Die geskenk van geloof

  • 2

Perdebytjie

Wat jy sê in jou kommentaar, is net weer eens bewys daarvan dat God aan elkeen die geskenk van geloof gee. Ek het in vorige artikels gewys op studies wat gedoen is wat bevestig dat mense van nature geneig is tot Godsdiens, byvoorbeeld – ’n hunkering na God.

Onthou, dit is ’n gratis geskenk van God aan Sy skepsels. En, soos met enige geskenk, moet jy dit gebruik vir die doel waarvoor dit aan jou gegee is, anders sal jy dit gewoon verloor.

Maar die kenmerk van geloof wat beoefen word vir die doel waarvoor dit geskenk is, is dat dit sterker word met loutering, beproewing, veral twyfel.

Tóg is daar diegene wat so traak-my-nieagtig is oor dié kosbare geskenk, dat hulle daardie geskenk verloor, die vermoë daartoe verbeur. Die doel van dié geskenk is om deur geloof (nie deur bewyse nie) tot God te nader en Hom op Sy Woord te neem sónder die kennis aangaande die binnewerke daarvan. Dít is die doel en siel van geloof. Soos ’n kind wat haar vader, wie vir haar baie lief is en sy vir hom, se woord neem sonder dat sy die feite daaragter ken. Daarom dat God sê mense moet weer soos kindertjies word.

Diegene wat hul geskenk van geloof verloor, verloor dit weens onbruik, want hulle is nie bereid om te glo nie – hulle vervang geloof met ongeloof. Hulle verwerp die geloofsgeskenk, en vervang dit met die satan se geskenk, dié van ongeloof. Hierdie proses word juis so luisterryk en in detail by wyse van gelykenis (dié van die saaier – Mattheus 13:19-23 – die verwysing daarin na goeie of harde grond, is ’n verwysing na die mens se gesindheid teenoor sy geloofsgeskenk) deur die HERE Self, verduidelik en só sien ons dit sedertdien, selfs vandag nog, gebeur – jy self is ’n voorbeeld daarvan.

’n Mens wat die geskenk geloof met blydskap aanneem, maar dit verloor wanneer dit beproef word, is iemand wat nie bereid is om sy geskenk van geloof te oefen nie en ook nie om sy geskenk van geloof op te pas van dié wat dit van hom wil wegneem (die satan) nie – dit wil sê, een wat net maanskyn en rose verwag (hoe onnatuurlik en onmenslik dom). Is jy só iemand? Volgens wat jy sê, wel.

Dus, die rede waar om jy vandag nie glo nie, is weens afvalligheid wat in ongeloof manifesteer. Jy, soos ’n paar ander, het eenvoudig nie julle geskenk gebruik, vir die doel waarvoor dit in die eerste plek aan julle gegee is, nie.

Ek sê dit maar weer – mense wat hulle geskenk van geloof gebruik vir die doel waarvoor dit in die eerste plek aan julle gegee is, se geloof word ál sterker en sterker met beproewinge, loutering en verál twyfel. Daar is nie ’n standvastige gelowige, wie nie in sy/haar geloof ernstig gelouter en getoets is, of aan indringende twyfel onderwerp is nie. Maar ons geloof word daardeur al sterker, omdat ons ’n persoonlike verhouding met God, die HERE, het (die resultaat van behoorlike gebruik van die geskenk van geloof) en tot die HERE nader, Wie dan sonder uitsondering, vir ons uitkoms en klaarheid gee – en só net weereens Sy goedertierenheid, barmhartigheid, genade en trou aan ons demonstreer – want ons het weggespring om werklik en eenvoudig soos kindertjies te blý glo, sonder bewyse en spirituele versekeringspolisse, net op Sy Woord alleen. Daarna is ons beloon met Kennis, Insig en Sy teenwoordigheid by ons – want Hy maak Spiritueel by ons woning.

Hoe sal jy ooit verstaan wat ek vir jou probeer vertel, in jou huidige toestand? Hoe oortuig jy ’n self-geïnduseerde blinde oor die kleure van die reënboog as sy dit opsluit self wil sien voor sy dit sal glo? Die kleure van die reënboog is stééds daar, maar die blinde sien dit eenvoudig nie, gaan daaraan mank.

Daarom is dit nie waar dat jy óóit soos ’n kind geglo het nie, want dan sou jy die HERE vandag ken. Talk is cheap… The proof of the pudding… onthou dit.

