volgende sake van belang: kontekstualisering van die teks onder bespreking, verstandige proporsionering binne die resensie, die minimum aan inhoudelike opsomming en 'n duidelike betoog."
Wat is die doel met die gewigtige resensies? Hoort dit nie in die akademiese lesingsale nie?
Ek lees hierbo van "beroepsresensente" en dit bring beelde op – nie geweet daar is diesulkes nie en dan ook skimpe van regsaksies in dieselfde asem as "inkomste en werk kwyt" wees.
Dat resensente geresenteer word, is, na my beskeie mening, bakgat.
So, aan ene Crito: (weet nie wie hy/sy is nie)
"Ek hou van 'n man wat sy man kan staan;
En 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan"
(JFE Celliers)
In ieder geval, wat is nou eenvoudiger as om in 'n boekwinkel te gaan "browse" en die flapteks van 'n boek waarin jy moontlik sou belangstel, te lees?
As die groter sorge verdwyn, Henning, sal daar nie vrede, vryheid of vriendskap oorbly nie. Vryheid is relasioneel (etimologies verbind aan vriend en vrou). Mens doen juis beroep op gevestigde praktyke en wedersydse erkenning wanneer jy jou as 'kenner' ter bevordering van die letter'kunde' uitlaat.
Ek lag my ’n papie. Die Afrikaanse letterkunde-bende, waar elkeen smaarter as sy maatjie probeer lyk en klink.
Sjoe, die f-alliterasie, Hercules. Soos my dominee altyd sê: Assumption is the mother of all fuck-ups. Dis soos slim vang sy baas. Ook: 'Dit is wat blijft: geloof, hoop en liefde, deze drie, maar de grootste daarvan is de liefde.' Plato sê amper dieselfde.
Ek wil graag 'n gediggie met jou deel:
Fear (by Kahlil Gibran)
It is said that before entering the sea
a river trembles with fear.
She looks back at the path she has traveled,
from the peaks of the mountains,
the long winding road crossing forests and villages.
And in front of her,
she sees an ocean so vast,
that to enter
there seems nothing more than to disappear forever.
But there is no other way.
The river can not go back.
Nobody can go back.
To go back is impossible in existence.
The river needs to take the risk
of entering the ocean
because only then will fear disappear,
because that's where the river will know
it's not about disappearing into the ocean,
but of becoming the ocean.
*This poem is in the public domain.