Die Genesis-oomblik

  • 2

Verlede week was ’n stampvol week met verskeie vergaderings in Johannesburg.  Toe vra ek myself af, waarom word daar nog na Jozi as die Goudstad of Egoli verwys.

Terwyl ons neffens Malibongwe-weg by ’n MacDonalds stilhou vir koffie, is die Wes-Rand in digte mis gehul. Van Ferndale se kant sien jy doer in die verte iets uitsteek. Is dit dalk die laaste mynhoop in die geweste. Nee!

Met skok besef jy dat dit die Dome is – een van die geboue wat  in Johannesburg se tweede eeu gebou is. Die stad is in 1886 gestig. In 1986 het stadsvaders ewe deftig die mylpaal van een eeu gedenk. Dit was ’n jaar lange affêre. Van etes by die burgersentrum tot uitstallings op die 50ste verdieping van die Carlton-sentrum.

Die Carlton – wat die trots van die Oppenheimers was behoort nou aan Transnet wat om politieke redes uit die destydse SA Vervoerdienste gespeen is.

Die destydse voorsitter van die bestuurskomitee Obie Oberholzer, was veral beïndruk met die stad se geskiedenis wat verbind was met die vorige eeu se goud-stormloop. Die uitlander George Harrison is as held gesien – ondanks die feit dat Oom Paul waarskynlik sy bas sou skop.

Sappe en Natte was verheug. Tot die stiefkinders van apartheid het ’n hap van die geskiedkundige oomblik gekry.

Riverlea-uitbreiding, ook bekend as Zombi, of Extension – het  ’n Genesis-oomblik beleef. Elektrisiteit is na jare se baklei uiteindelik aan die buurt verskaf. Dit sou die bruin bestuurskomiteelid Ralph Peffer waarskynlik met ’n glimlag gelaat het.

Extension is die naaste voorstad an NASREK en FNB-stadion. Tog word die twee ikoniese sentrums as deel van Soweto beskryf. Kry julle my drift?

Oorkant die spoor – waar Riverlea geleë is – is koolstofies wat vir verwarming gebruik is met geysers vervang. Johannesburg se eeufees het moderniteit gebring.

Ek onthou die ou mynhoop waar ons tydens die vakansie sou gaan speel. As jy nou op die N1 ry en verby Riverlea ry is daardie mynhoop nie meer daar nie. Een van die oues – aan die Soweto-kant – gaan ook nie lank oorleef nie.

Maar gaan nou na bo in die Carlton. Daar waar eens mynhope gestaan het is dit naak ... kaal. Op sekere plekke is daar nuwe ontwikkelinge, veral meenthuise.

Indien jy iets wil sien oor die stad se goud-geskiedenis, is Gold Reef City vir jou beskore. Die demonstrasie en mynstorie klink ietwat leeg.

Vir geslagte wat voorlê gaan die vraag wees ... So what?

Jozi is beslis nie meer ’n Goudstad nie. Dit is meer ’n stad wat in vier verdeel kan word – handelswese, informele handel, kleinhandel en banksake. En die grap is dat die goot geld en maatskappye noord uit Jozi getrek het.

Terwyl God in Genesis  vers 3 beveel het dat daar lig moet wees, verdof die Goudstad se glans.

 Daar is nie meer goud nie.

 

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Johannesburg stink, veral as mens deur Hillbrow moet ry ... Die middestad is 'n vreemde vuil plek.
    Waar van die buitelanders intrek, word plekke krot en agterbuurte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top