Dus het geloof absoluut níks met Nicea te make nie – dieselfde Lewende HERE oortuig ons vandag steeds van die Waarheid van Sy opgetekende Woord. Moenie in die Bybelboek probeer glo nie, glo in die HERE van die Bybel.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir jou goeie raad en besorgdheid Kobus. Jy se geloof is soos 'n geskenk, maar ek het nou nog nie eers die papier gesien waarin dit toegedraai is nie!

    Ek het jare lank probeer om die geskenk behoorlik te gebruik maar ek is jammer, my logika spreek tot my dat Satan, engele, pratende slange, opstandings uit die dood, geeste, voorvadergeeste en tokkelossies geen verskil het nie, behalwe die kultuurgroep waaruit hierdie mites ontstaan het.

    Gelukkig het ek nog nooit maanskyn en rose verwag nie, want die lewe is nie 'n plek van maanskyn en rose nie en of daar nou 'n persoonlike god is of nie, tref sal die lewe enige mens een of ander tyd tref!

    Al verskil is dat ek beter verstaan dis maar hoe die lewe is as iemand wat probeer antwoorde vind hoekom sy persoonlike liefdevolle vader hom so beproef en in die steek gelaat het ... dus 'n dubbele las!

    Ek lees ook nou weer al die gekarring rondom die Belhar-belydenis en oud-genl van der Merwe en slaak 'n sug van verligting dat ek my nie hoef te vermoei met sulke twak nie!

  • Kobus de Klerk

    Perdebytjie,

    Ek dink jy moet ingedagte hou dat jou logika beperk is tot jou ervaringsveld, soos dit dan mos maar is met enige mens – buiten dit, sal dinge skaars vir jou sin maak, verál as jy nie eens weet dat dit bestaan nie. Dit behoort ook vir jou logies te wees, of hoe?

    En dan behoort jou logika ook vir jou te dien sodat jy besef dat mense soos ek en biljoene ander soos ek, se ervaringsveld omtrent die presiese dinge waaromtrent jóú logika jou in die staak laat, juis verder strek as joue, én dat dit is as gevolg van ons ervaringsveld, wat dan noodwendige veel wyer is as joue. Dit sal dan ook vir jou wys wees, meen ek jy sal toegee, om nie ons ervaringsveld as nie-bestaande te wil afmaak nie, al strek joue nie so vêr nie.

    Jy is reg, die lewe takel ons almal toe. Maar jy is nié reg waar jy spekuleer oor die ervaring van gelowiges in daardie verband nie. Om een of ander rede het jy nie die geskenkpapier gesien vir ’n geskenk wat ook vir jou gegee is nie. Daar is ’n goeie rede voor – daar ís nie geskenkpapier nie – jy het die geskenk, nes ons ander, reeds in jou siel ontvang en moes dit gebruik, dis al … maar lyk my, op wat jy self sê, het jy toe elders gaan soek daarna – dus, dit wat jy reeds in jou sielshande vasgehou het, maar nie dit geag het vir wat dit is nie, die geloofsgeskenk, het jy neergesit om te gaan soek op ’n plek waar jy nie sou vind nie, want dít waarna jy soek, het jy reeds gehad, maar omdat dit nie verpak was in Technicolor geskenkpapier nie, het jy dit nie geag vir die onopgesmukte kosbaarheid wat dit is, nie.

    Dalk voel jý die liefdevolle Vader het jóú in die steek gelaat, maar ons gelowiges weet dat die Vader ons nóóit in die steek laat nie. Daar is jou aanname, gebaseer op jou eie uitgangspunt, dus nie billik en reg, nie.

    Die vraag is of jy bereid sou wees om terug te gaan na waar jy jou geskenk neergesit het, dit op te neem en vandaar te hervat … ál wat dit verg en dit is geheel en al gratis, is ’n sielsreis na die dag voor die begin van jou agnostisiteit en jou geloofsgeskenk dáár gaan optel. Maar as jy nie bereid is daartoe nie, dan weet jy en ons, dat jy nie werklik onbewus was van jou geskenk nie, maar net nie daarin belang gestel het, nie, omdat dit nie verpak is in die oppervlakkige parafernalia wat jou sou aantrek, nie … sonder om die diepe kosbaarheid daarvan te gaan ontgin, deur die gebruik daarvan, nie.

    Want dít verseker ek jou – enigeen wat wél sy geloofsgeskenk gebruik en dit beleef, sál dit nie verruil vir enigiets nie…

    Groete,
    Kobus de Klerk  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top