Thomas plaas, volgens wat hy te kenne gee, ’n artikel van Dr Jurie Van Den Heever van Stellenbosch universiteit oor evolusie (Darwin-styl). Daar word geen skakel aangebied vanwaar die artikel te vinde is nie (’n ou ding van Thomas) en mens weet dus nie of die bewoording dié van Van Den Heever is, of dié van Thomas, nie. Daar is kenmerkende Thomas-styl daarin (veral die karakter skendings). Tewens, na ek dit gelees het, het ek vir Van Den Heever se part gehoop dat dit Thomas se gebruiklike versinsels is, maar, vir die argument moet ons aanneem dat dit wel Van Den Heever se handewerk, is.
Die teleurstelling aangaande die inhoud is neerdrukkend groot. Toe ek die naam en die opskrif sien, het ek uitgesien na pitkos materiaal van ’n kundige wat die aansprake van kreasionistiese en ander dolerende wetenskaplikes se kritiek die hoof sou probeer bied. Maar helaas, die beste van die evolusie ghoeroe van Stellenbosch is net so niksseggend soos dié van sy leke dissipels hier op die forum.
Die artikel self is 490 woorde lank, waarin hy die mees basiese darwinistiese evolusionêre hipotese probeer uiteensit onder die aanmatigende vaandel van “bewese” wetenskap.
Maar as deel van die 490-woord artikel, wy hy nie minder nie, as 265 woorde, of ongeveer 52%, aan die afkraking, belediging en karakterskending van drie mense/kreasioniste wat dit waag om darwinistiese evolusionisme te weerspreek – in slegs een geval is dit aktueel of onderwerp verwant (die vals spore) – Tog, van ’n gerekende akademikus sou mens dan die objektiwiteit verwag om ten minste die aandag te trek op soortgelyke optrede en skandale onder sy sibbe, byvoorbeeld die beweerde gevalle van J.D. Whitney (vals Plioseentydvak man); die Piltdown man skandaal; die Vishwa Jit Gupta geval; die berugte “Piltdown Chicken Fossil” waar darwinistiese spreekbuis, National Geographic Society, na bewering in Oktober 1999 beweer het dat hulle in Noord Sjina ’n 125 miljoen jaar oue vermiste skakel hoender sou vind en ’n dekade lank mense so aan die neus gelei het, maar later is dit bevind dat dit ’n vervalsing is; ens.Groot is die teleurstelling oor die verswyging van die soortgelyke skandale van sy sibbe.
Ten aansien van die ander twee persone, waarop Van Den Heever meer uitborduur, is die aanvalle absoluut persoonlik van aard en het met die betrokkenes se hantering van die onderwerp, of die betroubaarheid van hulle bevindings of sienswyses oor die onderwerp, hoegenaamd niks te make, nie en spreek dus van venynige vooroordeel. ’n Gemeenskaplike faktor tussen die drie slagoffers van Van Den Heever, is dat hulle al drie gelowiges is. Selfs blykbaar Hovind. Maar die versweë bedrog of wanvoorstellings van sy sibbe, wat
Van Den Heever nié noem langs dié van die gelowiges nie, is van nie-gelowiges en vermeende evolusioniste afkomstig en daarom verswyg deur hom?
Dit is ook ironies dat Van Den Heever Pelser daarvan sou beskuldig, dat dié se hantering van evolusie en darwinisme “oppervlakkig” is, maar sy eie, wat onder die hand van Thomas uitgegee is hier, is so oppervlakkig en aanmatigend as wat ek lanklaas teëgekom het. Veral daardie aansprake van “onteenseglike bewys” paradoksaal teenoor die religie-agtige en spekulatiewe “evolusie voorspel dat ...” net in die volgende asem en só ontvou ’n kort spel van begrippe en aanmatigende aansprake in ’n oorvloedige maar niksseggende sarsie woorde.
Al waaroor Van Den Heever letterlik ’n paar woorde rep, is die fossielrekord. Maar wat hy nie besef nie, is dat sy op- en aanmerkings, hoe karig ook al, meer in die skoot van die kreasioniste val, as dié van die darwinisme. As hy wil beweer darwinisme staan vir hortende kolle van soorte wat skielik kom en gaan en plek maak vir nuwes, sónder die aaneenlopende ketting van ontwikkeling van een soort na ’n ander, wat te verwagte is, waar ’n ander spesie al begin ontwikkel uit ’n verskillende voorouer spesie, vóór die voorouer spesie of ander spesie skielik uitsterf – en die paleontologiese rekord van fossiele daardie tendens moet aantoon voordat die hipotese enige hoop op bevestiging het – is hy óf nie meer ’n darwinis nie, óf hy ken nie sy vakgebied, nie.
Die keuse is syne, óf hy moet homself meer bekwaam uitdruk.
Ek het lanklaas só ’n verwaande, arrogante en insiglose stuk skryfwerk van professionele akademikus teëgekom. Vergelyk hom nou met Michael Ruse. Kyk na dié se professionaliteit, sy volwasse hantering van opponerende menings – sy akademiese wysheid. Van Den Heever (indien dit werklik sy artikel is) steek geweldig af – daar is ’n venyn, ’n kleinlikheid wat mens bemerk by hom, met dié dat hy ander se persoonlike integriteit so aantas sonder dat dit vakgerigte relevansie sou hê.
Die artikel is teleurstellend en onaanvaarbaar.
Groete,Kobus de Klerk


Kommentaar
Die skakel vir dr Jurie van den Heever se skrywe is: http://www.kletskerk.co.za/articles.php?article_id=91&page=archive. Ek het dit per ongeluk afgesny in my oorspronklike skrywe.
Ek het nie van jou iets beter as juis sulke kommentaar verwag nie, Thomas. As jy tot beter in staat was, sou jy in die eerste plek nie die snert geplaas het nie en sou jy ook 'n gelowige wees.
As jy wil voorgee dat daardie die standaard is van Van Den Heever, dan is hy straks geleerd, ja, want hy het eenogige boekekennis, maar van intellektualiteit is daar geen sprake nie. Nes die geval by jou. Vir jou is boekekennis sinoniem met intellektualiteit.
Maar dit is wat mens van jou klas sal verwag.
Werklike intellektuele mense weet dat dit verstandelikheid, dit wil sê, flink denkvermoë en wyse insig en spiritualiteit (geestelikheid) in gelyke mate verg en behels.
Maar jy sal nie begryp nie, want jy het nie een nie, en volgens jou, smaak dit my , meen jy dan Van Den Heever het dit ook nie - ek hoop jy is verkeerd.
Ek ken hom net van sy Sondag oggende op RSG, maar ek hoop vir sy part daardie snert van hom wat jy geplaas het, was maar 'n glips in 'n driftige oomblik.
Kobus de Klerk
Kobus
Jy praat nie die waarheid nie. Ek kan jou die voorbeeld toon van Archaeoraptor, wat jy noem "Piltdown chicken fossil".
Daar is oor die fossiel berig in National Geographic, 'n Tydskrif.
National Geographic is nie 'n wetenskaplike joernaal nie en het daaroor berig voordat enige regte wetenskaplike die fossiel bestudeer het. Dit het wetenskaplikes se aandag getrek, want daai fossiel het nerens ingepas nie.
Dit was 'n saamgeflansde fossiel van 'n Sjinese fossielverkoper wat probeer het om geld te maak
En raai wat? Dit was toe regte wetenskaplikes wat getoon het dat Archaeoraptor 'n "fake" was, want dit pas nie in by die Teorie van Evolusie nie. Wetenskaplikes het dit agtegekom, nie kreasioniste nie! So, Kobus, jy weet, as jy nie die waarheid praat nie, word jy uitgevang. Deur kenners op die gebied waaroor jy onwaarhede vertel!
Kleinkoos
Kleinkoos,
Jy is onkundig en insigloos en jý is uiteindelik die ‘leuenaar’. Maar, te oordeel aan die komplimente wat Wouter jou jis mee lek, is jy so reg in sy kraal ...
Jy het klaarblyklik ook ‘n probleem met Afrikaans – ek het juis uitgewys dat die Piltdown chicken ‘n vervalsing is! Wat makeer jou? Maar hou so aan, Wouter is mál oor jou, net só ...
Vir jou inligting - National Geographic is ‘n mondstuk vir darwinisme. Hulle het die inligting oor die Piltdown Chicken (só genoem oor die Piltdown Man skandaal, óók uit Sjina) vir 'n dekade lank as fonds voorgehou – juis omdat dit ‘n sogenaamde “oorgangsfossiel” was, vir ‘n dekade lank! Hulle had geen keuse as om ‘n herroeping te publiseer nie, want die kreasionistiese wetenskaplikes wou die ding ondersoek.
Dit is 'n evolusionistiese 'wetenskaplike' in Sjina wat die ding aanvanklik geklassifiseer het.
Die punt wat ek ook daarmee hierbo maak, is ook dít – waarom het Van Den Heever nie daarvan ook melding gemaak, toe hy die ander kwaksalwer so gekasty het, nie? Dit dui op die vieslike akademiese vooroordeel.
Kobus de Klerk
Professor Xu Xing, paleontoloog vir gewerweldes (nes Van Den Heever) van die Chinese Academy of Sciences, in Beijing, het, volgens National Geographic, self aanvanklik die sogenaamde archaeoraptor ondersoek en geklassifiseer, maar ’n dekade later ’n verslag uitgebring dat dit ’n vervalsing is, nadat ander wetenskaplikes, onder meer, kreasioniste, aangedring het op toetsdata. Daarna is ’n “catscan” gedoen en dieselfde Xu Xing het toe die kat, of is dit die raptor, of is dit nou die voël, uit die sak gelaat – hierdie keer sonder stert, natuurlik.
Sommige evolusioniste het beswaar gemaak teen die fossiel, maar ander het dit probeer promoveer. Daar is ook die publikasie Nature, nes National Geographic en ook ’n spreekbuis vir evolusioniste, wat aandring op voël na raptor oorgang. Dus, jou poging om die evolusionistiese wetenskaplikes te probeer skoonwas, is oneerlik. Die besware het ingekom van sommige (nie almal) van hulle, toe die druk begin toeneem het, omtrent tien jaar later, eers.
Kobus de Klerk
Hallo Kobus
'n Dekade, Kobus? Hoe kan dit wees? Die vervalsing kom uit 1997, was in privaatbesit en ‘n artikel daaroor in National Geographic het in Oktober 1999 verskyn. ‘n Brief van Xu Xing, wat dui dat daar iets verkeerd is met die fossiel, verskyn in die Maart 2000 en in die Oktober 2000 uitgawe skryf die joernalis Lewis Simmons dat die fossiel vervals was. Waar kom jy aan 10 jaar?
Verder, die joernaal Nature wou nie ‘n eweknie-gepublisserde artikel oor die fossiel plaas nie; so ook nie die joernaal Science nie. Dit was al voor die publikasie in National Geographic!
Verder, Piltdown Man het nie uit Sjina gekom nie, Kobus. Dit het na bewering gekom van 'n gruisgroef by Piltdown, East Sussex, Engeland
Ons kan almal Google, Kobus. Jy moet versigtig wees. Onwaarhede word gou uitgewys.
Kleinkoos
My verskoning, Kleinkoos. Jy is reg oor die plek en die datums. Ek het oor n klomp ander vervalsings uit Sjina gelees, en nie weer die datums gekorreleer voor ek jou geantwoord het, nie. My fout, dus.
Die res van die feite staan, egter, en dit is skandelike optrede van die evolusioniste.
Jy moet jou feite oor Nature ook nagaan - en behoorlik lees wat ek skrywe. Nature is ook 'n publikasie wat voël na raptor oorgang voorstaan, nes NG. Ek het nie te kenne gegee dat dti dieselfde vervalsing is, nie.
Kobus de Klerk.
Waar was daar skandalige optrede deur evolusioniste? Gerekende publikasies het nie die vervalsing aanvaar nie en die een wat het, het, toe dit as 'n vervalsing deur 'n evolusionis uitgewys is, erken hulle het 'n fout gemaak.
Die geval dui eerder hoe wetenskap self korrigerend is en dat vervalsings raakgesien, uitgewys en afgekeur word.
Toe nou, Stephan, ek dink nie jy moet jou onkundig hou nie. Dieselfde evolusionis wat die klassifikasie vir NG in die eerste plek gedoen het, moes later onder druk swig en erken dat dit 'n vervalsing is. Daar is mense wat op toetsresultate aangedring het.
Dan is daar Piltdown man, en verskeie ander, ook. Kom nou. Vir bykans 'n eeu het die mense met verskeie vorme van wanvoorstelling en bedrog weggekom. Moenie jou onkundig hou nie. Die enigste rede waarom sommige wetenskaplikes nie kans sien om daarmee voort te gaan nie, is omdat die voordeel daarvan nie verder benut kan word nie, veral die afgelope 5-6 jaar - kreasioniste hou die spul baie fyn dop. Voor dit, het die mense met wetenskapmoord weggekom.
'n Goeie voorbeeld, is ambulocetus. Kleinkoos het juis onwetend 'n hele blik wurms daar oopgekrap menende seker ander sal nie agterkom, nie. Maar daar is natuurlik ander, ook.
Kobus de Klerk